top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


JESUS EN NIKODEMUS (12) – GELOOFSKEUSE (1)


Joh 3:19-21 – “En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hul dade was sleg. Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie. Maar wie volgens die waarheid handel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is.”


Vergelyk ook Joh 1:4-5 – “In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.”


Op grond van die mens se keuse om te glo of nie te glo nie, “kom daar skeiding”. Dit is soos ’n keuse tussen lig en duisternis. Lig dui op die goeie in teenstelling met die kwade wat duisternis is. Johannes verwys reeds in 1:4 dat Jesus gekom het as die lig vir die mense. Maar die mense het Hom verwerp omdat hulle eerder die duisternis liefgehad het. Omdat hulle lewe en al hulle lewensuitinge sondig en sleg was, het hulle die duisternis as skuiling gesoek en geweier om in die volle lig van die waarheid te tree. Gevolglik bly hulle onder die oordeel.


Jesaja het duisende jare terug al beskryf hoe God as die Lig in die donkerte van die volk geskyn het – “Die volk wat in donkerte geleef het, het 'n groot lig gesien, oor die wat in die donker land was, het 'n lig geskyn" (Jes 9:1). Net so het Jesus as die Lig van die evangelie na ons gekom wat in die donkerte van sonde gehul was. Instede van donkerte van verderf het ons die lig van vrede en seën; instede dat die donkerte van die dood ons tref, ontvang ons die lig van die lewe; instede van die donkerte van onkunde, die lig van kennis; instede van die donkerte van die sonde, die lig van genade en redding en hierdie redding het ‘n totale ommekeer in ons lewe veroorsaak.


Al is die donkerte so dig dat dit spreekwoordelik “voelbaar” is, kan dit nie eers ‘n klein kersvlammetjie uitdoof nie – wat nog te sê van die lig wat Christus aangesteek het – Sy lig skyn aanmekaar in die duisternis. Sommige het egter die duisternis liewer as die lig – “en so kom die skeiding”. Wie lewe en deel is van die gesin van God, sal nie bang wees om in die lig te leef nie. Almal kan sien wat hulle doen. Hulle konkel en kul nie en hul dade dra die “regte vrugte”. Ons optrede is dus die “barometer” vir ons verhouding met God.


‘n Lewe in Jesus se Lig is ‘n keuse by elke mens, dit is nie vanselfsprekend nie. Dit is ‘n keuse wat ons daagliks moet herhaal. Satan en sy bose magte se hoofdoel is om ons buite die ligkring van God se genade te kry en as hy eers sy voet in die deur gekry het, hou hy nie op met sy pogings nie. As ons in die lig wil bly moet ons die deur gesluit hou en as mense van die lig lewe. “Die pad van die regverdiges is soos helder oggendlig wat groei en sterker word tot dit heeltemal dag is” (Spr 4:18).


“God het aan die mens ‘n eie wil gegee, maar hy moet dit gebruik om die regte keuses te maak” (Fulton Sheen).


Gebed: Here, maak ons bereid om die sonde wat donkerte bring, te vermy. “Close the door to temptation” klink die liedjie, maar in werklikheid is dit veel meer as dit – ons bestemming is nie ‘n kwessie van toeval nie, maar ‘n kwessie van keuses. Dit is asof die donkerte ons so maklik oorheers terwyl ons eintlik in die lig wil wees. U is die skeiding tussen lig en donker en waar U is, is daar lig en ewigdurende lewe. Help ons asseblief deur U Gees om daagliks in U lig te bly en dat die duisternis ons nooit oorwin nie. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page