top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


GENESING VAN DIE REGERINGSAMPTENAAR SE SEUN (1) – ‘n ONBEANTWOORDE ARGUMENT


Joh 4:43-45 – “Ná die twee dae het Jesus daarvandaan na Galilea toe gegaan. Hy het self verklaar dat ‘n profeet nie in sy eie land geëer word nie. Toe Hy in Galilea kom, het die Galileërs Hom verwelkom. Hulle het alles gesien wat Hy gedurende die feesvierings in Jerusalem gedoen het, want hulle was self ook by die paasfees.


Vergelyk ook Joh 1:11 – “Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie.’


Ná die twee dae by die Samaritane sit Jesus die reis voort na Galilea waarheen Hy aanvanklik op pad was. As rede vir die besoek aan Galilea word die gesegde aangehaal “dat ’n profeet nie in sy eie land geëer word nie.” Wat bedoel Jesus met “sy eie land”? Die een moontlikheid is dat Hy Judea bedoel, waar Hy tot dusver die grootste deel van sy tyd deurgebring en waar teenstand van die Jode begin toeneem het. Maar al is Jesus in Betlehem gebore, word Judea nie as sy eie land beskou nie. In al vier die Evangelies, word Galilea aangedui as die tuiste van Jesus. Daarom meen sommige verklaarders dat Jesus se “eie land” nie Judea of Galilea is nie, maar die hemel, en dat Hy met die gesegde bedoel dat Hy op aarde nie geëer sal word nie, al bevind Hy Hom ook in watter land.


“Hy het na Sy eiendom toe gekom, en tog het Sy eie mense Hom nie aangeneem nie” (1:11). Aan Israel is die belofte gegee dat die Messias sou kom. Hulle was Sy “eie mense” omdat Hy met Sy aardse lewe, uit die Jode gebore is. Maar juis die Jode het Hom verwerp – “hulle het Hom nie aangeneem nie”. Deur die koms van die Woord besoek God die wêreldsmensheid om aan hulle die verligting van kennis van saligheid te bring, maar hulle weier om die Woord te ontvang. Hulle besluit anders. Hulle luister maar hoor nie. Hulle soek wondertekens.


Daarenteen breek in Sigar, die Samaritaanse dorpie, ‘n herlewing uit! Jesus verlaat die plek waar die mense in groot getalle tot bekering gekom het en waar die mense daarop aandring dat Hy vir ewig by hulle moet bly, om na 'n plek te gaan waar die mense niks van Hom wil weet nie! Hoe vreemd! Toe Hy in Galilea kom (waar Hy volgens Homself, onbemind was) het die “Galileërs Hom verwelkom.” Hierdie ontvangs sou ‘n mens nie verwag nie maar die res van die vers gee 'n leidraad: ”Hulle het alles gesien wat Hy gedurende die feesvierings in Jerusalem gedoen het.” Die Galileërs het Hom nie op dieselfde manier ontvang as die Samaritane van Sigar nie. Die “veragtelike” Samaritane “het op grond van Sy woorde begin glo” – Húlle het Jesus se WOORDE geglo en hulle bekeer! Vir die Galileërs was dit net voordelig om 'n wonderdoener in hulle midde te hê. Hul vriendelikheid was nie ‘n hartsbegeerte gesindheid om Jesus te volg nie, hulle het Hom bloot bewonder – ontsaglike groot verskil!

Maar waarom sou Hy dan júís met opset na Galilea wou gaan wetende dat Hy verwerp sou word en die mense net op wonderwerke teer? God doen ongehoorde dinge! Hy verskaf nie antwoorde nie, Hy ís die antwoord! Dit was die Vader se plan van die begin af – dat Jesus Homself sou gee en gee en gee aan Sy eie mense wat Hom verwerp en uiteindelik sou oorgee om gekruisig te word. Dis presies wat Hy hier doen – Jesus GEE Homself nogeens aan diegene wat Hom ten diepste teëstaan en net wonderwerke soek. Is dit nie asemrowend nie?


Soms faal ons gelowiges, se geloof ook erg. Soms oorval hewige twyfel die gelowige. Soms kom daar twyfel óf die Bybel werklik die enigste waarheid is. Ons ontmoet mense wat in totale ongeloof leef, maar hulle is so oulik, fatsoenlik, ordentlik, respektabel en dit gaan uitstekend met hulle. Dan wonder ons of hulle regtig so verkeerd is? Sal sulke mooi mense werklik verlore gaan buite Jesus? Is óns ooit reg? Selfs mense van ander gelowe doen anders as ons – daar is van hulle wat byvoorbeeld vyf keer op ‘n dag bid – baie van ons bid net Sondae. Al hierdie twyfel asook die ander duisende soortgelyke vrae en stellings klink menslik en bly soms onbeantwoord.


Maar, hoe wil die Gees werk? Die Gees wil geloof skenk aan die aandagtige luisteraar. Die een wat, tydens die erediens, ingefokus is op die belofte van die Evangelie wat verkondig word – JESUS IS DIE EVANGELIE! Dáár werk die Gees geloof in hul harte. Só ontstaan ook meteens die egte ervaring! Terwyl ‘n mens LUISTER na die verkondiging, kom die Gees om jou harde hart sag te maak; om lig in duisternis te laat skyn; om dood met lewe te vervang. Hy werk dan die geloof wat CHRISTUS vasgryp en sê: “Ek is ook Syne, want Hy het my op die kruis Syne gemaak” – “Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is” (Rom 8:16). Hy beloof dit dan swart-op-wit!


Ware geloof laat nie vir Christus op ‘n afstand bly om bewonder te word nie – soos die Jode gedoen het nie of soos ‘n mooi ornament in jou vertoonkas nie! Nee, ware geloof maak HOM jou eie ómdat Hy éérste aan jou beloof het dat Hy jou Syne gemaak het op die kruis! Ons het nie tekens nodig om Jesus te beleef nie – die kruis is die teken!


“Geloof omtrent God is net kennis oor God maar geloof in God beteken dat ek my volle vertroue in Hom plaas en sonder twyfel glo dat Hy sal wees en doen volgens wat Hy gesê het” (Martin Luther).


Gebed: Here, ek bely dat ek soms soos Tomas is oor geloof – ek wil sien en voel. My geloof sit in my vingerpunte en in my oë. Maar dankie vir U Gees wat dit kom verander deur die saad van geloof in my hart te laat ontkiem sodat dit nie nodig is om tekens te soek om te glo nie, maar dat die kruis vir my genoeg is om te glo in U. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page