top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


WEEK 4 – RESPEK VIR RANDFIGURE (6) (Matt. 13:53-58; Mark. 6:1-6)


Luk. 4:16-19 – “Hy het ook in Nasaret gekom, waar Hy grootgeword het, en soos sy gewoonte was, het Hy op die sabbatdag na die sinagoge toe gegaan. Toe Hy opstaan om uit die Skrif voor te lees, is die boek van die profeet Jesaja vir Hom aangegee, en Hy het dit oopgemaak en die plek gekry waar geskrywe staan: “Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig.”


Vergelyk ook Jes. 58:2 – Hulle vra wel elke dag na my wil, asof hulle graag wil weet wat Ek van hulle verwag. Hulle gee voor dat hulle ‘n nasie is wat doen wat reg is en hom aan die bepalings van sy God hou.”


Die Israeliete se godsdiens in die tyd van Jesaja 58 was nie godsdienstig afvallig of onverskillig nie maar eintlik geweldig toegewyd in hulle aanbidding van die Here. Hulle het elke dag na die Here se wil gevra asof hulle regtig wou weet wat Hy van hulle verwag het (58:2). Hierdie mense lyk eintlik soos model kerkmense, hulle sou elke Sondag in die kerk wees, hulle voor God verootmoedig en getrou hul dankoffer gee en bid vir alle behoeftiges. Daar is niks daarmee verkeerd nie, maar wanneer ons Jes. 58 verder lees, leer ons by monde van Jesaja dat God van die volk verwag dat egte verootmoediging nie moet wees sodat God jou situasie kan verander of jou moet seën nie, maar sodat jou hart en lewe kan verander. Israel het nie die vrede en seën van die Here ontvang nie, omdat hul aanbidding net vertikaal geskied het en nie die armes, verdruktes, hongeriges en wese se behoeftes respekteer het nie.


Wanneer ons deur die Evangelies lees, lyk dit asof omgee en dien, só natuurlik en spontaan vir Jesus was dat Hy Homself amper nie kon keer nie. Hy het nog skaars gesien iemand het nood, dan het Hy gehelp. Omgee en respek het eenvoudig uit Hom gevloei. Dit is wie Hy was, wou wees en wie Hy steeds is. Jesus het met Sy kruisdood die versperrings en skeidsmure van vyandigheid, wat verskillende klasse mense geskei het, afgebreek. Genade het ‘n weg gevind en in Hom is almal een – “Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is ons almal één! (Ef. 3:28). Jesus het vir ons die ruimte gegee om Sy hande, voete, Sy stem, ore en Sy hart hier op aarde te wees. Hy wil deur ons die lewens van mense rondom ons aanraak. Hy wil hê dat ons Hom sal toelaat om deur Hom, vir ander respek te hê en om te gee.


Dit is immers die evangelie! Dit is waarom ons geroep is om Jesus se dissipels te wees, om Hom na te volg, om Hom toe te laat om deur ons om te gee, om met “Christusharte” Sy voorbeeld te volg … maar ons weet ook dat ons daarmee sukkel, en as ons regtig eerlik is, soms daarteen rebelleer. Die punt is, Jesus kan dit nie doen as jy jouself probeer regverdig nie, as jy jouself probeer handhaaf en daarom doof bly vir Sy hart wat omgee nie. Vra ‘n slag eerlik vir jouself: “Wat verhoed jou om soos Jesus, vir ander mense om te gee?” Is dit tyd, of geld, is dit skaamte om saam met mense in nood, gesien te word, is dit ‘n stuk afgryse in jou vir daardie misdadiger wat op parool uit die tronk gelaat is, ‘n vrees vir wat dit jou gaan kos, of doodgewoon ‘n stuk moedeloosheid omdat daar so baie nood is?


Dink aan mense wat in nood is, soos weduwees, weeskinders, werkloses of minderbevoorregtes. Dink biddend vir wie jy iets prakties kan doen deur jou invloed te gebruik, met inkopies te help of regshulp of maatskaplike hulp te verleen. Dit kan iets klein wees. Gesels met iemand wat kos nodig het – by jou deur, by die supermark. Maak kontak en luister na behoeftes, probeer agterkom wat hy of sy geniet. Eet iets sáám met die persoon. Bemoedig die persoon deur ‘n oproep, kaartjie of besoek. Wees op die uitkyk vir iemand wat die Here oor jou pad stuur wat in jou ‘n gevoel van omgee wakker maak. Moenie dit ignoreer nie, behandel hulle met respek en doen wat die Here op jou hart lê, maak nie saak wat ander mense van jou dink of sê nie. Dit is hoe Jesus deur jou kan omgee.


Die aktrise Audrey Hepburn (1929-1993) was hierdie geweldige styl-ikoon. Haar skoonheidswenke vir hul lesers in ‘n bekende vrouetydskrif was die volgende: “For attractive lips, speak words of kindness. For lovely eyes, seek out the good in people. For a slim figure, share your food with the hungry. For beautiful hair, let a child run his or her fingers through it once a day. For poise, walk with the knowledge that you never walk alone. For peaceful sleep, treat people with dignity. Remember, if you ever need a helping hand, you'll find one at the end of each of your arms. As you grow older, you will discover that you have two hands, one for helping yourself, the other for helping others.” Is dit nie ‘n bruikbare geloofsgewoonte wat prakties uitvoerbaar kan wees nie?


Gebed: Jesus Christus, vul my deur U Gees met die geloofsgewoonte om ‘n omgee hart vir minderbevoorregtes te hê, om U hande en voete te wees. Laat my lewe een van diens wees, ʼn lewe waarin ander mense se behoeftes vir my net so swaar weeg soos my eie, ʼn lewe waarin ek my hulpbronne, tyd, invloed, en vaardighede kan gebruik om vir ander te help, of dit nou is om hulle te beskerm, te versorg, te koester of vir hulle regte op te kom en hulle steeds respekteer as skepsels van dieselfde God wat ons gemaak het. Immers: “Wie aardse besittings het en sy broer [of suster] sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom [of haar] het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees?” (1 Joh. 3:17). Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page