top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


DIE SEUN MAAK LEWEND (3) – DIE SEUN EN DIE LAASTE OORDEEL


Joh. 5:25-29 – ”Ek verseker julle: Daar kom ‘n tyd, en dit is nou, wanneer die dooies die stem van die Seun van God sal hoor, en dié wat daaraan gehoor gee, sal lewe. Soos die Vader die lewe in Homself het, het Hy die lewe ook aan die Seun gegee om dit in Homself te hê. Hy het Hom ook volmag gegee om te oordeel, omdat Hy die Seun van die mens is. Moenie hieroor verbaas wees nie: daar kom ‘n tyd wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan. Dié wat goed gedoen het, sal opstaan en lewe, en dié wat verkeerd gedoen het, sal opstaan en veroordeel word.”


Vergelyk ook 1 Joh. 5:11-12 – “God het ons die ewige lewe gegee, en dié lewe is deur sy Seun. Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie.”


Jesus maak ‘n tweede belangrike aankondiging. Die profete in die Ou Testament het voorspel dat daar ‘n dag kom dat God sy volk gaan kom red. Die dag waarop die Here sy finale redding bring en sy volk weer nuwe lewe gee, lê iewers in die toekoms vir die destydse Jode. Uit die mond van Jesus hoor die wêreld nou, dat die uur aangebreek het. Jesus is God se finale reddingsplan. God het die lewe wat in Homself is, in Sy Seun uitgestort. Daarom sal dié wat na die Seun luister en in Sy Vader glo, deel hê aan God se finale reddingsplan, die ewige lewe! Dié wat egter geestelik dood is en nie luister nie, sal leeg en dood sonder God ten gronde gaan en Sy finale oordeel ervaar.


Vervolgens praat Jesus van die dood en hier verwys dit na die voleinding wanneer dié wat reeds gesterf het, Sy stem sal hoor en uit die dood sal terugkeer en ”dié wat goed gedoen het, sal opstaan en lewe, en dié wat verkeerd gedoen het, sal opstaan en veroordeel word.” Dit het ook betrekking op diegene in die huidige lewe waarin die woord van Jesus Christus gehoor word, en dié wat dit gelowig aanvaar, uit die dood van sonde oorgaan in die lewe wat die Seun van God skenk. In beide gevalle, in die hede en in die toekoms, word die lewe bepaal deur die verhouding tot die Seun van God. (Wat van die mense voor Jesus se koms? Hulle sal ook geoordeel word maar volgens wat hulle gedoen het. As hulle God gedien het sou hulle soos Abraham gewees het en in elk geval opgetree soos wat God van hulle verwag het.)


Jesus se hoorders, die Jode, het geweet dat daar ’n eindoordeel sou kom, maar dat Jesus op daardie dag as Regter sou optree, wek by hulle groot verbasing en hulle wil dit nie aanvaar nie. Dit is egter alles waar dat daar ’n eindoordeel kom waar elkeen, sonder uitsondering, voor die hemelse Regter sal moet verskyn. Daar vind die finale skeiding plaas. “Die Seun van die mens” sal in Sy heerlikheid kom om die mense te skei soos ’n herder die skape van die bokke skei (Matt. 25:31–46). By die finale oordeel word daar ook gelet op die dade: of iemand “goed gedoen het of verkeerd.” Dit word egter ondubbelsinnig in die hele Nuwe Testament verkondig dat die ewige lewe alleen deur die geloof in Jesus Christus en alleen uit genade, verkry word. Die rede dat daar op die dade gelet word, is dat die dade bewys lewer van die innerlike gesteldheid, gesindheid en dankbaarheid van die mens: “die goeie boom bring goeie vrugte voort, en die slegte boom slegte vrugte” (Matt. 7:17–18; 12:33). Die lewe wat iemand lei, lewer getuienis van die geloof wat in hom is.


Wat beteken dit om “geestelik dood” te wees? Dit beteken om dood te wees terwyl jy liggaamlik perdfris is. Dit beteken om los van God te wees; om onsensitief te wees teenoor die sonde, aan ‘n “almal-doen-dit-tog” sindroom te ly en vrede met jouself daardeur te vind. Die lewe hier en nou bepaal die hiernamaals. Wat jy nou doen of nie doen nie; hoe jy glo of nalaat om te glo, is maniere waarop jy jou voorberei vir die ewigheid. Die keuse is uitsluitlik joune. Om onsensitief te wees teenoor die geloof in Christus Jesus en die sonde, is om onsensitief te wees teenoor die teenwoordigheid van Jesus Christus! “Slegs in Jesus Christus het ons die versekering van verlossing, vergifnis van sonde, toegang tot die familie van God, en die waarborg van ‘n ewige lewe na ons dood” (Luis Palau).


Die onpopulêre onderwerp van die “oordeel” word in die ganse Skrif, glashelder duidelik gemaak dat absoluut ALLE mense wat ooit gelewe het, daar sal wees. Jy kan nog 'n tandartsafspraak kanselleer indien jou moed jou begewe, maar nie hierdie afspraak nie. Nee, dit is juis die grootste verrassing wat op biljoene armsalige misleide mense wag – mense wat gedink het Jesus is 'n soort god en 'n tipe verlosser en 'n stukkie waarheid beetgehad het – maar ...... dat ander opsies ewe goed was en dat daar teen niemand gediskrimineer mag word nie en dat waarheid relatief is. Die aakligste verrassing wag op hierdie misleide mense wanneer elkeen ontdek dat Jesus se aansprake oor Homself al die tyd die waarheid was!!!


“Elke mens moet twee dinge self doen: hy moet sy eie geloof beoefen en self sterf”

(Martin Luther).


Gebed: Jesus Christus, dankie dat U woorde ‘n groot troos is vir elke wedergebore gelowige – die mens wat lewendgemaak is – is opgewek uit 'n geestelike narkoseslaap. Baie dankie vir U versekering dat ek deur in U te glo, van die siekte van sonde genees kan word, nie net gesond sal word nie maar ook die ewig lewe het!. Help my o Gees van God, dat ek gereed sal wees om my Redder en Verlosser te ontmoet wanneer my tyd aanbreek om te sterf. Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page