top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


JESUS EN DIE SAMARITAANSE VROU (6) – DIE NUWE GETUIE


Joh 4:28-33 (NLV) – “Die vrou het haar waterkruik net daar gelos, na die dorp toe gegaan en vir die mense gesê: ’Kom kyk self – ‘n man het my alles vertel wat ek al gedoen het. Is hy nie die Messias nie?’ Die inwoners het toe van die dorp af na Jesus toe begin stroom. Intussen het Sy dissipels Hom gesmeek en gesê: ‘Rabbi, eet tog net iets.’ Maar Hy het gereageer: ‘Ek het kos om te eet waarvan julle nie eers weet nie.’ Die dissipels sê toe onder mekaar: ‘Het iemand anders dalk vir Hom iets gebring om te eet?”


Vergelyk ook Fil 4:8 – “Alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.”


Die Samaritaanse vrou het skielik ‘n nuwe doelgerigtheid ontwikkel nadat Jesus vir haar gesê het: “Dit is Ek (die Messias) wat nou met jou praat” (v 26), sodat sy haar waterkruik net daar gelos het en terug dorp toe is om die mense te vertel wie sy ontmoet het. Sy was só haastig om haar nuus te gaan meedeel of sy het geweet sy gaan terugkom, of miskien was die kruik gelos vir Jesus om te drink want dit is wat Hy aanvanklik gevra het.


Die inhoud van die vrou se boodskap is verrassend. Sy gaan vertel nie van die lewende water of die ware aanbidding nie, maar deel met vrymoedigheid haar persoonlike ondervinding mee. Dit gaan om haar sondige lewe. Jesus “het haar alles vertel wat sy al gedoen het.” Hy het dus nie net haar verkeerde leefwyse aan haar bekend gemaak nie, maar ook die dade van sonde wat sy gepleeg het. Die feit dat Jesus dit gedoen het, was vir die vrou op daardie oomblik nie aangenaam nie, maar die vrug daarvan was bevryding van sonde.


Daarom het sy nou ’n boodskap om te verkondig, en dit is juis hierdie boodskap wat maak dat mense uitgaan om met Jesus kennis te maak. In daardie kultuur het 'n vrou nie sommer vir mense – waar daar mans teenwoordig is – gaan bydam met mededelings nie en buitendien, aan vroue as sulks, se getuienisse was geen waarde aan geheg nie. Hierdie uitgestote vrou, met ‘n twyfelagtige reputasie, het skielik groot vrymoedigheid en gaan skaamteloos aan die babbel. Noudat sy die genade van verlossing ondervind het, wys sy Hom aan as die Messias, die Verlosser wat sou kom. Sy stel haar oortuiging wel in die vorm van ’n vraag: “Is hy nie die Messias nie?”, maar die lig het beslis vir haar deurgebreek. Die onweerstaanbare genade, krag en werking van die Here Jesus, het haar weerstand afgebreek, haar onkunde opgeklaar en haar hart oorwin.


Uit die dorp het ’n stroom mense na Jesus begin kom. Die oproep van die vrou het in vrugbare aarde geval. Haar optrede was merkwaardig – die eerste dissipels het net enkelinge na Jesus gebring (Joh 1:35-42), maar sy bring die inwoners van ’n hele dorp; die dissipels was in Sigar en het ’n paar brode teruggebring wat Jesus, ten spyte van Sy honger, nie eers geëet het nie. Die vrou het mense gebring. Al het sy ’n sondige verlede gehad, was sy nou ’n vurige getuie, die eerste na Johannes die Doper en op haar getuienis was daar ryke vrug.


Jesus is regtig die Messias want daar is ánder dinge wat Hom versadig as gewone kos. Toe die dissipels aandring dat Hy iets moet eet, sê Hy vir hulle dat Sy voedsel is om Sy Vader se wil te doen, naamlik om die uitverkorenes te verlos – soos byvoorbeeld die Samaritaanse vrou wie se verlossing, Sy voedsel is. Dít versadig Hom – om te sien hoe die lig vir iemand opgaan. Dit tel meer punte as om elke etenstyd aan tafel te wees. Wat Sy honger stil, Sy dors les, Sy moegheid wegneem – is om iemand tot geloof te sien kom. Dit oortref alles by verre. Die werklike honger is om te doen wat God vra!


Ons kan nie van Jesus getuig as ons Hom self nie eers gevind het nie. Ons het dalk ook sogenaamde “geraamtes in die kas” wat ons verleë liewer bewaar as geheime, wat ander tog nie van moet uitvind nie. Wanneer jy egter Jesus “gevind” het, bring jy alle sondes na Hom toe, neem afskeid van jou donker verlede en in Sy lig begin jy ‘n nuwe lewe. Al daardie slegte gewoontes wat ‘n houvas op jou het en jou soos ‘n mislukking laat voel of soos ‘n uitgestotene Samaritaanse vrou, neem die wyk wanneer die Messias deel word van jou lewe. Laat toe dat Sy liefde jou volkome oorneem en los jou foute van die verlede daar by Hom en vervang dit met iets beters soos Paulus voorstel in Fil 4:8.


“Sonde heers soewerein totdat die soewereine genade van God dit onttroon” (Charles Spurgeon).


Gebed: Here, Soos hierdie Samaritaanse vrou het ons ook ’n boodskap om te verkondig. Dit maak nie saak watter vorm van duisternis op ons toegesak het nie want U as die Messias, vervang die duisternis met U ewige lig. Dankie dat U my honger en dors, my vrese, eensaamheid, ongeloof of wat ook al, vervang met alles wat prysenswaardig is en ewigheidswaarde het. Daarom kan ek ook met vrymoedigheid getuig: “Kyk wat het die Messias vir my gedoen, kyk wat en wie is ek nou.” Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page