top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


JESUS EN DIE SAMARITAANSE VROU (2) – DIE LEWENDE WATER


Joh 4:10-15 (NLV) – “Jesus het daarop gereageer: ‘As jy maar net hierdie gawe van God vir jou geken het, en geweet het wie dit is wat vir jou vra: ‘Gee vir My water om te drink,’ sou jy Hóm gevra het en Hy sou vir jou water gegee het wat tot die ewige lewe lei.’ Die vrou sê vir Jesus: ‘Meneer, jy het nie eers ‘n skepding nie, en die put is regtig diep. Van waar kry jy dié lewende water? Jy is beslis nie belangriker as ons vader Jakob wat hierdie put vir ons gegee het en self saam met sy seuns en diere daaruit gedrink het nie.’ Jesus antwoord haar: ‘Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors word. Wie egter van die water drink wat Ek vir hom sal gee, sal ‘n fontein in hom word waarvan die water vir altyd sal bly opborrel.’ Die vrou sê toe vir Hom: ‘Meneer, gee my van hierdie water sodat ek nie weer dors word en hierheen hoef te kom om water te skep nie."


Vergelyk ook Op 21:6b – “Elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe, verniet.”


Dit is opmerklik dat die gesprek tussen Jesus en die Samaritaanse vrou feitlik dieselfde trant volg as dié tussen Jesus en Nikodemus. Sy verstaan Jesus se woorde letterlik, antwoord Hom eers beleef as “meneer“ en dan voeg sy ‘n onbeleefde “jy” in haar gesprek in. Die vrou se houding spreek amper van meerderwaardige parmantigheid en sarkasme. Sy is uit die geslag van Jakob en staan op die erfgrond van haar voorvaders, so wat is hierdie dors Jood se storie? Wat wil hy eintlik hê? Hy het nie eers ‘n skepding nie en dan wil Hy vir haar “lewende water” gee wat afkomstig was van ‘n rivier of fontein! Die Samaritaanse vrou, om dit lig te stel, hou nie van hierdie Jood nie. “Julle dink mos julle is te goed vir ons en nou sit jy en praatjies aanknoop (v 9b).”


Op Sy kenmerkende manier vermoei Jesus Hom nie met beuselagtighede soos die verskil tussen Jode en Samaritane nie. Daar is twee dinge wat belangriker is naamlik “wat God gee” en “wie dit is” wat met haar praat. Hy kan vir haar water gee “wat tot die ewige lewe lei.” Jakob kon net ‘n put met gewone water gee – Jesus gee ‘n fontein wat nooit opdroog nie. Jesus se water het ewigheidswaarde wat jou geestelike behoeftes vir altyd sal vervul en vergelyking daarmee is Jakob s’n maar skraal. Daardie geestelike “water” is juis die “gawe van God” en daarvan is Jesus, wat met die vrou praat, die verskaffer.


Wat gebeur hier? Die rolle word omgekeer. Aanvanklik is Jesus die dorstige en die vrou beheer die bron van water. Skielik word sý die dorstige en Hý is die bron van lewende water. Die Fontein kom vra vir die Samaritaanse vrou iets te drinke en verklaar dan dat sý eintlik nodig het om by Sý fontein te drink! ”Wie egter van die water drink wat Ek vir hom sal gee, sal ‘n fontein in hom word waarvan die water vir altyd sal bly opborrel.” Dít juis is die nuwe element in die godsdiens wat Jesus na vore bring: die lewende water wat Hy gee, is daar vir almal – nie net vir die Jode nie, maar vir almal, ook vir die “Samaritane.” Hierdie water word nie maar net ’n gawe wat ons vir onsself kan hou nie – dit word ‘n opborrelende fontein. Dit is veel meer as net die nuwe toestand van gered te wees.


Wie eers eenmaal daarvan gedrink het, se dors word nie geles nie, jy kom terug vir nog – jy bly verlang na die genade van God. Calvyn sê in hierdie verband: “Die woorde van Christus weerspreek nie die feit dat gelowiges tot die einde van hulle lewe oorvloediger genade vurig begeer nie. Hy bedoel immers nie dat ons so drink dat ons van die eerste dag af volkome versadig is nie, maar wel dat die Heilige Gees ’n altyd vloeiende fontein is. Daar is dus geen gevaar van ‘droogte’ in die lewe van iemand wat van die geestelike water gedrink het nie”.


Dit is ’n bruisende, opborrelende, oorvloediger lewe. Daarom vloei dit voort om ook ander te verkwik. Die einddoel is dat hierdie water die mens wat daarvan gedrink het, êrens heen voer: dit bring hom by ’n blye eindbestemming, die ewige lewe. Die natuurlike water kan dus die lewe in stand hou, mits daar herhaaldelik gedrink word; maar die “lewende water van Jesus” bring oorvloedige geestelike lewe hier in die tyd, en dit voer tot die ewige lewe in heerlikheid.


“God wil die hele tyd die werklike goeie dinge vir ons gee, maar ons hande is te vol ander dinge om dit te ontvang” (Augustinus)


Gebed: O Heer, in my is daar ‘n verlange na meer. Ek is dors vir méér as wat fonteine kan bied. Ek dors na Uself, na U wat Here is en lewend maak. Ek besit so baie, maar ek het so min, solank ek U nie het nie. Kom vul my met U lewende water sodat ek elke dag meer en meer daarna kan smag. Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page