top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


WEEK 2 – GOD: DIE BRON VAN RESPEK (5)

Gen. 1:26 – “Toe het God gesê: ‘Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld.”


Vergelyk ook Matt 7:6 – “Moenie wat heilig is, vir die honde gooi nie: hulle sal omspring en julle verskeur; en moenie julle pêrels voor die varke gooi nie: hulle sal dit met hulle pote vertrap.”


Die Goddelike Drie-eenheid het die mens volmaak geskep om as beelddraer die verteenwoordiger van Hom op aarde te kon wees. Die Here het hierdie mens van Hom toegerus met volmaakte gawes – eienskappe van die Here self – sodat hy sy opdrag as beeld van God honderd persent kon uitvoer. In die Skrif maak die Here vir ons duidelik wat hierdie gawes is waarmee Hy die mens toegerus het. Maar die mens het al hierdie gawes weggesmyt. God het egter ‘n plan B gehad. Dit wil nou nie sê dat God se plan A nie volmaak was nie – Hy het die mens volmaak geskep maar die mens het sy volmaaktheid verruil vir die sonde.


God se plan B was om Sy Seun na hierdie sondige wêreld te stuur met die opdrag om die uitverkorenes wat die Vader aan Hom gegee het te kom verlos deur hulle skuld aan die kruis te betaal en sodoende die beeld van God in hulle te herskep. En dan lees ons in Kol. 3:10 dat die mense wat verlos is deur Christus, vernuwe word tot kennis en na die beeld van sy Skepper. In Ef. 4:24 word daar nog iets oor die nuwe mens gesê – die mens wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid. Die gawes waarmee God sy mens toegerus het om beeld van God te wees, is dus onder andere, kennis, geregtigheid en heiligheid. In sy amp as beeld van God moet die mens kennis, geregtigheid en heiligheid in al sy woorde en werke openbaar.


Deel van Jesus se (her)skepping van die mens tydens Sy aardse lewe, sê Hy dat ons “moenie wat heilig is, vir die honde gooi nie en ons moenie ons pêrels voor die varke gooi nie”. Wat bedoel Jesus met hierdie beeldspraak? Wie is die honde en varke wat nie dít wat heilig is en kosbare pêrels, moet ontvang nie? Is Jesus nie dalk besig om teen Homself te spreek nie? Verwys Hy dalk na mense as honde en varke!


Nee, Jesus maak nie foute nie! Jesus bedoel met hierdie beeldspraak dat daar ‘n nugtere onderskeiding is ter wille van die evangelie van God se koninkryk, wat heilig en kosbaar is soos pêrels. God is die God van liefde maar Sy liefde is nie goedkoop nie en Hy laat nie hierdie duur liefde vertrap nie! Die evangelie van liefde moet steeds gebring word, sonder onderskeiding, aan mense wat dit nie wil aanvaar nie. (Skrikwekkend om te dink daar bestaan mense wat nie die evangelie wil aanvaar nie!) Dit is dikwels onmoontlik om met diesulkes te gesels oor die evangelie – oor Jesus Christus, Wie die evangelie is! Hul onsensitiwiteit, morele blindheid, intellektuele trots, siniese bespotting en selfs besmette lagie sonde, maak hulle ontoeganklik, selfs ondeurdringbaar vir die evangelie.


Jesus waarsku ons as God se skepsels, teen sulke mense en wys gevolglik hoe daar teen hulle opgetree moet word. Jesus hou aan om te stap na sondaars, sondaars met stukkende lewens wat na Sy stem wil luister (Op 3:20). Dit is dáár waar ons as verteenwoordigers van God, Jesus se voorbeeld moet volg. Die Hebreërskrywer sê: “Maar solank daar nog ‘n ‘vandag’ is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie” (Heb 3:13). Daar moet dus ten volle gebruik gemaak word van elke beskikbare geleentheid om mekaar met respek te vermaan sodat die bedrog van die sonde ons harte nie verhard nie. Daar moet “elke dag” of gedurig vermaan word teen die misleiding van die oudste strateeg, satan. Die tyd van so ‘n vermaning kan dalk vir ewig verbygaan. Elke dag kan daardie dag straks die laaste “vandag” van God se genade wees.


Dit is altyd moontlik om deur ons optrede, Christus aan ander te wys. Dit is nie nodig om ‘n bordjie om ons nek te hang wat lees ”vroom,” of “godsdienstig” of “voorbeeldig” nie. Wanneer God se eer op die spel is, is daar nie plek vir selfverheffing nie. Dit is dan die tyd om na God se stem te luister. God ken ons immers. Ons hoef nie almal te ken nie – God ken hulle. Dit is nie nodig om die evangelie aan iemand anders af te dwing nie. Indien hulle dit nie wil aanvaar nie wanneer ons dit met die nodige respek en liefde met hulle wil deel, sal God die nodige rekenskap by hulle eis. God sal oordeel. Ons kan ten volle op God vertrou en minder op onsself en ons vermoëns staatmaak. Hy is immers die BRON van respek!


“It is always possible to show men Christ; and the weakness of the church lies not in lack of Christian arguments, but in lack of Christian lives.” (William Barclay).


Gebed: Ons Vader wat in die hemel is, daar is baie keer dinge wat ons ontstel en ons hartseer maak, veral wanneer mense onbetrokke staan teenoor U, skepsels volgens U beeld wat nie die luukse van U liefde wíl ken nie. Laat ons dan egter nie moeg word om die lig van U vreugde en vrede met die nodige respek, oor te dra aan hulle wat aan die skadukant van die wêreld wil lewe. Mag die lig van die liefde waarmee U ons oorlaai, oorloop na ander, sodat hulle ook U warmte sal ervaar en met “Christusharte” wíl leef. Gee dat die stempel van U teenwoordigheid sal agterbly waar ons in U Naam was. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page