top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


WEEK 1 – DIE EFFEK VAN RESPEK (5)


Fil. 2:5 en 8 – “Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was .... “En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.


Vergelyk ook Ef. 5:1-2 – “Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle Sy voorbeeld volg. Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil Sy lewe as ‘n offergawe gegee het.”


Ons het gister gesien dat hierdie “Goue Reël” van Jesus nie uit konteks gebruik kan word nie. Dit kan nie ‘n los gesegde wees wat ons kan gebruik net wanneer ons dit nodig het nie. Dit geld vir álle tye in álle omstandighede, of glad nie. Jesus koppel hierdie grondbeginsel aan al Sy vorige uitsprake of opdragte, met ander woorde, as jy daarvan hou om sagmoedig behandel te word, behandel ander sagmoedig; as jy daarvan hou dat ander in vrede met jou moet leef, leef in vrede met ander; as jy daarvan hou dat ander jou met respek behandel, behandel ander met respek; ons Vader oordeel niemand vals nie, daarom moet ons ook nie ander vals oordeel nie; ons Vader laat dit reën oor die goeies en die slegtes, daarom moet ons selfs ons vyande ook liefhê. En so kan ons aangaan om aan te haal vanaf Matteus 5 vers 3, en by implikasie, aan al die opdragte in die Skrif.


Wat maak Jesus se uitspraak van hierdie “goue reël” dan so spesiaal? Jesus beklemtoon dat ons aan ander moet góéd doen en nie noodwendig moet verwag dat hulle dan weer iets goeds aan ons terugdoen nie. Dit beteken om betrokke te wees en te raak by mense rondom ons. Is ek diensbaar met die motief om as dissipel te dien of om iets daaruit te kry? Jesus het onvoorwaardelik gedien sonder om iets terug te verwag.


Skielik tref hierdie “goue reël” van Jesus ons miskien as iets wat onmoontlik is om te doen en te leef. Dit is feitlik onmoontlik om op eie krag hierdie gesindheid van Jesus toe te pas. En nou kom Jesus met hierdie “goue reël” en maak dit nog moeiliker. Met respek, dit is ‘n onbereikbare ideaal! Of is dit bereikbaar?


Wat Jesus vra is dat ons hierdie “goue reël” moet volg in geloof. Só wil God hê dat ons as mense van Sy koninkryk moet lewe – in liefde met Hom en met mekaar – met “Christusharte” mekaar lief hê en mekaar respekteer. Die “goue reël” kan ons leefwyse word indien ons die Heilige Gees toelaat om dit in ons lewens te bewerkstellig. Dan kan ons minder word en God meer. (Joh. 3:30). Die Gees maak ons nuut en leer ons om standvastig te bly om op Sy pad te stap en nie ons eie pad nie. Dít is hoe ‘n Christen wat respek betoon, optree en lyk!


"To obey this commandment a man must become a new man with a new centre to his life; and if the world was composed of people who sought to obey this rule, it would be a new world “ (William Barclay).


Gebed: Jesus, ek wil nie net ‘n toeskouer en luisteraar van U wees nie. Ek wil ‘n toegewyde dissipel wees in ons Vader se koninkryk. Alleen kan ek dit egter nie doen nie, daarom het ek U Gees nodig om dit in my lewe te bewerkstellig. Dankie Gees van God dat U my geloof bevestig in Jesus Christus, ons Here. Help my om te leef met U “goue reël” van “As ek.... doen dan.....” Pas my by U wil aan en skenk my dieselfde gesindheid wat by U teenwoordig was terwyl U as mens hier op aarde was. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page