top of page

E-kerk - Gedagte vir die Dag


Matt 5:4“ Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.”

Ons raak nou heerlik gemaklik hier teen die heuwel terwyl Jesus preek. Laat ons net so bietjie nader skuif want ons kon netnou nie baie mooi hoor nie. Wag, nou moet ons mooi luister, eers regskuif, gemaklik wees. Mooi regop sit sodat ons goed kan hoor...

Het die Man van Nasaret gesê: “Geseënd is dié wat treur? Hoe nou? ‘n Geseënde treurende – dit pas mos nie bymekaar nie. Of, kyk Jesus dalk déúr ons? Sien Hy dalk die pyn dwarsdeur ons klere? Weet Hy waar die pyn vandaan kom sodat ons treur?

Ons wil nie pyn en lyding hê nie. Ons wil nie treur nie. Ons wil sukses hê. Ons identifiseer nie met diegene wat treur nie. Ons hou nie van ellendelinge nie maar soek eerder diegene op wat vol lewe is. Ons wil nie hoor van dood, verbrokkeling van huwelike, kwaaivriendskap, werksverliese, finansiële probleme en al die dinge wat ons laat treur nie. Maar wat sê U Jesus? “Hulle sal vertroos word.” Ja, werklik, dit is waar. Ons onthou nou dat koning Dawid ook gesê het al gaan ons deur donker dieptes, God by ons is. In God se hande is ons veilig! Dankie tog!

Gebed: Onse Vader, U ken ons deur en deur. U ken ons sit en ons opstaan. U ken ons daaglikse kom en gaan. Ons het soms hierdie aangeplakte vriendelike houding en gesig. Maar dankie Here dat U egter van beter weet en elkeen se treurende oomblikke vasvang in U vertrooste hande en weet wat om met ons pyn te maak.

Amen

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page