top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


"JESUS KEN MY TOE EK NOG ONDER DIE VYEBOOM WAS"

DIE EERSTE DISSIPELS (4) – JESUS KEN MY!


Joh 1:47-51 – “Toe Jesus vir Natanael na Hom toe sien aankom, sê Hy van hom: ‘Hier is ‘n ware Israeliet, ‘n man in wie daar geen bedrog is nie.’ Natanael vra Hom toe: ‘Waarvandaan ken U my?’ ‘Voordat Filippus jou geroep het,’ antwoord Jesus hom, ‘toe jy nog onder die vyeboom was, het Ek jou al gesien.’ Toe roep Natanael uit: ‘Rabbi, U is die Seun van God; U is die Koning van Israel!’ Daarop sê Jesus vir hom: ‘Glo jy omdat Ek vir jou gesê het dat Ek jou onder die vyeboom gesien het? Jy sal nog groter dinge as dit sien.’ Verder sê Jesus vir hom: ‘Dit verseker Ek julle: Julle sal die hemel oop sien en julle sal die engele van God sien op- en afklim na die Seun van die mens toe.”


Vergelyk ook Ps 32:2 – “Dit gaan goed met die mens vir wie die Here die oortreding nie toereken nie en in wie se gees daar geen valsheid is nie.”


Wanneer Natanael na Jesus toe aankom, maak Jesus ’n opmerking oor hom en daarmee verdwyn sy verstandelike besware van Nasaret. Nie eers ‘n plek soos Nasaret kon ‘n skadu oor Jesus se grootheid gooi nie. Die opmerking van Jesus laat blyk dat Hy Natanael deur en deur ken, al was dit ook die eerste ontmoeting.


Jesus verklaar dat Natanael “’n ware Israeliet is, ’n man in wie daar geen bedrog is nie”. Natanael is verbaas dat Jesus hom ken nog voordat hulle mekaar ontmoet het. Sy vermoede dat Jesus oor bonatuurlike, profetiese kennis beskik, word bevestig wanneer Jesus verklaar dat Hy Natanael onder die vyeboom sien sit het nog voordat Filippus hom geroep het. Elke Israeliet het gewoonlik by sy huis ’n vyeboom of ’n wingerdstok gehad waar hy rustig in die koelte kon sit – “Elke man sal onder sy eie wingerd sit, ongesteurd onder sy vyeboom” (Miga 4:4).


Dit was ook die plek van gebed en nadenke en van gewigtige beslissings. Daar sou Natanael ook nagedink het oor die koms van die Messias. En dit gebeur nie sonder die wete van Jesus nie. Deur te verklaar dat Hy hom tóe al gesien het, openbaar Jesus Sy goddelike alwetendheid en laat Hy Sy volgelinge iets sien van Sy heerlikheid. Natanael is oorweldig en met groot beleefdheid spreek hy Hom aan as “rabbi” en volg dan met die Messiaanse belydenis: “U is die Seun van God; U is die koning van Israel!” Natanael dink egter net in terme van Israel. Hy is so pas ’n ware Israeliet genoem en nou begroet hy Jesus as Koning van Israel. Sodoende onderwerp hy hom aan die koningsheerskappy van Jesus en stel hy sy lewe beskikbaar aan sy Koning.


Jesus antwoord met ’n retoriese vraag: ‘Glo jy omdat Ek vir jou gesê het dat Ek jou onder die vyeboom gesien het? Jy sal nog groter dinge as dit sien.’ Hy het “geglo”. Daardeur het hy die eerste geword, volgens hierdie Evangelie, wat in Jesus glo. Hy het Jesus aanvaar as die Messias. Dit was maar ’n geringe saak wat Natanael tot geloof gebring het, maar Jesus belowe dat hy nog groter dinge sal sien.


Natanael was nie soseer verras oor die feit dat Jesus hom onder die vyeboom sien sit het nie, maar die feit dat Jesus sy gedagtes en hart geken het. Hier is ‘n Man wat my drome ken en verstaan. Hier is ‘n Man wat my gebede ken, ‘n Man wat tot binne my mees persoonlike en geheime verwagtinge kan “sien”. Hier is ‘n Man wat selfs my onverstaanbare siel kan ontleed. Jesus verseker ons dat Hy veel meer as net ons harte ken – Hy kan vir elkeen wat in Hom glo die Weg wees na die Vader in die hemel toe, die “leer” om van die aarde af op te klim tot in die hemel wat Hy oopgemaak het. Hy en Hy alleen is die “brug” na die hemel wat oopgegaan het en oop bly sodat ons voortdurende gemeenskap met die Vader kan hê.


“Jesus roep ons om Hom te volg, maar Hy dwing ons nie. Hy werk met vrywilligers” (John Donne).


Gebed: Here, U ken my deur en deur. U ken my sit en my opstaan. U “sien” my lewe geheel en al. Saam met Dawid bely ek dat “daar nog nie ‘n woord op my tong is nie, of U Here, weet wat dit gaan wees. U omsluit my van alle kante” (Ps 139:4-5). Ek verstaan nie altyd die pad wat U my op lei nie want soms voel dit of dit 'n ompad is. Maar ek is vol vertroue in U leiding want dit is die enigste Weg, die “leer” na die hemel toe. U lei my nie op 'n ompad nie maar U is oppad met my. Neem my hand en lei my dag na dag op U pad en na U wil. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page