top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


WEEK 1 – DIE EFFEK VAN RESPEK (4)

Fil. 2:5-7 – “Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.”


Vergelyk ook Matt. 7:12 – “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete.”


Jesus is nie maar net Liewe Jesus wat eeue gelede in Palestina met ‘n lang rok en sandale rondgeloop het om wonders te doen, te preek en mense gesond te maak nie – Hy is Here, die Seun van God! Sy plek was aan die regterhand van Sy Vader en tog het Hy “sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.” Paulus dring aan by ons gelowiges om dieselfde gesindheid as Jesus te hê en daarom behoort ons te dien soos Jesus gedien het.


As daar vervolgens gevra word hoe ons naaste gedien moet dien, word dit met hierdie spreuk in Matt. 7:12, wat Jesus heel aan die einde van Sy Bergpreek uiter, vervul. Daarom staan dit dan ook bekend as “Die Goue Reël.” Met hierdie spreuk bereik Jesus se Bergpreek die hoogtepunt, die “Everest” van alle etiese leringe. Dit is asof Jesus wil sê: “Voortvloeiend uit al die voorafgaande uitsprake wat Ek julle nou hier op die berg geleer het, het julle as My dissipels nie ‘n ander keuse as om dié liefde op presies hiérdie wyse in die koninkryk van God tot uitdrukking te laat kom nie. Dít is dié gesindheid van alle gesindhede wat julle met “Christusharte” moet leef!”


Dit is seker die mees gesproke gesegde wat wêreldwyd gebruik is en steeds gebruik word. Alhoewel hierdie uitspraak uit die mond van Jesus kom en in die Bybel aangeteken is, word dit nie net deur Christene gebruik nie maar selfs deur ongelowiges. Kortliks word dit aangehaal as “doen aan ander wat jy wil hê hulle aan jou moet doen” of selfs op ‘n negatiewe vorm gebruik word – “Moenie aan ander doen wat jy nie wil hê hulle aan jou moet doen nie.” Dit kan egter maklik misverstaan word. Dit lyk asof hierdie “goue reël” die mens in die norm plaas om aan ander te doen wat vir jóú lekker is en toegepas moet word op mense van wie jý hou, mense op jou keurlysie. Die norm is soos wat Jesus dit uitspreek en nie wat vir ons goed lyk nie maar wat God van ons vereis.


Die feit is dat die meeste mense geneig is om hierdie reël óf verkeerd aan te haal óf net gedeeltelik aan te haal, óf dit in ‘n gees van gesindheid, anders gebruik as wat Jesus bedoel het. Trouens, as die volle reikwydte van hierdie uitspraak van Jesus reg verstaan word, is dit nie sommer ‘n gemaklike ou reëltjie wat sommer so maklik in sekere omstandighede op die tong geneem kan word nie. Jesus is hier besig om die opsomming van die wet wat Hy later sou meedeel, vooruit te loop – “liefde vir God en vir jou naaste, soos jouself”. Jesus laai hierdie bekende spreuk met aksie – gaan doen wat vir God aanneemlik is! Gaan doen soos Ek dit gedoen het! Daarmee verdien jy respek!


Ons is dit aan mekaar verskuldig. Dit is nou dóéntyd. “Die toets vir dissipelskap lê nie in mooi woorde, vroom belydenisse en grootse toewyding nie, maar in elkedagse doen van die regte dinge” (Ds. Johan Smit). En as ons dit nie kan regkry nie, dan vra ons ons Vader in die hemel om te help: “Vra, en vir julle sal gegee word” (Matt 7:7).


“Daar is ‘n onsigbare Beeldhouer wat dag in en dag uit ons gesigte beitel om dit te laat lyk soos die gesindheid in ons hart” (Anoniem).


Gebed: Here, weerhou my van haastige woorde, onsensitiewe aanmerkings, indringerige vrae, dinge wat ander seer maak. Vul my met ‘n “Christushart” sodat ek ‘n fyn aanvoeling kan hê in elke omstandigheid en sal kan onderskei wat die regte ding is om te sê en te doen. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page