top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


AGAPE LIEFDE

WEEK 3 – RESPEK VIR JOUSELF (3) (Mark. 12:28-34; Luk. 10:25-28)


Matt. 22:35-39 – “Een van hulle, ‘n wetgeleerde, het Hom met ‘n vraag probeer vastrek. ’Meneer,’ vra hy, ‘wat is die grootste gebod in die wet?’ Jesus antwoord hom: ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelykstaan, is: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”


Vergelyk ook Rom. 13:9b-10 – “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.”


Jesus som die wet op met twee baie belangrike beginsels en kom gee dit vir die wêreld. Hierdie liefde verwys na die Bybelse agapé-liefde. Dit is ‘n onvoorwaardelike liefde aan die persoon vir wie ons lief moet wees om sodoende Jesus se opdrag na te kom, selfs aan die een wat nie die wet nakom nie. Dit is liefde in aksie en is gewoonlik nie van wederliefde afhanklik nie. Respek vir jouself is om agapé-liefde te gee ten spyte van die ander persoon se reaksie. Daar is geen ruimte vir voorwaardes nie. Die klem van Jesus se woorde val op die dóén aspek toe Hy vir die wetgeleerde sê: “gaan maak jy ook so” (Luk.10:28b).


Met respek, weerspreek Jesus Hom nie dalk met hierdie opdrag nie? Die Bybel is immers vol van voorbeelde waar haat uitgespreek word. Dawid, die man na God se hart, het God gevra: ”Moet ek nie ‘n weersin hê in mense wat teen U in opstand is nie? Ek haat hulle met ‘n uiterste haat, want hulle is ook my vyande” (Ps. 139:21); Paulus wens ‘n kopersmid God se vergelding toe (2 Tim. 4:14); Petrus stuur Simon, ‘n towenaar verderf toe omdat hy hulle wou omkoop (Hand. 8:20). Hoe nou? Al drie van hulle was Geesvervulde mense.


God het self ook by geleentheid anders opgetree. Hy het die sewe nasies wat die beloofde land beset het, aan Israel oorgegee en almal moes om die lewe gebring word (Deut. 7:1-2). Hoe kon God so ‘n bevel aan Moses gee as Hy die God van liefde is? Sonder om die detail van God se redes daarvoor te bespreek, moet ons onthou dat God se weë nie ons weë is nie en daarom mag ons nie God se handelinge bevraagteken nie. God is soewerein. God gee nie antwoorde nie, Hy is die antwoord!


In Jesus se donkerste uur het Hy hierdie agapé-liefde bewys terwyl Hy aan die kruis gehang het: “Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie” (Luk. 23:34). Stefanus het agapé-liefde bewys terwyl hy op sy knieë gestaan het en die Jode besig was om hom dood te gooi met klippe. Hy bid vir sy moordenaars: “Here, moet hulle tog nie hierdie sonde toereken nie” (Hand. 7:60).


Ons moet steeds Jesus se opdrag nakom, al voel dit soos ‘n verdoemende handeling. As ek myself liefhet, moet ek ander ook liefhê – “Goed, ek sal vergewe maar nie vergeet” – klink dit bekend? Dit is deel van ons menslike natuur – om ‘n grief te vertroetel en om ou koeie uit die sloot te haal. Hierdie opdrag van Jesus is bindend en kan nie halfpad tegemoet gekom word nie. Om net dié lief te hé wat my liefhet is nie die antwoord op Jesus se versoek nie. Ons kindskap maak die verskil al is dit ook hóé moeilik. Gevoelens beteken niks as dit nie uitloop op dade nie. Wat God vir ons gegee het in terme van geestesgoedere, gawes, talente, selfrespek, besit en vele ander, het Hy vir ons gegee om in Sy diens te gebruik.


“Die liefde van 1 Kor. 13 is nie emosie nie, dit is ‘n Bybelse agapé-liefde, ‘n lewenshouding en ‘n leefstyl wat jy bewustelik moet kies” (Ferdinand Deist).


Gebed: Almagtige Vader, ons liefde is só ontoereikend! Ons verskille teenoor mekaar word gemeet aan kleredrag, kultuur, tradisie, verskil in taal, velkleur, ag, en sommer nog baie ander verskonings om mekaar nie as ons naaste te aanvaar nie. Dit is soms belaglik dat ons aan onlogiese mensgemaakte opinies vasklou om juis nie U opdrag te wil uitvoer nie. Kortom Here, skenk ons asseblief daardie fyn aanvoeling sodat ons kan onderskei om die regte ding te sê, te doen en te bid – selfs vir hulle wat geen respek aan ons betoon nie. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page