top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


JESUS EN DIE SAMARITAANSE VROU (5) – “EK IS” DIE MESSIAS


Joh. 4:25-27 (NLV) – “Die vrou sê vir Jesus: ‘Ek weet dat die Messias kom, Hy wat die Christus genoem word. Wanneer Hy ook al kom, sal Hy ons oor alles inlig.’ Toe sê Jesus vir haar: ‘Dit is Ek wat nou met jou praat.’ Op daardie oomblik het Sy dissipels teruggekom. Hulle was verstom dat Jesus besig was om met ‘n vrou te praat. Nietemin het niemand haar gevra: ‘Wat wil jy nou eintlik hê?’ of vir Hom: ‘Waarom knoop U ‘n gesprek met haar aan?’


Vergelyk ook Deut 18:18 – “Ek sal ‘n profeet soos jy (Moses) onder die mede-Israeliete opwek. Ek sal die profeet vertel wat om te sê en hy sal die volk alles vertel wat Ek hom beveel.”


Nog is die vrou se blus nie uit nie. Ná alles breek die lig nog nie ten volle tot haar deur nie. Sy is steeds verward. Sy het vroeër gemeld dat Jesus ‘n profeet is (v 19), daarom aanvaar sy Jesus se diepsinnige uitsprake oor die ware aanbidding, maar met voorbehoud. Die gesprek gaan nou oor diep godsdienstige dinge en daaroor kan sy nie saampraat nie, maar omdat sy met die godsdiens van haar mense bekend is, (vyf boeke van Moses), weet sy van die Messias wat kom en ”wanneer Hy ook al kom, sal Hy hulle oor alles inlig.” Hy sal die volle waarheid daaromtrent openbaar. Hy sal ook nie net oor die plek van aanbidding die waarheid bekend maak nie, maar oor “alles”. Vir haar sal die woorde van die Messias finaal wees. Dan volg Jesus met ‘n dinamiese konfrontasie: “Dit is Ek wat nou met jou praat.” Dit is nie ‘n droom van die Waarheid wat nog moet kom nie, dit is die Waarheid self – “Ek is” die Messias. Jesus verklaar eerste aan ’n vrou dat Hy die Messias is, en nogal aan ’n Samaritaanse vrou!


“Op daardie oomblik kom Sy dissipels terug van die dorp af en hulle was verstom dat Jesus besig was om met ‘n vrou te praat.” Maar al vind die dissipels Jesus se optrede strydig met die gedragsvoorskrifte, waag hulle dit nie om vrae te stel nie. Vrae aan Jesus sou van wantroue getuig, en daarvoor het die dissipels te veel eerbied vir Hom. Hulle het al geleer dat Jesus die gesag het om van die gedragspatroon van hulle tyd af te wyk, en dat Hy dit ook doen ten einde ’n belangrike oogmerk te verwesenlik. Iemand wat die groot stap na ware dissipelskap neem, leer om te sê: ”Dit is nie vir my om die handelinge en eise van Jesus te bevraagteken nie. My vooroordele en tradisies neem in die teenwoordigheid van Jesus, ‘n ander plek in.”


Wat wel belangrik is, is dat Jesus die vrou en elkeen wat hier lees voor ‘n besliste keuse stel: “Aanvaar jy dat hierdie Jesus die Messias is?” Jesus is waarlik die Messias want kyk hoe beheers Hy alles. Die dissipels arriveer presies op die regte oomblik nét toe Jesus aan die vrou bekendmaak Wie Hy regtig is. Hulle móés dit hoor en hulle móés sien hoe Hy na 'n heidense vrou uitreik en dat die verlossing nie meer net vir die Jode is nie. Hulle móés sien hoe Hy die grense oorsteek en skeidingsmure tussen mense afbreek. Het hulle 'n minuut later terug gekom, was die vrou al weg. Het hulle 'n minuut vroeër terug gekom, het hulle die klimaks van die gesprek verongeluk. Hulle reistyd is deur Hom beheer. Hy beheer “alles”! Hy is regtig die Messias!


Jesus is waarlik die Messias want kyk hoe het Hy ‘n impak op die Samaritaanse vrou se lewe gemaak. Haar skuldgevoel is weg. Haar sonde is weg. Haar verlede is weg. Sy gaan vertel vir die mense in Sigar: “Hierdie man het vir my alles vertel wat ek gedoen het (v 29).” ‘n Mens sou dink sy sou liewer 'n gordyn oor alles wil trek, want die mense het haar in elk geval juis dáároor verwerp. Maar sy is net eenvoudig vry. Sy is bevry. En sy trek baie mense uit die dorp na Jesus toe en hulle kom tot geloof (v 39). Die dissipels was ook in die dorp, maar hulle bring niemand na Jesus nie terwyl die vrou die hele dorp se mense bring. Die Heilige Gees bekragtig haar, want andersins sou niemand hulle aan haar steur nie. Wát 'n omwenteling in een mens se lewe! Jesus het ‘n geweldige positiewe invloed op haar gehad! Dit bewys dat Jesus regtig die Messias is.


“At the beginning of the conversation He did not make himself known to her, but first she caught sight of a thirsty man, then a Jew, then a Rabbi, afterwards a prophet, last of all, the Messiah. She tried to get the better of the thirsty man, she showed dislike of the Jew, she heckled the Rabbi, she was swept off her feet by the prophet, and she adored the Christ” (Ephraem van Sirië)


Gebed: Wie is ‘n God soos U? Ons staan verstom maar opgewonde by U wat magtig is om ons van struikeling te bewaar en ons onbevlek en met vreugde U heerlikheid te laat ingaan. Dankie dat U die verdruktes red. Dankie dat U my, sondaarmens, se lampie laat helder skyn. Dankie Heer dat U lig gee as dit donker is om my. Dankie dat U my voete onder my uitneem en dit soos ‘n ribbok op hoë plekke laat stewig staan. My hulp en vreugde kom alles van U. Amen


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page