top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


WEEK 5 – RESPEK VIR MY NABY-MENSE (2) – RESPEK VAN OUERS VIR KINDERS


Ps. 19:8-9 – “Die woord van die Here is volmaak: dit gee lewe. Die onderwysing van die Here is betroubaar: dit gee wysheid aan dié wat nog onervare is. Die bevele van die Here dui die regte koers aan: dit bring blydskap. Die gebod van die Here is helder: dit gee insig.”


Vergelyk ook Spr. 23:15 – “My seun (en dogter), as jy ‘n wyse mens word, sal dit my baie vreugde verskaf. Ek sal juig as wat jy sê, altyd reg is.”


Om ‘n ouer te wees, is genade van God. Dit is ‘n voorreg om verantwoordelik te wees vir die welsyn, sorg en ordelike lewe van kinders. Die heel eerste opdrag wat God aan die man en vrou gegee het direk nadat Hy hulle geseën het was: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit” (Gen. 1:28a). Gesinsvorming is ‘n uiters verantwoordelike roeping van ouers. Kinders is ‘n seën van die Here en ouers moet hulle met die hulp van God laat opgroei sodat hulle tot eer van God kan leef.


Die verhouding tussen ouers en kinders word gekenmerk deur liefde en tug. Ouers wat hul kinders liefhet sal hulle gesag reg uitoefen deur dissipline en tug. Liefde sonder dissipline en tug lei tot bandeloosheid en elke ouer se diepste drome is om “volmaakte” kinders te hê. Ongelukkig is niemand volmaak nie. Almal is vol foute en tekortkominge en selfs die beste pogings om ‘n kind blink te poets, aan te moedig, forseer, omkoop of ompraat, gaan nie altyd die resultate lewer wat ‘n ouer verwag het nie. Wat gewoonlik gebeur is dat die ouer sý “onvolmaaktheid” wil verbeter en dit wat die ouer nie kon vermag het nie, op hul kinders wil oordra en hulle in super-wesens wil verander.


Hoekom het ons hierdie strewe na volmaaktheid, na ‘n ere plek? Daar is baie ouers wat in hul soeke na ereplekke vir hul kinders selfs tot die uiterste sal gaan, soos byvoorbeeld die moeder van Jakobus en Johannes. Sy het vir Jesus gevra dat Hy haar moes belowe dat haar twee seuns die ereplekke sal beklee in Sy koninkryk, een aan Sy linker- en die ander aan Sy regterhand (Matt. 20:21). Sy het haar seuns se eie gevoelens nie gerespekteer nie, maar haar idees van sukses en beloning probeer afdwing op die Here. Baie ouers wil só graag hulle kinders vorm tot “konings” van hul eie aardse koninkryke terwyl dit elke ouer se eintlike plig is om te sorg dat hulle kinders by God uitkom, dat hulle hemel toe gaan.


Hoe gaan ek dit regkry? Hoe verseker ek my kinders se beloning by die Here? Hoe verseker ek my kind gaan hemel toe? Elkeen is tog sélf verantwoordelik om te verseker dat sy eindbestemming die hemel is. Indien ek my kinders se “volmaaktheid” wil respekteer, moet ek as ouer sélf seker maak om die Here te verheerlik en naby Hom te wees en om vanuit Sy woord te leef want ”die woord van die Here is volmaak: dit gee lewe!” Maak jou eie saak met God reg. Ondersoek jouself en gaan op jou knieë en bid dat God jou genadig sal wees en bely dat jy nooit jou roeping sal kan verwesenlik vanuit jou eie kragte nie. “Gee jouself aan God as lewende offer. Moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God jou verander deur jou denke te vernuwe. Dan sal jy ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is”(Rom. 12:1-2). Wees ‘n gerespekteerde voorbeeld vir jou kinders!


“Die woord van die Here is volmaak” want Sy woord kom tog uit Hom uit. “Dit is betroubaar, dit gee wysheid aan jou wat nog onervare is, dit dui vir jou die regte koers aan, dit bring blydskap, dit gee insig”, dit is goed, en staan altyd vas, dit is reg en regverdig, dit is kosbaar .... elke liewe eienskap is perfek. Elkeen van die eienskappe van die Woord van God, is juis die tipe eienskappe wat ons graag self wil wees, wat ons vir ons kinders as voorbeeld wil wees, uit respek vir God en respek vir my kind. Maak seker dat hulle jou voorbeeld volg deur in Jesus Christus te glo, dat hulle “met hulle monde bely dat Jesus die Here is, en met hulle harte glo dat God Hom uit die dood opgewek het, dan sal hulle gered word” (Rom. 10:9). “Wie dit alles onderhou, groot is sy beloning” (Ps. 19:12b).


“Deur die eeue was kinders nog nooit goed daarmee om na hul ouers te luister nie, maar hulle het nog nooit probleme gehad om hul ouers se respek te aanvaar en hul voorbeeld te volg nie – goed en sleg” (James Baldwin).


Gebed: Here, dankie vir die genade om kinders te mag hê. As ‘n ouer is ek soms geneig om met ongeduld en sonder respek teenoor hulle op te tree. Skenk my die geduld dat ek hulle met die nodige respek sal behandel – geduld en respek vir hul buie, hul gebrekkige begrip, die kere wat dit blyk dat hulle nie ore het nie. Skenk my die genade om hulle groot te maak in U weë, die krag en die wysheid om hulle te vertrou in hul vermoëns en met liefde en respek hul foute ook te aanvaar. Ek kan slegs met vertroue regop staan en die uitdagings van kinders met respek groot maak, as ek eers op my knieë voor U was. Ek besef ook dat terwyl ek kinders het, my gebede op my knieë, nooit eindig nie. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page