top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


JESUS EN NIKODEMUS (1) – DIE NAGVOLGELING


Joh 3:1-2 – “Daar was ‘n man met die naam Nikodemus. Hy het aan die party van die Fariseërs behoort en was ‘n lid van die Joodse Raad. Een nag het hy na Jesus toe gekom en vir Hom gesê: “Rabbi, ons weet dat U ‘n leermeester is wat van God afgekom het, want niemand kan hierdie wondertekens doen wat u doen, as God nie by hom is nie.’


Nikodemus was ‘n baie belangrike man in Joodse kringe. Hy was ‘n Fariseër en lid van die Joodse Raad, die Sanhedrin. Een van net ses duisend Fariseërs en een van net sewentig lede van die Joodse Raad. ‘n Ekspert op sy gebied en ‘n man wat die Wet van God geken het en dit nougeset toegepas het. Hy was iemand wat ander kon leer in die Wet en mense het na hom opgesien vir leiding. Hierdie Wet was die eerste vyf boeke van die Ou Testament en het met ander woorde, vir die deursnee Jood alles bevat wat ‘n mens benodig het om ‘n goeie lewe te ly en Nikodemus het dit waarskynlik foutloos nagekom.


Tog was daar ‘n leemte in Nikodemus se hart. Hy was verward, ‘n man met baie goeie getuigskrifte maar op soek na die waarheid. Op een of ander manier wou hy in die donkerte van die nag, antwoorde kry wat hom na die lig kan lei. Hy kon egter nie waag om met sy kollegas daaroor te praat nie want hy is dan self ‘n raadgewer vir ander. Hy besoek Jesus in die nag, moontlik omdat hy nie deur sy kollegas gesien wou word nie of andersins dat hy nie bedags met Jesus ‘n alleengesprek sou kon voer nie want Jesus was gedurig omring deur mense. Hierdie leermeester motiveer sy hoë dunk van Jesus deur Hom “Rabbi en leermeester wat van God afkomstig is”, te noem en te verwys na die wonders wat Jesus gedoen het.


Jesus ken egter die mens (Joh 2:25) en sonder dat Nikodemus Hom van sy leemte vertel of ‘n vraag daaromtrent vra, lyk dit asof Jesus nie reageer op wat hy gesê het nie. Hy weet dat Nikodemus nie sy reputasie as lid van die Joodse Raad op die spel wil plaas nie. Hy wil Jesus dien maar nie openlik nie. Jesus stel hom egter nie as Leermeester teleur nie en Hy leer Nikodemus nou wat regtig God se wil is. Dit is egter nie altyd wat ‘n mens verwag nie maar indien Nikodemus bedoel wat hy sê, moet hy nou na Jesus luister!


Nikodemus het in die stikdonker van sy twyfel en verwarring na Jesus gekom. Hy kan eintlik die “nagvolgeling” genoem word. Sy geloof het meer vrae as antwoorde. Hy het die reëls van die Wet geken, maar nie die God wat die reëls gemaak het nie. Hy was dalk ‘n skynende lig in die gemeenskap maar het self in die duisternis van onkunde van die Waarheid geleef – ‘n leermeester wat self geleer moes word.


Watter vorm van duisternis ook al om ons toegesak het, Jesus skakel die lig van waarheid en geloof aan om ‘n nuwe begin moontlik te maak. Ons moet egter ‘n Nikodemus word wat ten spyte van al ons goeie getuigskrifte, na Jesus Christus toe moet draai. Hy ken ons probleme, ons vrese, ons eensaamheid en ongeloof. Stel jou oop vir Sy wysheid, waarheid en krag en trek voordeel uit Sy heerskappy oor die magte van die duisternis. Wanneer ons na Jesus kom, kom ons uit die duisternis en beweeg ons tot in die helder lig van Sy waarheid en liefde.


“Jesus het aarde toe gekom vir mense met die verkeerde “papiere” sodat hulle ‘n nuwe kans by God kan kry” (Stephan Joubert)


Gebed: Leidsman en Leermeester, lei my uit die nag van my verwarring tot in die dagbreek van U lig. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page