top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


WEEK 5 – RESPEK VIR MY NABY-MENSE (5) – RESPEK VAN DIE VROU VIR HAAR MAN.


1 Pet. 3:1-2 – “Vrouens, julle moet aan julle mans onderdanig wees. As daar van julle is met mans wat nie die woord van God glo nie, en die mans sien hoe godvresend julle is en hoe voorbeeldig julle julle gedra, sal hulle vir Christus gewen kan word deur die gedrag van hulle vrouens. Dit sal nie eens vir julle nodig wees om ‘n woord te sê nie.”


Vergelyk ook Gen. 2:18 – “Verder het die Here God gesê: ‘Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke."


Die vrou is deur God geskep om die man se helper te wees. Die vrou is die man se “gelyke” daarom kan sy uit God se hand dan ook haar eie lewe, eie aard en eie liggaam aanvaar. Sy is die unieke persoon wat uit Christus se verlossing dieselfde genade ontvang het wat die man ontvang het. Dit gee aan haar, haar eie selfstandigheid en is sy self ook verantwoordelik voor die Here. Sy het ook gawes van die Here ontvang en daarom moet mans vanuit die liefde van God dit so respekteer.


Die moederskap gee die vrou die groot taak van versorging. Sy bou die meeste die huis. Sonder haar samewerking gaan die man maar sukkel – daarom “sal 'n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word.” Die huwelik tussen man en vrou is vandag steeds die mees aanvaarbare verwantskap in die samelewing. Daar word baie hoë verwagtings aan die vrou gestel - sy moet meer kan gee as die man nie baie wil gee nie. Hoe harder hy bedags werk, hoe moeër hy saans tuis kom, hoe groter is die onus wat op haar geplaas word om hom gelukkig te hou. (Wonder wat gebeur as sy ook werk?) Sy moet beskikbaar wees, 'n stille hawe, 'n uitgeruste minnares, 'n wonderlike gasvrou met bakke vol kos, 'n goeie ma, planmaker, “dokter,” “sielkundige” en 'n goeie geselser. Sy is die gesin se kos, die man se ekstra kombers wanneer hy koud kry – “as twee langs mekaar slaap, word hulle warm, maar hoe sal een wat alleen is, warm word?” (Pred. 4:11). Sy is die een by wie manlief wil wees wanneer die lewe hom laat huil. Hy wil nie deur sy vrou gevorm word nie, kyk eerder hoe die vorm lyk wat jy op hom afdruk.


God het immers die huwelik ingestel. Hy het ons in die huwelik bevestig, en aan man en vrou elkeen eintlik maar net een opdrag gegee om in die huwelik na te kom. Vir die vrou was dit om onderdanig te wees aan hul mans en aan die mans om hulle vrouens lief te hê – maklik né! Is hierdie woorde nie lank reeds uitgedien nie? Word ons met so'n opdrag nie weer terugverplaas na die tyd van ons oupas en oumas nie? Het 'n vrou dan nie gawes sodat sy op haar eie kan staan nie en moet sy nie aangemoedig word om haar gawes te gebruik en te ontwikkel nie? Vrouens is ook waardig, hulle is nie maar net goeters nie.


‘n Man het hulp nodig, en sy vrou is die een wat daardie hulp aan hom kan gee. Daar word niks vernederends bedoel met die benaming helper nie. Vrouens help hulle mans deur sorg te dra vir hulle huishoudings en hulle te respekteer as die hoof van die huis. 'n Gelowige vrou wat helper is soos die Here bedoel het, se man sal haar vertrou en weet dat hy niks sal kortkom nie. Hy weet ook dat sy vir hom en sy huis nooit skade sal bring nie. 'n Vrou wat helper is van haar man, word deur haar man bewonder en haar kinders prys haar. Om sy helper te wees is ‘n daad van geloof; dit is'n daad van gehoorsaamheid, gehoorsaamheid aan God. Jy leef dan jou geloof in God uit in jou verhouding met die man met wie jy getroud is.


“‘n Knap vrou is baie werd, baie meer as edelstene. Haar man steun op haar en pluk die vrugte van haar werk. Sy bring vir hom net voordeel, nie nadeel nie, haar hele lewe lank. Sy maak wol en vlas bymekaar en geniet dit om dit te verwerk. Sy bring kos van ver af in. Sy staan op as dit nog nag is en maak kos vir haar huisgesin. Sy pak die werk aan met krag, haar hande staan vir niks verkeerd nie. Alles van haar spreek van ‘n sterk en edel persoonlikheid. As sy praat, is dit met wysheid; as sy leiding gee, is dit met liefde. Sy hou goeie toesig oor haar huishouding. Uiterlike skoonheid hou nie, ‘n mooi voorkoms is nie alles nie; as sy die Here dien, dán verdien ‘n vrou om geprys te word” (Spr. 31:10-31).


“God kon nie orals wees nie toe maak Hy ‘n vrou vir haar man as hulp wat terselfdertyd ‘n ma vir haar kinders is” (Joodse spreekwoord).


Gebed: Here, dankie dat U my gesag gegee het om vir my man te kan bid. Ek bid dat U ons gedurig sal herinner hoekom ons getroud is. Ek bid dat hy tot U verbind sal bly, dat sy verbintenis tot my nie sal wankel nie, al woed watter soort storms ook. Ek bid dat ons liefde vir mekaar elke dag sterker sal word. Ek bid dat U hom van negatiewe emosies sal bevry. Ek bid dat U sy voetstappe sal rig om meer van U te leer en aan te hou om in U waarheid en op U weg te bly wandel. Vul hom met die kennis van U wil, sodat hy goeie vrugte sal dra. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page