top of page

E-Kerk -Gedagte vir Vandag


DIE REINIGING VAN DIE TEMPEL (1)


Joh 2:13-16 – “Die paasfees van die Jode was naby, en Jesus het daarvoor na Jerusalem toe gegaan. Op die tempelplein het Hy die verkopers van beeste, skape en duiwe gekry en die geldwisselaars wat daar sit. Toe het Hy met toutjies ‘n sweep gemaak en almal uit die tempel uitgejaag, ook die skape en beeste. Die geld van die geldwisselaars het Hy op die grond gegooi en hul tafels omgekeer. Vir die mense wat die duiwe verkoop het, het Hy gesê: ‘Vat hierdie goed hier weg! Moenie die huis van my Vader ‘n besigheidsplek maak nie.”


Vergelyk ook Mark 11:17 – “Toe het Hy die mense geleer en vir hulle gesê: ‘Staan daar nie geskrywe: My huis sal ‘n huis van gebed vir al die nasies wees nie?’ Maar julle het dit ‘n rowersnes gemaak.”


Kort na Jesus se eerste “wonderteken”, (buitengewone dinge wat Jesus doen met ‘n spesiale boodskap), gaan Hy Jerusalem toe om die Paasfees wat sewe dae geduur het, te gaan vier. Tydens hierdie fees is die uittog uit Egipte herdenk. Dit was ook die gebruik vir Joodse pelgrims wat regoor die destydse wêreld verspreid was, om die fees by te woon.


Met Jesus se aankoms by die tempel vind Hy “verkopers van beeste, skape en duiwe en die geldwisselaars wat daar sit.” Met goeie rede was hierdie mense eintlik ‘n hulp vir die pelgrims wat instede om met hul offerdiere te reis, sommer daar op die tempelplein gekeurde diere te koop, natuurlik teen ’n wins vir die handelaars. Die geldwissellaars was daar omdat mense nie enige geld in die tempel kon aanbied nie. Geld byvoorbeeld met die kop van die keiser op, is nie aanvaar nie. ‘n Ander rede was dat munte met onsuiwerhede ook nie as tempeloffer aanvaar is nie en die geldwisselaars het gesorg dat munte met die regte metaalinhoud beskikbaar is, ook teen ‘n wins.


Dit is begryplik dat daar groot bedrywigheid en heelwat lawaai in die tempel was toe Jesus daar aankom. Die gewyde atmosfeer was ru versteur deur die luidkeelse aanprysing van die koopware. “Met toutjies het Jesus ‘n sweep gemaak en almal uit die tempel uitgejaag, ook die skape en beeste. Die geld van die geldwisselaars het Hy op die grond gegooi en hul tafels omgekeer.” Daar word egter nie gesê dat Jesus inderdaad die sweep gebruik het nie. Veeleer dien dit as teken van sy gesag, en met daardie simbool van gesag tree Hy op met die gesag van ’n koning. Die duiweverkopers word beveel om hulle goed weg te neem. Niemand durf Hom teenstaan nie, want sy optrede is met goddelike majesteit. Hy motiveer sy optrede met: “Moenie die huis van my Vader ’n besigheidsplek maak nie.” Hy tree dus op met Messiaanse gesag.


Met die uitjaag van die skape en beeste wat vir die offers bestem was, het Jesus nie die einde van die Israelitiese offerdiens aangekondig of ingelui nie. Hy het ook nie die verkoop van die diere en duiwe veroordeel nie, maar wel met beslistheid dit afgekeur dat die tempel afgewater word as handelsritueel en gebruik word as plek vir so ’n mark. Daar was in die buurt van die tempel plek genoeg vir daardie dinge. Die huis van die Here moes afgesonder bly as ’n “huis van gebed” (Mark 11:17).


Jesus maak beswaar omdat die klem verskuif het van God af geld toe. Vir Jesus gaan dit om die ontheiliging van “die huis van my Vader”. Die Jode wat so gesteld daarop was dat niks wat onheilig is, die tempel mag binnekom nie, sluit hulle oë wanneer dit om geldelike gewin gaan. Hulle hoor nie en word nie eers beïndruk nie, dat Jesus van God as sy Vader praat nie. Die probleem was dat die tempel (kerk) nie meer ‘n ontmoetingsplek met God was nie. In plaas van mense bewus te maak van God en Sy teenwoordigheid word Hy onteer.


Jesus verskoon nie alles wat ons doen nie, Hy veroordeel inderdaad. Wanneer ons deur die “tempel” van ons eie lewe stap, is daar nie soms tye wat ons ander mislei nie? Gaan dit nie soms oor ons eie voordeel nie? Gaan dit nie soms oor jóú geloof in plaas van jou gelóóf nie? Gaan dit nie oor óns sang in plaas van sang tot eer van God nie? Geniet God nog voorrang in ons erediens of het dit ‘n ritueel geword? Stap ons nie maklik uit die erediens uit in ‘n wêreld waar ons maar net weer met ons alledaagse sondige lewe voortgaan nie? Jesus wil die tempel (kerk) herskep in ‘n plek van aanbidding en ‘n plek waar God beleef kan word, ‘n plek waar ons gewillig na die Woord luister en gaan doen wat die Gees vra.


“Baie mense gebruik Jesus en die kerk soos baie met ‘n bus maak, hulle gebruik dit net wanneer dit in hulle rigting gaan” (Dale Campbell).


Gebed: Heilige Jesus, help my om deur U Gees ontslae te raak van alles wat in my lewe verkeerd is. Help my om my “tempel” skoon te kry voordat U my tot orde roep. Amen


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page