top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


WEEK 5 – RESPEK VIR MY NABY-MENSE (1) – RESPEK VAN KINDERS VIR OUERS


Eks. 20:12 – “Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.”


Vergelyk ook Matt. 15:4-6 – “God het tog gesê: ‘Eer jou vader en jou moeder’ en: ‘Wie sy vader of sy moeder vloek, moet sekerlik doodgemaak word.’ Maar julle (Fariseërs) bepaal: ‘As iemand vir sy pa of sy ma sê: Die hulp wat u van my sou kon kry, maak ek ‘n offergawe vir God, dan hoef hy nie meer sy plig teenoor sy pa en sy ma na te kom nie. So ontneem julle die woord van God sy gesag ter wille van jul oorgelewerde gebruike.”


Respek is die basis van alle verhoudings. “Respek is die fontein waaruit die stroom van liefde vloei” is ‘n bekende spreuk wat maklik gebruik word maar nie altyd toegepas word nie en dan lei die gebrek aan respek ons die woestyn van liefdeloosheid in. Respek is die fondament waarop gelukkige gesinsverhoudings gebou word. Waar respek ontbreek, stort die familiegebou in duie en bly net gesinsmurasies oor. Respek en eer gaan hand aan hand.


“Eer jou vader en jou moeder” is die eerste gebod wat handel oor verhoudings tussen mense. Dit is eerste, juis omdat dit die belangrikste is. Dit raak die verhouding wat die heel naaste aan die mens kom, dié tussen kind en ouer. Dit is ook die enigste gebod waaraan daar ‘n positiewe belofte verbind is. Dit is die basis, die fondament! Al die ander gebooie daarna, vloei hieruit voort. Die eerste verhouding waarmee ons hier op aarde te make kry, is die verhouding met ons ouers. Elke kind het allereers met sy pa en ma te make. Tuis, by pa en ma, begin in die reël, elke lewe. Pa en ma se gesag is die eerste en die mees fundamentele vir alle ander gesagsverhoudings. Dit is van onskatbare waarde vir alle ander gesagsverhoudings. Daar, tuis by pa en ma, leer ’n mens wat respek is en hoe jy daarteen moet staan. As jy nie jou ouers eer nie, bring jy die eer van die gesin in gedrang en dit kan lei tot die ondergang of vernietiging van die gesin.


Die gebod om jou vader en jou moeder te eer is in die Ou-Testament in ‘n baie ernstige lig gesien. Wie sy vader en moeder gevloek het, was onderwerp aan die verpligte doodstraf, want wie so opgetree het, het absoluut geen respek vir sy ouers gehad nie. Is daar vandag nog werklik respek vir ons ouers? Sorg kinders nog vir hulle bejaarde ouers? En daarmee word nie bedoel dat jou bejaarde ouers in jou huis moet versorg word nie, maar wel eerder dat ons na ons bejaarde ouers moet omsien op alle terreine, fisies, emosioneel, sosiaal en geestelik. Is die Ou Testament in die 21 ste eeu nog van toepassing? Beslis! Die God van die Ou Testament is steeds ons God van vandag. Hy is steeds die Een wat selfs in die intieme kring van ons huislike lewe intree om daar die regte verhouding tussen kinders en ouers aan te dui.


Daar is te veel mense wat hulleself Christene noem, wat hulle ouers in een of ander tehuis sit en dan van hulle vergeet of hoogstens eenkeer per jaar darem ‘n ou draaitjie daar maak of so ‘n vinnige oproepie maak. En dan moet die ouers hoor hoe besig hulle is, of hoe swaar hulle kry of allerlei verskonings wat aangebied word maar glad nie oortuig nie. Gaan luister gerus na bejaardes se gesprekke wanneer daar oor hulle kinders gesels word - die meeste getuig daarvan met ‘n ontnugtere hartseer.


God spreek Hom baie skerp hieroor uit. Dit mag nie gebeur nie. Daar moet respek vir ouers wees. Dit is immers die hoeksteen, nie net van die gesinslewe nie, maar van die hele samelewing. Dit is deur die genade van God om ‘n kind te wees. ‘n Kind kom in die wêreld, omring deur die sorg en liefde van sy ouers; van hulle ontvang die kind die taal, kultuur en respek van sy bestaan. Deur die ouers word die kind kragtens God se genadeverbond, en in die uitvoering van die doopbelofte, na God toe gelei. Dit is dus God se genade en nou eis die vyfde gebod respek as teken en bewys van dankbaarheid vir hierdie genade.


God soek ‘n gesindheid en houding van respek teenoor ouers. Waarom moet ek my ouers eer? Vanweë hul ervaring in die lewe, hul kundigheid, hul wysheid? En as hulle nie kundig of wys is nie? Wat van die ouers wat moeilik leiding gee en hul kinders nie onder tug kan hou nie? Wat moet ons dan maak met ouers wat minder kennis, wysheid of kundigheid as hul kinders het? Daar is baie kinders wat vandag hul ouers op allerlei terreine oortref. Wat van ouers wat hul kinders aanrand, seksueel molesteer, nie opvoed in die tug en vermaning van die Here nie, selfs net moeilike en slegte ervaringe deel van die opvoeding is? Geld die vyfde gebod dan nog?


Die vyfde gebod is algemeen en spreek alle kinders aan, ongeag hoe die ouers is. Om jou ouers te eer hang nie af van hul kwaliteite nie, hulle is steeds God se aanstelling en Sy instrumente om kinders in die wêreld te bring. Die manier waarop eer en respek aan swak ouers betoon word, sal anders wees as in die geval van werklike gelowige ouers. Alle ouers is nie getrou nie en voed hul kinders nie op in die tug en vermaning van die Here nie. Baie ouers gee hul kinders slegs ’n humanistiese, wêreldse of materialistiese opvoeding. Hulle is egter steeds geroep tot die amp van ouer. Dit moet ons bly respekteer. Selfs as ek ’n moeilike ervaring met my ouers gehad het, met ouers wat my byvoorbeeld nie op die regte pad gelei het nie, moet ons bly vashou. Elke ouer het sy posisie van God ontvang. Eer hulle terwille van God. “Wees gehoorsaam aan jou vader en moeder, jy is hulle kind; en moet hulle nie verag as hulle oud geword het nie” (Spr. 23:22).


“Daar is net een manier om jou kinders te leer om in Christus se voetspore te loop en dit is om dit self te doen” (Abraham Lincoln).


Gebed: Here, dit kan soms baie moeilik wees om inhoud aan die vyfde gebod te gee en tog weet ek dat ouers steeds hul posisie van U ontvang het. Help my om steeds respek vir hulle te toon. Moontlik sal hulle deur my getrouheid hul eie ontrou ontdek en erken en daarom bid ek dat hulle U as Heer sal soek. Dankie vir ouers wat U ken en ‘n verhouding met U het en my onderrig in U weë. Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page