top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


"WAAI DEUR MY"

JESUS EN NIKODEMUS (4) – WEDERGEBOORTE (2)


Joh 3:8 – “Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waarheen hy gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is.”


Vergelyk ook Rom 8:9 – “Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie.”


Ons kan in die idioom van ons tyd vir Nikodemus met sy uitstekende CV, die titel van professor in Teologie gee. Nogtans was hy verbaas oor Jesus se prediking en sommige uitsprake het hy selfs vreemd gevind. Miskien is daar nog Nikodemusse wat Jesus se uitspraak van Joh 3:8 “vreemd” vind.


Feitlik elke Sondag bely NG Kerkgangers dat ons in die Heilige Gees glo. In Sondag 20 van die Kategismus word ook gevra: “Wat glo jy van die Heilige Gees?” Die vraag word beantwoord met verskeie tekste uit die Bybel as vergelykings: “Ten eerste is Hy saam met die Vader en die Seun ware en ewige God. Ten tweede is Hy ook aan my gegee sodat Hy my deur 'n ware geloof deel laat kry aan Christus en al sy weldade, my troos en ewig by my bly.”


Wie is die Heilige Gees en wat doen Hy? Hy is een van God se drie persone. Die misterie hiervan is dat God een Wese is, maar in Sy almagtige Godheid bestaan Hy ook in drie Pesone wat elkeen Sy eie werkswyse het. Hulle werk nooit los van mekaar nie. Die bewys hiervoor is dat die Gees van sowel die Vader as van die Seun af uitgaan en in ons werk – “Dan is dit nie julle wat praat nie, maar die Gees van julle Vader wat deur julle praat” (Matt 10:20); “En omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur” (Gal 4:6). Die feit is dat ons deur die Heilige Gees deel kry aan Jesus Christus en Sy verlossingswerk. Die Gees gee aan ons geloof, lei ons tot weergeboorte en laat ons groei in die geloof. Maar hóé die Gees met ons gees werk en in ons werk, bly ‘n misterie!


Die Heilige Gees beweeg ons om uit die sonde uit te beweeg deur te appelleer teen ons gewetes wanneer ons iets verkeerd doen. Hy bewerk sekere geloofsvertroue in ons dat ons aan die Here behoort wat natuurlik die basis is van ons lewensvreugde. Die Heilige Gees maak van ons ‘n nuwe mens – “Ek sal julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ‘n hart van vleis gee” (Eseg 36:26). Sonder die weergeboorte wat van “Bo” af kom wat die Gees in ons bewerk, is daar geen sprake van bekering of geestelike groei nie. Ons kan eintlik met respek sê: “Die Gees is die ‘naelstring’ wat ons aan God verbind.”


Dit is waar ons enigste ware troos lê – in die Heilige Gees ons Vertrooster! As ons self ons geloof moes bewerk en op ons eie kragte moes staatmaak, nie net om te glo nie maar ook om aan te hou glo, sou ons in ‘n geweldige vrees verval het. Ons is só onvolmaak en hou aan om daagliks foute te maak as gevolg van die erfsonde, dat ons nie ‘n ander keuse het as om deur die Gees na God toe te draai en na Hom te soek en te vra nie. Ons behoort aan Jesus Christus en geen sonde wat ons ook al wanneer in ons lewe gedoen het, kan ons skei van die liefde van God en ook nie van die ervaring van die gemeenskap van die Heilige Gees nie.


Nikodemus het in die nag na Jesus toe gegaan om vrede vir sy gemoed te vind. As dit nog nag is in jou gemoed en die werking van die Heilige Gees as deel van die Drie-Eenheid onverstaanbaar is, moenie alleen voel nie. Bid dan vir meer geloof al verstaan jy dit nie. Sonder geloof in Jesus Christus kan ons nie gered word nie. Geloof is die hande wat die Gees aan ons gee sodat ons God se genade verlossing in Christus kan omhels. Maar die kom en gaan van die Gees lê buite ons beheer, net soos dié van die wind. God stuur sy Gees uit om die harte van sy uitverkorenes te vernuwe en hulle te herskep tot geestelike kinders van God aan wie toegang tot die koninkryk toegesê is. Juis omdat alles die werk van die Heilige Gees is, hoef ons nie soos Nikodemus daaroor te wonder nie, glo en vertrou net.


“Elke keer as ons bely: ‘Ek glo in die Heilige Gees,’ bedoel ons dat ons glo dat daar ‘n lewende God is wat gewillig is om in mense te woon en hulle persoonlikhede te verander” (John Stott).


Gebed: Dankie Gees van God dat U hierdie groot waarheid diep in ons harte kom indra sodat ons nooit hoef te twyfel nie: “Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is” (Rom 8:16). Ons Vader, dit is een van die aangrypendste waarhede dat ek as sondaar ‘n kind van U kan word. Dankie dat U deur U groot genade gewillig was om my U kind te noem. Saam met Johannes wil ek juig: “Maar aan almal wat Jesus Christus aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van U te word” (Joh 1:12). Dankie Abba, Vader. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page