top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


JESUS EN NIKODEMUS (7) – DIE LIEFDE VAN GOD (1)


Joh 3:16 –“God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”


Vergelyk ook 1 Joh 4:8b-9 – “God is liefde. Hierin is God se liefde vir ons geopenbaar: Sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê.”


Uit God, die Bron van die liefde, gaan die werking van die liefde uit na die wêreld, en hier is sprake van die hoogste en heerlikste openbaring van die liefde in die een daad: “God het sy enigste Seun gegee!!!”. Johannes beklemtoon “Om lief te hê”, 36 keer in sy Evangelie. Hier is dit egter die enigste maal wat hy hierdie liefde tot die wêreld beperk. God se liefde is onbeperk – ver, wyd, hoog en diep strek dit – met ander woorde dit is allesdeurdringend en allesomvattend!


Hierdie dertig woorde van Johannes 3:16 vertel die mooiste storie ooit! Wie ken hierdie versie nie uit sy of haar kop uit nie? Dít is die opsomming van die Evangelie! Eenvoudig. Kort. Kragtig. Asemrowend mooi. Kosbaar vir God se kinders. Die goeie nuus van die Evangelie in ’n neutedop! Sou God ons dalk ‘n rede vra hoekom Hy ons in Sy hemel moet toelaat wanneer ons aardse lewe ten einde kom, is hierdie aangrypende woorde van Johannes die antwoord!


Baie mense in ons dag vind dit steeds moeilik om te aanvaar dat God nie ‘n gevreesde Regter is wat uit die hemel sit en wag dat die mens ‘n fout moet maak sodat Hy daardie oortredings op allerlei maniere kan straf nie. Die God van die Ou Testament was gevrees deur Sy volk. Selfs Abraham was bereid om sy seun te offer omdat hy God gevrees het en nie alleen omdat hy aan God gehoorsaam was nie. Ons moet egter onthou dat hierdie “gevreesde God”, dieselfde God van liefde is wat in die gestalte van Jesus Christus onder ons kom woon het. Deur Jesus se lewe en dood het Hy die liefde van God na die mensdom gebring om die vrees te verdryf en op dié wyse ‘n nuwe pad gebaan tot ‘n nuwe verhouding met God.


Dit is vir almal bedoel. Die liefde van God open die deur tot redding, maar wie daardie liefde nie met geloof in Jesus Christus beantwoord nie, gaan verlore!!!!! En in die lig van die voorafgaande deel van die gesprek met Nikodemus is dit die wedergeborenes wat tot die geloof kom en die lewe verkry. Die geloof is dus in sy oorsprong die werk van God maar ook ’n bewuste daad van die mens. Die liefde van God plaas die mens voor ’n keuse en hy dra self die verantwoordelikheid vir sy beslissing.


“God het elkeen van ons só lief asof daar net een van ons is om lief te hê” (Augustine).


Gebed: Hemel Vader, God van liefde, in frustrasie oor ons sondaars roep U seker uit: “Hoe kan Ek jou vernietig? Ek kan dit nie oor my hart kry nie want My liefde brand te sterk” (Hos 11:8). Dankie Here dat U ‘n God van omgee is, ‘n God wat nie net ‘n enkeling of ‘n nasie lief het nie, maar ‘n God wat die wêreld so lief gehad het dat U vir elkeen wat glo, die ewige lewe gee. Here, dit is onbeskryflik om te dink: EK MAAK VIR U SAAK!!! Dankie Here!!! Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page