top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


WEEK 3 – RESPEK VIR JOUSELF (6) (Mark. 12:28-34; Luk. 10:25-28)


Matt. 22:37-39 – “Jesus antwoord hom: ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelykstaan, is: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”


Matt. 5:14a – “Julle is die lig vir die wêreld.”


God het op die eerste dag, heel eerste lig geskep (Gen. 1:3). Net soos wat daar by die skepping lig en lewe gekom het in antwoord op God se woord, bring God se mensgeworde Woord, Jesus Christus, ook lig en lewe vir elkeen wat in Hom glo. Daarna was die wêreld nooit weer dieselfde nie. Jesus is die “fondament” van lig. Hy is die oorspronklike lig en was die toonbeeld van hoe hierdie lig moet skyn. Wanneer Jesus dus sê dat ons die lig vir die wêreld is, is dit eintlik ‘n kompliment wat elke mens wat hieraan gehoor gee, ‘n gesindheid van selfrespek moet beleef – dít is inderwaarheid uniek. Jesus vertrou my om Sy lig te wees in die wêreld! Dit is Jesus se begeerte om ons met Sy lig te vul en as ‘n helder getuie van Sy teenwoordigheid, die donkerte in die lewe van dié rondom ons, deur Sy heerlikheid te vervang.


Wat ‘n ontsagwekkende verantwoordelikheid om Sy Goddelike lig in die donkerte rondom ons te laat skyn? Die primêre doel van lig is om mee te kan sien. Die primêre doel van ‘n Christen is om gesien te word. Wanneer dit donkerder en donkerder om ons word, lê die probleem nie by die donker nie, want dit is wat donkerte doen. Die probleem lê by die lig! Hierdie sigbaarheid stop nie Sondae by die kerkdeur wanneer ons daar uitstap nie. Christenskap wat by die kerkdeur stop, baat niemand nie. Herken jou gesin, familie, vriende, kollegas, die lig wat in jou is?


‘n Christen se sigbaarheid begin by selfrespek, jou selfrespek wat oorgedra word aan ander. Selfrespek wat sigbaar en duideliker word daar waar ‘n winkelassistent teenwoordig is en die diens vrot is; ‘n kelner verkeerde of koue kos bring; die manier wat ‘n werkgewer sy werknemers behandel en omgekeerd; die skeidsregter wat ‘n verkeerde beslissing maak teenoor jou span; ‘n vrotbal wat geslaan word op die gholfbaan; die verkeersman wat jou stop; in die kombuis, klaskamer, myn – ja, oral waar ons ons bevind. Jesus het nie gesê julle is die lig net vir Sondae se KERK nie, maar “julle is die lig vir die WÊRELD!” ‘n Gerespekteerde mens se wêreld is sy Christenskap wat duidelik moet wees vir almal om te sien – iemand wat met ‘n “Christushart” leef.


‘n Lewe in Jesus se Lig is ‘n keuse by elke mens, dit is nie vanselfsprekend nie. Dit is ‘n keuse wat ons telkens moet herhaal. Satan en sy bose magte se hoofdoel is om ons buite die ligkring van God se genade te kry en as hy eers sy voet in die deur gekry het, word sy aanslae feller. As ons in die lig wil bly moet ons die deur gesluit hou wat na die donkerte lei en as mense van die lig lewe. “Die pad van die regverdiges is soos helder oggendlig wat groei en sterker word tot dit heeltemal dag is” (Spr 4:18).


Hou op om kwaad te wees vir jouself omdat jy steeds op sekere gebiede sukkel. As jy 'n deel van jou lewe moet verbeter, wees bekommerd daaroor, maar moenie dat dit jou verteer nie. Jy gaan altyd aan iets moet werk, so leer om jou "wie" van jou "doendinge" te skei. Wie jy in Christus is, is 'n uitgemaakte saak. Jy is Sy lig wat in hierdie donker wêreld skyn! Elke keer as jy misluk, bied Christus Sy versoenende bloed aan om jou sonde te bedek. Hou op om jouself met ander te vergelyk. Jy is jy, en jy sal nooit soos hulle wees nie. Ons is almal gelyk in Christus. "Die Here my God help my; wie sal my dan skuldig verklaar? Dit is verby met almal wat my beskuldig, soos met 'n lap wat deur motte gevreet word" (Jes. 50:9). Jy mag jouself respekteer!


“Laat God en jou eie hart, en nie ander mense se opinie nie, jou oortuig wat selfrespek is”

(Samuel Coleridge).


Gebed: Here, hoe kan ek U weerkaats as my gesig nie na U gedraai is nie? Help my asseblief om ‘n lig vir ander te wees sonder om self in die lig te staan. As koningskind het U in my hart ‘n lig laat skyn om my te verlig met die kennis van die heerlikheid van U. U het my hart in ‘n “Christushart” verander, help my om ‘n verskil te maak in die wêreld Here – begin by my. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page