top of page

E-Kerk -Gedagte vir Vandag


DIE BRUILOF IN KANA (2)


Joh 2:6-12 – “Daar het ses klipkanne gestaan vir water wat die Jode by hulle reiniging gebruik het. Elkeen het tussen negentig en honderd liter gehou. Jesus sê toe vir die kelners: ‘Maak die kanne vol water.’ Hulle het dit tot bo toe volgemaak. Toe sê Hy vir hulle: ‘Skep nou daarvan uit en gaan gee dit vir die seremoniemeester.’ Hulle het dit gedoen. Die seremoniemeester het nie geweet waar dit vandaan kom nie, maar die kelners wat die water uitgeskep het, het geweet. Toe die seremoniemeester die water proe wat wyn geword het, roep hy die bruidegom en sê vir hom: ‘ ‘n Mens sit gewoonlik eers die goeie wyn voor, en as die mense goed gedrink het, dié van swakker gehalte; maar jy het die goeie wyn tot nou toe teruggehou.’ Hierdie eerste wonderteken het Jesus in Kana in Galilea gedoen. Hy het daardeur Sy mag laat blyk, en Sy dissipels het tot geloof in Hom gekom. Hierna het Hy, sy moeder, sy broers en sy dissipels na Kapernaum toe gegaan, maar hulle het nie baie lank daar gebly nie.


Volgens Joodse gebruik moes die hande gewas word voordat iemand by ’n maaltyd aansit asook tydens die ete. Die stofpaaie het ook veroorsaak dat die voete gewas moes word. (Joh. 13:4). Vir dié doel was ’n ruim voorraad water nodig. By die ingang na die plek van die bruilof het daar ses klipkanne met water gestaan wat aangewend was vir dié doel. Elkeen kon tussen negentig en honderd liter water hou.


Op Jesus se bevel maak die kelners die kanne tot bo vol. ‘n Wonder gebeur as gevolg van die gehoorsaamheid van die kelners. (Ek wonder wat was die kelners se reaksie op hierdie wonderteken van Jesus? Het hulle met geloofsoë ‘n dieper begrip van Jesus gekry en het hulle “nuut” geword, soos “Sy dissipels tot geloof in Hom gekom het” of het hulle onaangeraak weggestap?) Daarna moes die nuwe wyn aan die “seremoniemeester” gegee word om te proe en hy bevestig dat dit trouens beter wyn is as dié wat tot dusver bedien is. Die seremoniemeester is oortuig dat die bruidegom in stryd met die gewone gebruik eers die wyn van swakker gehalte aangebied het. Die wyn van die hemelse Bruidegom is altyd beter as die van die aardse bruidegom.


Om te illustreer dat Hy die Seun van God is, verander Jesus die stowwerige vuil water wat onder andere gebruik is om die gaste se voete te was, in die beste wyn. Die wonder beteken egter nie dat hulle al die goeie wyn toe uitgedrink het nie, maar dat Jesus die verleentheid raakgesien het en Sy allerbeste vir Sy vriende en hulle vriende gee om hulle met lewensvreugde te vul by ‘n huwelik waar dit ‘n plek van feesviering behoort te wees. Die hemelse Bruidegom sorg altyd in oorvloed vir Sy mense!


Deur in te tree en die wyn te voorsien, het Jesus ook die verantwoordelikheid van die bruidegom op Hom geneem. Hy doen hierdie wonderteken in ‘n huis waar nie baie mense teenwoordig is nie. Dit bring Jesus binne die huislike omstandighede waar gewone dinge van die lewe gebeur. Daar waar nie voorgegee word nie. Daar waar ander ons nie sien of ken nie en ons kan optree soos ons wil. In baie gevalle nie altyd ten goede nie want ander sien net ons goeie kant. Vir Jesus is ‘n huis waar niks beter as slegs die beste is nie. Voorop staan die ses klipkanne met hulle groot inhoudsmaat van 600 liter wat die ryke oorvloed wat Jesus geskenk het, beklemtoon.


Johannes wil beklemtoon: Wanneer Jesus in ons alledaagse lewe inkom, is dit soos vuil water wat verander in die beste wyn. Sy teenwoordigheid verander die lewenskwaliteite van gewone dinge na lewensvreugde wat alles oortref. Wanneer Jesus my verander, buig Hy my nie só dat dit ongemaklik is nie, Hy maak my ook nie oor nie maar Hy verander my soos die pottebakker sy klei vorm in die beste produk. Jesus maak van die ou mens ‘n nuwe mens. Die hemelse Bruidegom se wyn is beter, dit is ‘n versorging vir ons in oorvloed! Is hy uitgenooi na jou huwelik?


“Slegs in gesprekke met Jesus wat lewe in oorvloed gee, word ons bewus van die vretende leegheid van ons vol bestaan” (Dorothee Sölle).


Gebed: Dankie Here dat U my vrot water in ‘n borrelende nuwe lewe wil verander. Ons moet egter net seker maak U is die eregas by ons “huwelik”. O Heer, die vreugde wat ‘n lewe in ‘n verhouding met U bied is só anders as dié wat die wêreld uitdeel. Vul ons met die beste “wyn” wat U vir laaste hou, wat ons nooit weer dors laat kry nie. Maak ons tot oorlopens toe vol met U teenwoordigheid. Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page