top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


JESUS KEN DIE MENS


Joh 2:23-25 – “Terwyl Jesus vir die viering van die paasfees in Jerusalem was, het daar baie mense tot geloof in Hom gekom toe hulle die wondertekens sien wat Hy doen. Maar Hy het nie vertroue in hulle gestel nie, omdat Hy geweet het hoe hulle almal is. Hy het nie nodig gehad dat iemand Hom iets van ‘n mens vertel nie, want Hy het self geweet hoe mense is.”


Vergelyk ook 1 Kon 8:39 – “Luister tog uit die hemel, U woonplek, vergeef en gryp in en gee aan elkeen wat hy verdien soos U sy hart ken, want net U ken elke mens se hart.”


Jesus het tydens die paasfees in Jerusalem gebly en daar het Hy wondertekens gedoen wat nie alles vir ons beskryf is nie. Sommige van die mense wat die tekens gesien het, het daaroor nagedink en tot geloof gekom. Jesus laat Hom egter nie imponeer deur die feit dat baie op grond van die tekens wat hulle gesien het, tot die geloof in Hom gekom het nie. Hy ken die mens soos dit vir geen mens moontlik is om te ken nie. Hy sien dieper as die uiterlike en weet dat hierdie geloof, hoe welkom ook al, nog nie die egte geloof is nie. Hier is nog te veel wondergeloof wat nie die toets sal deurstaan nie. Jesus het geweet “hoe hulle almal is”: hulle is die mense wat nog sou uitroep: “Kruisig Hom!”


Johannes wil alleen sê dat dit nie nodig is dat enige mens, al is hy ook die beste mensekenner, aan Jesus hoef te kom vertel hoedanig die mens is nie. Net soos God die kenner is van die harte van mense (1 Kon 8:39), ken Jesus ook die swakheid en wispelturigheid van die mens. In Sy Goddelike alwetendheid ken Hy die gedagtes, die begeertes en die geheime planne van die mens. Daarom kan niemand Hom met lis uitoorlê of deur vleiery bedrieg nie.


Jesus weet dat daar baie mense hom volg net oor die wondertekens wat Hy doen. Vir baie was en is Hy vandag nog net die Man van Nasaret wat deur sensasie mense gelok het om Hom te volg. Hy het geweet die mens verstaan nie Sy eintlike doel op aarde nie en indien Hy op daardie stadium aan hulle verduidelik het dat daar meer van die mens verwag word om Hom opreg te volg – die opneem van die kruis, om te dien, self-verloëning, oorgee aan die wil van God, om ter wille van Sy Naam vervolg te word – sou baie Hom net aangestaar het en daar omgedraai het om ‘n ander rigting in te slaan.


Om Jesus na te volg verg opoffering, dienslewering en volharding. Om ‘n Christusvolgeling te wees is ‘n duur storie. Ons raak maklik meegevoer deur lofprysing en sang en selfs ‘n “mooi” preek en neig dan tot oorgawe – “Ja Here, van nou af gaan ek enduit agter U aan loop en saam met U beweeg” – net om later uit te vind dit is moeilik om jouself prys te gee of soos Jesus, jou kruis opneem. Om jou kruis op te neem is nie ‘n eenmalige heldedaad nie, dit is ‘n jare lange volgehoue doen van dade, liefde en opoffering wat dikwels heel onsmaaklik is. Die aansluitingspakket by Jesus het geen byvoordele soos ‘n mooi kar of gewaarborgde veiligheid nie. Jy word inderdaad hemelse sout vir ‘n smaaklose wêreld! Gelukkig weet ons dat wanneer ons wys ons staan in Sy wingerd, is die oes groot.


“Die mens is wat hy of sy in die oë van God is en nie ‘n greintjie meer of minder nie” (Franciscus van Assisi).


Gebed: Hemel Vader, wanneer U ons roep om U te volg, weet U daar is geen prestasie wat ek aan U voete kan neerlê nie. U weet dat ek eintlik met leë hande na U toe kom, ‘n sondaarmens met niks om U mee te beïndruk nie want U ken my. Maar dankie dat U selfs in my geval, ‘n wonderteken verrig deur U met my te vermoei. Deurdrenk my lewe met U hemelse Krag. Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page