top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


JESUS EN NIKODEMUS (2) – ‘n NUWE MENS


Joh 3:3-6 – “Daarop sê Jesus vir hom: ‘Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.’ Nikodemus vra Hom toe: ‘Hoe kan ‘n mens gebore word as hy al ‘n ou man is? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in sy moeder se skoot kom en gebore word nie?’ Jesus het geantwoord: ‘Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie. Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees.


Vergelyk ook Tit 3:5 – “Hy het ons verlos, nie op grond van wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee.”


Nikodemus, die man met ‘n uitstekende CV besoek Jesus in die nag. As Jood het hy beslis gepoog om die Talmoed te gehoorsaam. Dit was nou dié boek wat Jode presies geleer het hoe om te lewe, wat reg en verkeerd was, wat die moets en die moenies in die lewe was. Alleen oor die hou van die Sabbat, was daar byvoorbeeld 24 hoofstukke vol voorskrifte. Hoe maklik, kan ons aflei, was dit nie om een van hierdie baie wette te oortree nie? Hoeveel keer moes mense soos Nikodemus nie gewonder het of hulle dalk nie tog iets vergeet het, of dalk iewers tog ‘n wet oortree het nie? En as jy ernstig oor dit alles was, kon dit nie anders as om tot onvrede in jou hart te lei nie.


‘n Verandering was nodig, het Nikodemus heel waarskynlik aangevoel. En hy het ‘n vermoede gehad dat Jesus dit kon gee. Al vra Nikodemus nie ‘n vraag nie, hy maak eintlik net ‘n stelling oor Jesus wat van God af moet kom, is dit duidelik dat hy onderrig gesoek het in verband met die vernuwing van die lewe en die godsdiens waarop die tekens van Jesus dui. Hy verwag van Jesus ’n uiteensetting van die nuwe leefwyse, maar Jesus bring hom van hierdie spoor af deur daarop te wys dat dit nie om ’n uiterlike leefwyse gaan nie maar om ’n radikale innerlike lewensvernuwing wat gelyk is aan ’n nuwe geboorte. Dit gaan om ’n nuwe geboorte of ’n wedergeboorte wat van “Bo” uit die hemel deur God bewerkstellig word en die mens ‘n hartsverandering laat ondergaan, en tot ’n kind van God maak.


Jesus antwoord sy ongevraagde vraag wat diep in sy binneste spook: “Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” Dit is radikale taal! Om een van God se mense te kan wees, het jy ‘n hergeboorte nodig. Nikodemus steier voor hierdie gedagte, want hoe kan hy wat al oud is, weer gebore word? Dit is amper of hy wil sê: “Jesus, ek het die geestelike krag van ‘n ou man. Hoe kan U verwag dat ek weer gebore moet word as ek nie eers meer kan onthou of vye op die Sabbat geëet mag word of nie? ‘n Ou man kan tog nie weer gebore word nie.”


En hoe antwoord Jesus? Hierdie nuwe geboorte, Nikodemus, Gert, Ansie, kom van ‘n ander plek af, dit kom van “BO” af. Dit is nie ‘n geboorte uit ‘n mens nie, dit is ‘n geboorte uit die Gees. Dit is wat God met ons doen. Voel ons nie ook maar soms geestelik moeg en afgemat nie? Struikel ons nie maar soms ook net meer en meer nie? Voel ons nie soms dat ons geloof nie meer die moeite werd is nie? Harder probeer gaan nie werklik help nie. Meer dissipline is nie die oplossing nie. Want God se boodskap is eenvoudig: “Dit is nie wat jy doen nie, dit is wat Ék doen. Ek het deur my Gees by jou ingetrek en jou nuutgemaak. Ek het jou harde hart in ‘n sagte hart verander, ‘n omgee hart. Lewe vanuit en deur die Gees, en mettertyd sal jy net soos Paulus kan sê: ‘En dit is nou nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe” (Gal 2:20).


Dit alles is omdat God Sy Seun aarde toe gestuur het om hier volkome Mens te kom word en ons Sy Gees gegee het – ons ‘n hartoorplanting kom gee het sodat ons van binne af uit nuut kan word. God sal met ons doen wat ons nie gedroom het Hy met ons kan doen nie. God sal ons van binne na buite verander. En dit alles begin waar ons nie alleen dié tyd van die jaar Sy koms na hierdie wêreld toe vier nie, maar ook weet dat Hy nie maar net na hierdie wêreld toe gekom het nie, maar tot in my hart gekom het.


“Hulle wat nie die Christus van Kersfees in hulle harte het nie, soek dit tevergeefs toegedraai in geskenkpapier onder ‘n Kersboom” (Roy L. Smith)


Gebed: Here, ons wil vandag dit uitjubel: ”My God leef en U Seun sê ek moet ‘n sagte hart hê – ‘n veranderde, nuutgemaakte hart.” Daar is so baie mense nog wat “anders” wil wees – Dié met ongenaakbare en selfsugtige harte wie se gedrag maak dat hul anders is as wat U dit wou hê. Dié wat wel hier op aarde bo uitgekom het in alles wat hulle gedoen het, maar hul harte verloor het. Eendag gaan staan daardie hardvogtige hart, en dit gaan dalk beteken hulle gaan nie BO uitkom nie. Maar dit is hulle wat BO uitkom wat die nuwe aarde ontvang en daarom bid ons vir hulle: Jesus is besig om met lewende woorde aan te kondig dat God se nuwe wêreld aangebreek het. Wees net naby Hom, dan hoor jy dit! Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page