top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


DIE EERSTE DISSIPELS (1)


Joh 1:35-39 – “Die volgende dag het Johannes weer daar gestaan, met twee van sy volgelinge by hom. Toe Jesus verbyloop, het Johannes stip na Hom gekyk en gesê: ‘ Dáár is die Lam van God!’ Die twee het hom dit hoor sê en hulle het Jesus gevolg. Toe Jesus omkyk en sien dat hulle Hom volg, vra Hy vir hulle: ‘Wat soek julle?’ en hulle het Hom geantwoord: ‘Rabbi’ – dit beteken leermeester – ‘waar gaan U tuis?’ Hy sê toe vir hulle: ‘Kom saam, dan sal julle sien.’ Hulle het toe gegaan en gesien waar Hy tuisgaan. Dit was omtrent tienuur die môre, en hulle het daardie hele dag by Hom gebly.”


Johannes vertel vervolgens die unieke verhaal van Jesus se eerste dissipels. Die Doper staan by die plek waar hy preek en doop, sien Jesus loop en het “stip na Hom gekyk”, en doelgerig aanwysend vir twee van sy volgelinge gesê dat Hy die Lam van God is. In reaksie daarop het hulle dadelik “Jesus gevolg.” Jesus roep nie hierdie manne nie en die Doper stuur hulle ook nie agter Jesus aan nie. Hulle volg Hom uit eie keuse op grond van hulle geloof in Hom. Daardie geloof is gewek deur die getuienis van Johannes die Doper.


Hulle neem van hulle eerste leermeester, Johannes, afskeid en voeg hulle voortaan by Jesus. Hy moes sekerlik geweet het dat sy getuienis oor Jesus, die lojaliteit van sy eie volgelinge sou laat verskuif na ‘n nuwe Leermeester, en nogtans doen hy dit. Die gehoorsaamheid van Johannes aan sy eie roeping en opdrag, en sy grootheid van gees, blyk daaruit dat hy deur sy prediking en gebaar juis op Jesus wys as sy meerdere. Hy lê niks in hul weg wanneer sy eie leerlinge hom verlaat om hulle by Jesus aan te sluit nie.


Hulle was seker te skaam om Jesus direk te nader daarom loop hulle uit respek ‘n entjie agter Hom. Jesus neem die inisiatief om met die twee huiwerende mense kontak te soek. Sy vraag: “Wat soek julle?”, klink miskien onvriendelik maar eintlik open sy vraag ‘n gesprek wat tot volle oorgawe en volgelingskap sal lei. Jesus se vraag is dus ‘n stuk evangelie verkondiging! Hulle verleentheid blyk daaruit dat hulle Jesus nie dadelik kon antwoord nie maar eerder vra ”waar gaan U tuis?” Hy nooi hulle vriendelik “Kom saam, dan sal julle sien.”


Wat ‘n wonderlike uitnodiging? Hier het ons die simbool van God se inisiatief! Dit is altyd Hy wat die eerste stap neem. Wanneer ons huiwerend in ons gedagtes en ons harte begin soek, is God daar om ons te ontmoet. God los nie iemand om te soek en dan ten einde laaste na Hom te gaan nie, Hy nooi ons uit – “kom saam, dan sal julle sien.” Om te kan “sien” is nie om Jesus se woonplek met die vleeslike oog te sien nie, maar die aanraking met Jesus wat die geestesoog open om die openbaring van God se liefde te “sien.” Die gevolg daarvan is dat jy die “hele dag by Hom bly.”


“Dit is nie nodig om God te gaan soek nie, Hy het ons reeds gevind. Hy kruip nie weg of hou ons op ‘n afstand nie, Hy neem die inisiatief om ons op ons pad te ontmoet” (Augustine)


Gebed: Jesus, ek het ook al gevra: Wat soek ek? Wat wil ek graag uit die lewe hê? Wat is my doel en verwagtinge van die lewe? Dan het die wêreldsdinge my antwoorde gevorm. Sekuriteit, ‘n goeie betrekking met genoeg geld, materialistiese besittings, persoonlike ambisies wat die beste uit die lewe kan uithaal. Natuurlik is dit nie verkeerd nie want U het ons geseën met ambisie. Maar Here, dit is doelwitte wat nie ewigheidswaarde het nie. Sonder U is daar geen veilige sekuriteit in hierdie veranderende wêreld nie. Skenk ons U vrede en vrede met ons naaste. Die vrede wat ons die “heel dag by U laat bly!” Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page