top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


WEEK 1 – DIE EFFEK VAN RESPEK (6)


Fil. 2:5-11 – “Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was ....”


Vergelyk ook Matt 5:5 – “Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.”


Egte sagmoedigheid ofte wel nederigheid, is nie iets wat van nature op die aarde is nie. In die wêreld waarin ons leef word mense geleer om hulleself te handhaaf. Nederigheid is‘n eienskap waarop die wêreldse mens neersien. Daarom sal ‘n mens nie leer wat nederigheid is wanneer jy na mense kyk en dink dat dít miskien respek sal afdwing nie. Nederigheid of sagmoedigheid is om soos Jesus ‘n voetewasser te word, eintlik die werk van ‘n slaaf (Joh 13:3-17). ‘n Egte nederigheid is bonatuurlik en Jesus Christus het dit in sy menswording en dood aan Sy kerk kom leer. Jesus Christus het die hoogste posisie waarin Hy was verlaat om tot op die heel laagste posisie op aarde te daal sodat Hy mense van die regverdige oordeel van God kon red alhoewel hulle dit geensins verdien nie. Terwyl hierdie sagmoedige Christus hang aan ‘n kruis, uiter Hy met ‘n swak, sterwende stem: “Vader vergeef hulle .......” Hy kon dit sê want Hy het mens kom word en onder ons kom woon (Joh. 1:14). Hy het die swakke mens daarom geken en verstaan.


Jesus het al vroeg in Sy bediening, tydens Sy Bergrede daar langs die See van Galilea, die lewensbeginsels aan ons kom leer om Sy voorbeeld te volg. (Matt. 5-7). Die Christen moet nou sy funksie in sy wêrelse omgewing toepas om God se koninkryk hier op aarde uit te bou. Ons het ‘n funksie om die verrotting van die wêreld teen te werk. Waar die gelowige hom ookal bevind, moet ons lewensstyl van só aard wees dat dit ‘n verskil maak. Een van die lewensbeginsels is om sagmoedig of nederig te wees (Matt. 5:5). Sagmoedigheid is egter nie ‘n woord waarmee ons geassosieer wil word nie, veral nie in vandag se wêreld nie. Elkeen wat sy eie ding wil doen wil gewoonlik sy staal wys en dit gaan gepaard met hardheid en soms robuustheid. Om selfbehoud toe te pas moet mens ‘n maak-en-breek tipe wees. Sagmoediges word gekenmerk as die “ja-meneer-goed-meneer” outjies wat sonder ruggraat maar elke dag na ander se pype dans.


Dit is egter nie die waarheid nie. Sagmoediges is nie skaam en teruggetrokke nie, inteendeel, Moses was volgens Numeri 12:3 die sagmoedigste man op aarde maar hy het ‘n ysterhand gehad. Hy het slawe uit Egipte gelei sonder om bang te wees vir die magtigste Egiptiese koning van daardie tyd. Hy kon dit doen omdat hy ‘n gesindheid van afhanklikheid en vertroue teenoor God gehad het. Jesus sê self Hy is sagmoedig (Matt 11:29) maar Hy het nie eers vir die duiwel gestuit nie. Hy het selfs die wreedaardigste dood aan ‘n kruis gesterf vir ander. Is dít die beeld van ‘n papbroekige sagmoedige? Nooit, dit is dié van ‘n held!


Die wêreld van vandag is ongelukkig vol “Sondag-Christene”. Sondag sit hy met sy vroom gesiggie in die voorste gestoeltes van die kerk maar deur die week praat hy die taal van die wêreld. Sy Sondag-sagmoedigheid verander na ‘n kenmerkende harde persoon wat nie kaal hande aangevat moet word nie. Sy vreemde taalgebruik is nie die “vreemde tale” waarna die Bybel verwys nie. Dit is deurspek met onsensitiwiteit en vuil kragwoorde wat nie in goeie woordeboeke verkry word nie. Dit is sy metode om “respek” af te dwing! Sy verskoning: “Toe Jesus gepraat het van sagmoedigheid het Hy nie met die huidige wêreldprobleme te doen gehad nie!” Is dit dít die soort getuigskrif wat Jesus aan ons, Sy dissipels wou gee? Die voorbeeld van Jesus behoort elke Christen se norm te wees. Met Jesus word dit ‘n God-welgevallige lewenswyse. Sy taal is nie vreemde taal nie, dit is hooptaal – ewige taal!


Die sagmoedigheid waarna Jesus verwys, het sy oorsprong by God se genade. God neem bitter mense en maak hulle beter mense. Hulle ondergaan ‘n hartsverandering en leef met “Christusharte”. Wanneer ons lewe deur die Gees van God beheers word, sal ons nooit swig voor die begeertes van ons sondige natuur nie (Gal 5:16), maar die vrug van die Gees ontvang wat sagmoedigheid insluit (Gal 5:22-23). Om saam met Jesus te loop kan gevaarlik wees. Om Sy voorbeeld van sagmoedigheid te volg is om ‘n kans te vat. Jy verloor jou naam en respek daar want jy word herdoop na “softy”, jy word die “joke” van die dag. Indien dit nog nie met jou gebeur het nie, is jy nog nie naby genoeg aan Jesus nie.


My God leef en Sy Seun sê ek moet ‘n sagte hart hê – ‘n omgee hart – ‘n hart soos Syne. Want sien, eendag gaan staan daardie hardvogtige hart van jou. Jou ongenaakbare en selfsugtige gedrag het gemaak dat jou hart anders is as wat God dit wou hê. Jy het nou wel hier op aarde bo uitgekom in alles wat jy gedoen het en volgens jou opinie “respek” afgedwing, maar jy het jou hart verloor. Dit gaan dalk beteken jy gaan nie BO uitkom nie. Dit is hulle wat BO uitkom wat die nuwe aarde ontvang (Matt. 5:5). Jesus is besig om met lewende woorde aan te kondig dat God se nuwe wêreld aangebreek het. Wees net naby, dan hoor jy dit!


“Wees versigtig oor hoe jy leef. Jy mag moontlik die enigste Bybel wees wat iemand sal lees” (Kriss Akabusi).


Gebed: Hemel Vader, ek bely dat ek ook soms baklei om bo uit te kom en in die proses trapmerke en wonde agterlaat wat in stryd is met U opdrag van naasteliefde. Skenk my krag dat my verhouding met U en met mense my skatryk sal maak. Verander my hart, haal my voete van vertrapping van ander af en plaas hulle op pad na U toe, daar waar dit saak maak! Daardie pad is nie rigtingloos, koersloos of donker nie, ek kan nie verdwaal nie. Skenk my genade dat my poging om BO uit te kom, met hoofletters is. Ek is tot alles in staat deur U wat my krag gee. Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page