top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


WEEK 2 – GOD: DIE BRON VAN RESPEK (1)


Gen. 1:26-31 – “Toe het God gesê: ‘Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.’ God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep. Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: ‘Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip.’ Verder het God gesê: ‘Let op! Ek gee aan julle al die plante wat saad gee op die hele aarde; ook al die bome wat vrugte dra en saad gee. Dit sal julle kos wees. Maar aan die wilde diere op die aarde en aan die voëls in die lug en aan die diere wat op die aarde kruip, aan alles wat leef, gee Ek al die groen plante as kos.’ So het dit gebeur. Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die sesde dag.”


Soos ‘n vaardige meesterbouer het God stap vir stap die heelal gemaak. Vir vyf dae het Hy as Beskikker van oorvloedige vrugbaarheid, die wonders van die ruimte, die prag van die natuur en die onbegryplike fyn werking van lewe van krioelende aantal diere en vrugbaarheid wat tot hulle gerig word, geskep. Dan op die sesde dag: die verskyning van die hooffiguur in die skepping, die mens. ‘n Hoogtepunt word bereik, elkeen wat mens genoem word, is vir God iets besonders!


God het ons geskape om as “verteenwoordiger en Sy beeld” te wees en te bly. Die mens word geroep om oor die diere, voëls en visse te heers en vrugbaar te wees om die aarde te bewoon en te bewerk. Hiermee word daar byna koninklike status aan die mens toegeken om namens God verantwoordelikheid vir die skepping te neem. Oor die skepping van die mens is daar al baie gesê en geskryf. Selfs uit die natuurwetenskappe het daar al baie verklarings gekom oor die ontstaan van die mens. Dieselfde God wat Hom in die natuur openbaar en met die mens praat, openbaar en praat ook met die mens in die Skrif. Daarom moet ons die gedagte dat die vonds van die natuurwetenskappe of sogenaamde evolusie, die Skrif weerspreek, verwerp. God sal en kan Homself nie weerspreek nie. Die Skrif is immers nie ’n handboek oor die wetenskap of evolusie nie. Die Skrif is God se Woord waarin Hy Homself aan ons openbaar vir sover Hy wil hê dat ons Hom moet ken as die enigste, lewende God!


God het die mens nie op presies dieselfde manier as die ander skepsels geskep nie. By al die ander skepsels het God net gepraat en die skepsels het te voorskyn gekom. Soos ’n koor klink dit elke keer in Genesis 1: “Toe het God gesê … So het dit gebeur.” Maar wanneer God op die sesde dag ná die skepping van al die diere vir ‘n tweede keer praat, beraadslaag Hy eers met die Seun en die Heilige Gees en sê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld ....”. Tweedens is dit opmerklik dat God elke keer nadat Hy geskep het, “gesien dit is goed.” Maar nadat Hy die mens geskep het, het God na alles gekyk wat Hy gemaak het, en dit was baie goed. Eers nadat die mens geskep is, is alles baie goed. Nou is die skepping eers voltooi.


Die derde verskil tussen die ander skepsels en die mens, het God gesê: “Laat die aarde lewende wesens voortbring.” God het die diere uit die grond van die aarde gevorm en hulle het gelewe. By die mens is dit egter anders: “God het die mens uit die stof van die aarde gevorm. En nadat Hy hom gevorm het, het Hy eers die lewensasem in sy neus geblaas” (Gen. 2:7). Op ’n besonders intieme wyse het die Here lewe aan die mens gegee. UNIEK! Die andersheid van die mens as skepping van God is dat hy nie maar net nog ’n skepsel, nog ’n ding is saam met al die ander dinge wat God geskep het nie. God het die mens as Sy verteenwoordiger, as Sy beeld geskep. Nét die mens is so geskep.


Dit maak natuurlik nie van die mens ’n klein godjie nie. In plaas daarvan om gehoorsaam aan sy Skepper en sy God te leef, meen die mens hy weet beter as die Here. Die mens dink hy kan sy eie besluite neem en onafhanklik van die Here lewe. Die mens wil soos God wees maar hierdie eiewyse mens het homself in gemors gedompel! In plaas daarvan dat die mens oor die skepping moet heers, respek betoon en menswaardigheid aan ander moet gee soos God dit wil hê, word hy ’n slaaf van die skepping. Ons breek en verwoes aan die beeld van God. En mag die Gees so in ons werk dat Christus ons waarlik sal omvorm tot die beeld van God soos wat God wil hê ons moet wees.


“Een woord van respek deur hulle wat jy self respekteer, is meer werd as ‘n applous van die skare” (Arnold Glasow).


Gebed: Liefdevolle God, dankie dat U soveel vertroue in my het om my as U verteenwoordiger op aarde aangestel het. Dit is ‘n wonderlike voorreg om hierdie ontsettende verantwoordelikheid van U roeping te vervul. Maar Here, nou moet ek bely, ek faal elke dag – vergewe my asseblief. Laat my by U leer as die Bron van respek, om te onthou hoe Jesus gedien het, hoeveel deernis Hy gehad met alle mense se seerkry en laat Sy eenvoud my lei om in Sy voetspore te kan volg. Amen


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page