top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


JESUS KEN DIE MENS (2)


Joh 2:23-25 – “Terwyl Jesus vir die viering van die paasfees in Jerusalem was, het daar baie mense tot geloof in Hom gekom toe hulle die wondertekens sien wat Hy doen. Maar Hy het nie vertroue in hulle gestel nie, omdat Hy geweet het hoe hulle almal is. Hy het nie nodig gehad dat iemand Hom iets van ‘n mens vertel nie, want Hy het self geweet hoe mense is.”


Vergelyk ook Jer 1:5a – “Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het ek jou geken.”


Johannes beklemtoon hier dat baie mense “begin glo het”. Daar was dus nog die moontlikheid dat hulle nie in die geloof sou volhard nie. “Baie mense het tot geloof in Hom gekom”, beteken egter nie hulle het Hom as Verlosser aanvaar nie, maar bloot net ’n volgeling-geloof gehad.


Hierdie drie verse se opskrif is eenvoudig en tog aangrypend – “Jesus ken die mens” – Natuurlik omdat Jesus self mens was, maar ook omdat Jesus God is en omdat Hulle die mens gemaak het (Gen 1:26). Jesus ken mense! “Hy het nie nodig gehad dat iemand Hom iets van ’n mens vertel nie, want Hy het self geweet hoe mense is.” Op sulke mense, mense wat Hom net volg vir die wonders, het Hy Hom nie verlaat nie omdat Hy geweet het hoe hulle almal is. Letterlik het Hy geweet hulle het hulleself nie regtig aan Hom ‘commit’ nie, daarom het Hy Hom nie aan hulle ‘commit’ nie. Die skrikwekkende gedagte van hierdie verse is dat selfs daardie mense aan wie Jesus Hom nie verbind nie, gelowiges genoem word!


Mense hou van aksie! Om Jesus te volg moes ’n besondere ervaring gewees het. Hierdie ‘Miracle worker’ wat kos meer maak, siekes laat opstaan, storms stilmaak, skole visse laat vang moes ‘awesome’ gewees het. En dit is vandag nog so. Mense hou daarvan om op plekke te wees waar dinge gebeur wat die verbeelding aangryp. Dit is miskien een van die redes waarom baie mense so maklik van kerke verruil. Mense stroom van een plek na die ander omdat daar dikwels meer aksie is – meer goed wat gebeur, meer ‘lewendig’. Dit is wat baie van hierdie volgelinge agter Jesus laat aanloop het! ’n Geloof wat aan die gang gehou moes word deur aksie, deur wonders en tekens. Hulle het agter Jesus aangeloop oor die sensasie van dit wat Hy kan doen! En interessant, juis daarom gaan Jesus baie versigtig met wonders om, want Hy ken mense.


Wanneer Jesus sê Hy ken mense kyk Hy diep tot in die volgelinghart. Hy kyk deur en verby die uiterlike klere van godsdienstigheid en Hy sien hartsmotiewe raak. Want Hy wil nie net gevolg word op grond van dit wat Hy kan doen nie. Hy wil in verhouding wees met my lewe omdat Hy my ken nog voor ek gebore is (Jer 1:5). Hy ken my sit en opstaan. Hy ken my gedagtes. Hy ken my seer en my pyn en verlange (Ps 139). Hy kan elke dag sien waar niemand anders kan sien nie, en luister waar niemand anders kan hoor nie. Hy ken my beter as wat ek myself ken. Hy ken al die dae van my lewe, ook dit wat onbekend voor my uitgestrek lê. En dit is ’n ongelooflike wete dat God my ken. ’n Wete wat my ontbloot en ontnugter, maar tog ook diep kan troos. God ken my, Hy verstaan my.


’n Ware dissipel en ware geloof is om agter Jesus aan te loop bloot net omdat jy Hom liefhet. ’n Ware gelowige dissipel van Jesus is iemand wat in hierdie vreemde wêreld vrede vind in die koestering van ’n Goddelike teenwoordigheid wat met ons in ’n verhouding lewe. Iemand wat in hierdie God se teenwoordigheid vrede vind, selfs al maak dinge nie sin nie en al gebeur dinge nie onmiddellik nie. Vrede in God se teenwoordigheid vind selfs in die stil en donker tye van die lewe. Dit is in dáárdie harte wat Jesus kyk en dit is aan dáárdie harte waaraan Hy Hom verbind. Ware gelowiges wat Hom opsoek en dien omdat Hy God is. En dit is dáárdie harte wat God ken, waar God tog ook ons behoeftes raaksien, ons swakheid begryp en wonder bo wonder, wonders in ons lewe doen. Hoe volg ons vir Jesus? Wat sien God as Hy vandag sê: “Ek ken jou”?


“Dit is maklik om eenmalig as bewonderaar waagmoedig agter Jesus aan op die water te loop. Om Hom elke dag as Sy dissipel op droë grond te volg, is ‘n ander storie” (Oswald Chambers).


Gebed: Here, U konfronteer my met my eie menswees. As U só diep kan kyk, wat sien U raak? Wat sien U agter die skerm wat ek opsit? Ook die geloofsmombakkies wat ek opsit wanneer ek godsdienstig voorkom en selfs gelowig U volg? Wat sien U in my hart, wat is die motief agter die feit dat ek U volg? Dankie dat U só diep kyk, dit is hoekom ek U volg. Wanneer ek egter verdwaal op hierdie geloofspad, bring my asseblief terug op U weg. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page