top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


JESUS EN NIKODEMUS (13) – GELOOFSKEUSE (2)


Joh 3:19-21 – “En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hul dade was sleg. Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie. Maar wie volgens die waarheid handel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is.”


Vergelyk ook Joh 7:7 – “Die wêreld kan vir julle nie haat nie; maar hy haat My, omdat Ek openlik verklaar dat sy dade sleg is.”


Johannes verklaar onomwonde dat dit in elkeen wat kwaad doen se aard is om die lig te vermy. Die kwaaddoener se afkeer van die lig is so sterk dat hy “immers die lig haat”. Vergelykbaar met die oorspronklike Grieks is sy dade sleg, sondig, gemeen en veragtelik. Kom ons noem hierdie kwaaddoeners die “nagdissipels” van die wêreld.


Hoekom is dit so moeilik vir “nagdissipels” om die Lig en selfs hulle wat die Lig verkies, te aanvaar? Wat is dit dat die Lig vir só baie mense aanstoot gee en selfs te verag? Omdat die Lig anders is as die wêreld – “In die verlede toe julle nog heidene was, is julle lewe lank genoeg beheers deur julle heidense begeertes: losbandigheid, wellus, dronkenskap, swelg- en drinkpartye en afskuwelike afgodery. Nou vind die heidene dit vreemd dat julle nie langer met hierdie stroom van losbandigheid saamgaan nie, en hulle beswadder julle (1 Pet 4:3-4). Die “nagdissipels” is kwaad omdat hul pelle nie meer saam kuier nie en beskou die pelle selfs as dwase wat die “lewe” verruil het vir ‘n onsienlike God. Gelowiges in Jesus Christus word dan uitgeskel as vervelende snobs.


Daar word nie meer gedeel in die “nagdissipels” se korrupte lewenswyse nie want “wie volgens die waarheid handel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is.” ‘n Broer-in-misdaad maak dit makliker om te erken dat “almal dit tog doen.” Die “nagdissipels” staan dan skielik alleen wanneer sommige van hierdie “almal” na die lig toe kom. Die “nagdissipels” se gode is hul sondige wellus en dit skei hulle van die “skynheiliges.”


Dissipels “wie volgens die waarheid handel” het met hul getuienisse van “dade wat in gehoorsaamheid aan God gedoen is”, veroorsaak dat hulle verag word want hulle het die groot leuen oor ongelowigheid ontbloot. Wanneer “nagdissipels” die lig gewys word, verkies hulle eerder die donkerte. Hulle is so diep ingedompel in hul verkeerde dade dat hulle nie daar gesteur wil word nie. “En so kom die skeiding........”. Die “nagdissipels” haat die lig en wil dit afgesit hê maar wil dit nie self afskakel nie. Hulle soek fout by mense (gelowiges) “wie volgens die waarheid handel” en blaas dan alles op om ander op te sweep om ook die lig af te kry. Hulle val die getuie aan om die getuienis uit te wis! Hulle haat die gelowiges want die gelowiges het hulle aan die lig ontbloot!


“Gelowiges wat deur Christus lig vir die wêreld geword het, hoef dit nie te verkondig nie. Dit sal self wys! Vuurtorings gebruik nie kanonne om die aandag op hulle te vestig nie. Hulle skyn net!” (Dwight Moody).


Gebed: Here, wanneer ons rondom ons kyk, lyk die wêreld deurmekaar. Die wêreld gaan gebuk onder skrikwekkende misdadigheid en haatdraendheid. Ons besef dat ons stryd nie teen vlees en bloed is nie, maar teen die bose magte in die lug. Dankie Here dat ons egter ook weet dat U Gees wat in ons woon, magtiger is as die gees van die wêreld. Laat ons stil word voor U en ons opnuut toewy aan U. Laat ons die goeie stryd stry om mense wat in die donker is, na die Ewige Lig te bring. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page