top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


JOHANNES DIE DOPER GETUIG VAN JESUS (2) – HY WAT VAN DIE HEMEL KOM


Joh 3:31-36 – “Hy wat van bo af kom, is bo almal; hy wat van die aarde is, hoort by die aarde en praat die taal van die aarde. Hy wat uit die hemel kom is bo almal. Wat Hy gesien en gehoor het, dit getuig Hy, en tog aanvaar niemand sy getuienis nie. Wie sy getuienis aanvaar het, het daardeur bevestig dat God geloofwaardig is. God het Hom immers gestuur, en Hy spreek die woorde van God, want God gee Hom sy Gees sonder enige beperking. Die Vader het die Seun lief en het alles in sy hand gegee. Wie in die Seun glo, het die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom.”


Vergelyk ook Ps 118:26 – “Prys hom wat in die Naam van die Here kom!”


Johannes die Apostel, roep vir Johannes die Doper in as eerste getuie om te getuig dat Jesus Christus waarlik God is. Johannes die Doper het – uit homself – aanvanklik self ook nie verstaan wie Jesus werklik is nie. Die Doper se getuienis van wie Jesus is, kon nie kom deur sy eie natuurlike insigte en begrip nie – selfs al het hy Hom 30 jaar geken as neef. “Ek het self ook nie geweet wie Hy is nie, maar Gód het vir my gesê...” (Joh 1:33). Hy het sy insig in wie Jesus is, dus van God ontvang.


Die Doper se getuienis kan nie geminag word nie! Sy getuienis bevat ‘n groot aantal belangrike uitsprake oor die onvergelyklike verhewenheid van Jesus. Al is die Doper ’n profeet en spreek hy die woorde wat hy van God ontvang, bly hy tog nog ’n mens wat uit die aarde kom en aan die aarde gebonde is en kan hy nie teenoor “Jesus wat uit die hemel kom”, opweeg nie, Hy is verhewe bo almal. Jesus weet wat God wil hê want Hy het alles in die hemel “gesien en gehoor en dit getuig Hy.”


Volgens die Doper is Jesus, God se amptelike Gestuurde en daarom het Hy God se volmag en gesag tot Sy beskikking. As gevolg van die unieke verhouding tussen God die Vader en Sy Seun Jesus Christus, vertrou God vir Jesus met alles. Saam met die algehele beheer oor Sy Vader se koninkryk, “gee God Hom sy Gees sonder enige beperking”, ook. Deur die Gees kry Jesus met ander woorde volle toegang tot die krag van God self! Jesus is dus die enigste betroubare openbaarder van God. Hy ken God die beste en daarom is Hy die enigste Weg na God toe (Joh 14:6). Wie Jesus verwerp, verwerp God!


Watter implikasie hou dit vir ons aardse bewoners in? Iemand wat die getuienis van Jesus gelowig aanvaar, doen meer as om die redding van sy lewe te verkry – deur sy geloof in Christus bevestig hy die waarheid en betroubaarheid van die heilswerk wat God in Christus verrig het. Die mens se beslissing vir Jesus is ’n getuienis na buite dat God die mens daadwerklik red. God is dus volstrek geloofwaardig, en daardie geloofwaardigheid word betuig in die koms van die Seun. Elkeen wat glo, weet deur die Gees, met onwankelbare sekerheid dat hierdie dinge die waarheid is. En deur die feit dat hy glo, bevestig hy ook dat God in sy heilsopenbaring volstrek geloofwaardig is. Die ware geloof is gerig op Jesus self, die Seun van God, wat deur die Vader gestuur is om die lewe te bring vir dié wat glo en gelowig bly.


“Ons is krom en skeef maar as ons gewillig is, (soos die Doper), gebruik God ons om ‘n reguit draad vir Sy koninkryk te span” (Oom Paulus Joubert)


Gebed: Onse Vader, ons is so dankbaar dat U liefde vir ons veroorsaak het dat U vir Jesus gestuur het om die weg vir ons tot die ewige lewe te open. Weer eens word bevestig dat die “ewige lewe” reeds in hierdie lewe die besit word vir ons, as gelowiges in Jesus, en die straf van U ook nou reeds op die ongehoorsames bly. Dankie dat ons verseker kan wees dat ons kan deel in die geskenk van die ewige lewe. Help ons dat ons nie so styf aan die aardse vasklou dat ons die hemel misloop nie. Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page