top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


DIE GENESING OP DIE SABBATDAG BY BETESDA (3) – GENESING EN HAAT


Joh 5:10-14 – “Die Jode sê toe vir die man wat genees is: ‘Dit is ‘n sabbatdag; jy mag nie jou goed dra nie.’ Maar hy antwoord hulle: ‘Die man wat my gesond gemaak het het vir my gesê: Tel jou goed op en loop.’ Hulle vra hom toe: ‘Wie is die man wat vir jou gesê het: Tel jou goed op en loop?’ Die man wat gesond geword het, het egter nie geweet wie dit was nie, want Jesus het ongemerk weggegaan omdat daar ‘n klomp mense op die plek was. Later kry Jesus hom in die tempel en sê vir hom: ‘Kyk, jy is nou gesond. Moet nou nie meer sonde doen nie, sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie.’


Vergelyk ook Jer 17:21b – “Moet niks op die sabbatdag dra en deur die poorte van Jerusalem bring nie.”


Daar is nie ’n gebod dat op die sabbat niks gedra mag word nie. Die skrifgeleerdes het ’n reeks eiegemaakte voorskrifte gehandhaaf van reëls wat deur hulle aan die Tien Gebooie bygevoeg is. Byvoorbeeld: Die vierde gebod – ”Sabbat heilig hou...sewende dag geen werk...” Hulle byvoeging was om werk te definieer en 39 verskillende klassifikasies van werk het gevolg. Elke beweging word ondersoek – vragdra is werk – wat is vrag? – mag jy jou kind dra op sabbat? Een van hierdie voorskrifte was dat op die sabbat ’n sieke op ’n bed gedra mag word, maar die bed alleen mag nie gedra word nie???? En nou word juis hierdie reël oortree. Dit was vir hulle die wese, die kern van godsdiens – ‘n godsdiens wat bestaan het uit ‘n magdom mensgemaakte moets en moenies en behoorts.


'n Mens sou dink dat die Joodse kerkleiers verheug sou wees oor die man se genesing. Die probleem was egter: Die genesing het op die Sabbat plaasgevind. En as 'n mens 'n ongeredde godsdienstige is, is reëls en regulasies vir jou baie belangrik, want dit gee vir jou 'n gevoel van sekuriteit en 'n gevoel dat jy God behaag wanneer jy al die reëls nakom. Só was dit met die Joodse leiers. Hulle sien glad nie die geneesde man nie. Hulle het talle mensgemaakte sabbatsreëls onderhou en al wat hulle nou sien is dat die man sy goed dra en dit is strafbaar met die dood.


Die aanval van die Jode, hoofsaaklik Fariseërs, was aanvanklik teen die man gemik wat sy goed gedra het. In daardie stadium het hulle nie geweet dat dit Jesus was wat die man beveel het om dit te doen nie. Die geneesde het ook nie geweet wie hom gesond gemaak het nie. Toe die genesing plaasgevind het, was daar nie geleentheid vir ’n geestelike gesprek nie en hy skuif die skuld vir sy daad dadelik af op ’n ander. In hierdie geval is daardie “ander” juis die Een wat gekom het om in die plek van ander in te tree en hulle skuld te dra. Vir die Jode is Hy egter ’n sondaar, ’n gruwelike oortreder van die sabbatsvoorskrifte, en daarom verwys hulle met minagting na Hom as “die man” wat ’n ander gelas het om op die sabbat sy beddegoed te dra. Hulle wil hierdie oortreder vind, want hy sal gestraf moet word. Hulle vergeet van die geneesde en begin fokus op “die man.”


Later kry Jesus die geneesde man in die tempel en daar vind 'n kort, maar kragtige gesprekkie plaas: “Kyk, jy het gesond geword. Moenie meer sondig nie, sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie.” Dis bykans onmoontlik om te sê hóé diepsinnig en belangrik daardie paar woorde van Jesus was. Die doel van die man se liggaamlike genesing, was sy geestelike genesing! Jesus het hom genees tot heiligheid! Jesus sê vir hom: “Die doel waarom ek jou liggaam genees het, was om jou siel te genees.


Ek het jou 'n geskenk gegee. Dis absoluut verniet. Vóórdat Ek enigiets eis, géé Ek eers. Jy kan dit nooit verdien of daarvoor werk nie - dis 'n vrye gawe. Jy was nie beter as al die ander by die bad van Betesda nie. Ek het jóú uit vrye genade gekies en Ek het jou genees. Nou dan: gaan lééf in hierdie krag. Laat my geskenk van genesing daartoe dien dat jy mý volg, dat jy heilig leef. Doen jy dit nie en omhels jy sonde as lewenstyl, sal dit baie erger wees as die 38 jaar van lyding wat jy agter die rug het – jy sal vir ewig verlore gaan! Daarom dan, laat My gawe aan jou dien tot 'n toegewyde lewe aan My en die koninkryk van God.”


Tydens en na die eerste koms van die Here Jesus na die wêreld, het ons slegs voorsmakies van Sy genesende krag ontvang. Soos die sieke by Betesda vir 38 jaar vasgevang was deur siekte en selfbejammering verander is na stralende selfvertroue, ruk Jesus ons steeds uit die mistroostige en droewige toestande. Ons het iets om na uit te sien: Die volle genesing van ál Sy mense en álle kwale by Sy tweede koms na die aarde. Tans is ons nog in die tyd van voorsmake. En die voorsmake wat ons huidiglik ontvang (die honderde onverdiende geskenke), roep ons tot geloof, bekering en heiligmaking. In die tyd van voorsmake, is dít die belangrikste sake op God se agenda.


“Daar is geen voordeel om naby die Lig te wees as jy jou oë toeknyp nie” (Augustinus).


Gebed: Dankie Here dat U nie wil hê dat ek ‘n enkele dag in die modder van selfbejammering moet voortploeter nie maar eerder my negatiewe verlede moet agterlaat. Ek sal dit alleen egter nie reg kry nie maar ek weet dat U Gees my tot die ware lewe lei en krag gee. Dankie vir U onverdiende genade. Inspireer my met hoop en vul my met vertroue. Begelei my as brose sondaar op U pad na die hemelse heerlikheid, met nuwe energie. Amen


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page