top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Lees uit Jesaja

WEEK 4 – RESPEK VIR RANDFIGURE (3) (Matt. 13:53-58; Mark. 6:1-6)


Luk. 4:18-20 – “Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig.”


Vergelyk ook Luk 18:22 – “Een ding kom jy nog kort: gaan verkoop alles wat jy het, en deel die geld aan die armes uit. Dan sal jy ‘n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My.


Die wêreld sal verseker ‘n beter plek wees wanneer alle mense besef dat God almal na Sy beeld geskape het en dat Hy vir almal lief is, daarom het Hy sy Seun aarde toe gestuur om vir alle sondaars, en dit sluit die hele mensdom in, te sterf. Ongelukkig is daar die ordentlikes, die godsdienstiges en die vromes wat glo hulle kan self regkom. Hulle het die regte medisyne vir hulle sondepyne en respekteer diegene wat daarsonder moet klaarkom, glad nie. Wanneer ons optrede teenoor ander nie respek oordra nie, dra dit die boodskap oor dat ons die waarde wat God aan hulle toeken, wil wegneem en selfs ontken.


Die mens wat gedurig bereken hoeveel hy gaan ontvang in ruil vir wat hy aan ander gee en doen, sien God as sy rekenmeester. As ek sóveel doen sal ek sóveel terug ontvang – ‘n balanstaat van debiete en krediete. God, ek het nou soveel gedoen, dit is nou U beurt!


Binne die “Kerk van Franciskus” in die Italiaanse dorpie Asissi, is daar ‘n publikasie wat die volgende legende voorhou: ‘n Engel het vir Franciskus besoek en vir hom gesê dat hy een wens wat waar sal word, kan neem. Hy het gewonder oor rykdom, roem, ‘n lang lewe, kennis en ander aardse dinge. Maar hy het uiteindelik besluit om elke dag goed te doen aan ander en dit só te doen, dat hulle nie hul menswaardigheid sal verloor nie maar steeds hulle selfrespek behou en sonder dat hy self bewus sal word, van wat hy doen. Hy kon nie wag om die engel sy wens mee te deel nie. Die engel het egter weggebly tot aan die einde van Franciskus se lewe. Franciskus wou by die engel weet waar hy al die jare was want hy wou sy wens vir die engel gee. Die engel het hom geantwoord: “Ek het geweet wat jou wens was en dit aan jou geskenk. Jou hele lewe was een groot daad van diens aan ander. Geseënd is jy tussen al die mense in hierdie wêreld.”


Wat is ons gelowiges in Christus se beloning? “Wie hom oor ‘n arm mens ontferm, gee ‘n lening aan die Here, en Hy sal hom ten volle vergoed” (Spr. 19:17). God se liefde en genade is eindeloos want dit is nie rekenkundig berekenbaar nie, nie materialisties nie en dit is beskikbaar vir alle mense. Die satisfaksie wat daaruit verkry word omdat gehoorsaamheid aan Jesus geopenbaar is, kan die ewigheidsbeloning nie vervang nie. God voeg meer en meer by sodat ons meer en meer diensbaar kan wees aan ander. “Moenie ‘n weldaad weerhou van iemand aan wie dit toekom, terwyl dit in jou mag is om dit te bewys nie” (Spr. 3:27). Doen jou weldaad met die wete dat dit aan nog ‘n skepsel van dieselfde God is wat jou geskep het, en hanteer dit met die nodige agting en respek.


“Stille, praktiese Christelike barmhartigheid het al meer mense vir die Koninkryk gewen as godsdienstige ywer” (F.W. Faber).


Gebed: Hemelse Here, laat ons lig só skyn dat mense ons goeie werke kan sien. Nie om te sien hoe goed of oulik ons is nie, want dit is nie so nie. Laat dit egter wees om ons Christenskap te openbaar en God te verheerlik, nié ‘n motivering om ons eie populariteit te bevorder, of roem daarin of om ander se goedkeuring te verkry nie, maar in die Naam van Jesus Christus, ons Here. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page