top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


WEEK 2 - GOD: DIE BRON VAN RESPEK (3)


Gen. 1:26 en 31 – “Toe het God gesê: ‘Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld ...., Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed.”


Vergelyk ook Fil. 3:21 – “Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees.”


God het alles begin toe Hy op ’n almagtige manier alles uit niks gemaak het. Nadat Hy die mens as man en vrou na Sy beeld geskep het, het God daarna gekyk en “dit was baie goed”. Dat die mens na God se beeld geskep is, beteken dat die mens heeltemal afhanklik van God is en in ’n lewende verhouding met die lewende God, diensbaar aan Hom moet wees. Hierdie diensbaarheid moet wys in die mens se liefde vir God en liefde vir die ander mense, wie God óók volgens Sy beeld geskep het. Verder moet hierdie diensbaarheid wys in die mens se omgang met die skepping, waar die mens God se skepping ontwikkel en oppas.


Dit is dan opvallend dat die gebod: “Eer jou vader en jou moeder .... “ (Eks. 20:12), die eerste gebod is wat handel oor verhoudings tussen mense. Dit is eerste, juis omdat dit die belangrikste is. Dit vorm die basis van al die ander gebooie wat hieruit voortvloei. As jy nie jou ouers eer nie, bring jy die eer van die gesin in gedrang en dit kan lei tot die ondergang of vernietiging van die gesin. Daar moet respek vir ouers wees. Dit is immers die hoeksteen, nie net van die gesinslewe nie, maar van die hele samelewing. Dit hou natuurlik ook in dat ouers ‘n verantwoordelikheid het. Elke ouer moet so leef dat hulle die respek van hulle kinders en die res van die gemeenskap verdien. Dit hang nie noodwending saam met jou sosiale posisie nie. JY moet nie net geëer word bloot omdat jy ‘n ouer is nie, jy moet respek verdien deur jou lewenswyse. Wedersydse respek is wat gevra word.


Jesus het die gebooie mos saamgevat met die woorde: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Liefde is ‘n uitvloeisel van respek daarom is respek ‘n voorvereiste vir liefde. Respek is ‘n voorvereiste vir ‘n stabiele en gelukkige samelewing, en dit is vandag nog steeds so. Iemand het gesê dat God skynbaar met uitbundige kreatiwiteit Sy skeppingswerk gedoen het. Uit ons standpunt het Hy te veel gemaak – te veel sterre, melkweë, verskillende diere, plante, visse, insekte. Te veel menserasse, tale, kulture en te veel godsdienste. Sou dit nie makliker beheerbaar gewees het indien God, wat die mens betref, net een ras, een taal, een kultuur en een godsdiens, geskep het nie? Maar dit is om natuurlik in menslike terme oor God te praat en God het juis uit Sy almag verskillend geskep sodat ons Jesus se voorbeeld van liefde en eer aan ander kan oordra.


“God het die wêreld uit niks geskep en eers as ek en jy ook niks is nie, maak Hy ‘n nuwe skepping van ons” (Martin Luther).


Gebed: Hemelse Vader, U liefde vir my slaan my asem weg! Hoe is dit moontlik dat U wat alles geskep het en elke dag onderhou, ‘n nietige sondige mensekind persoonlik kan liefhê? Ek kan dit nie verstaan nie, ek kan dit nie verdien of koop nie, maar ek wil dit met albei hande aangryp. Here, ek weet almal kan nie vir almal lief wees nie daarom vra ek dat U liefde my lewe sal verander sodat dit in elke verhouding sal deursuur en sal maak dat ek na ander sal kyk met U bril van liefde en respek. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page