top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


JOHANNES DIE DOPER SE GETUIENIS (4) – DIE SEUN VAN GOD

Joh 1:32-34 – “Verder het Johannes getuig: ‘Ek het duidelik die Gees soos ‘n duif uit die hemel sien kom, en Hy het op Hom gebly. Ek het self nie geweet wie Hy is nie, maar God wat my gestuur het om met water te doop, het vir my gesê: ‘Die Een op wie jy die Gees sien kom en bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.’ Ek het dit self gesien en daarom getuig ek: Hy is die Seun van God.”


Vergelyk ook Mark 1:10-11 – “Net toe Hy uit die water kom, het Hy die hemel sien oopskeur en die Gees soos ‘n duif na Hom toe sien neerdaal. Daar was ook ‘n stem uit die hemel: ‘Jy is My geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.”


Johannes die Doper het die voorreg gehad om die koms van die Koning aan te kondig. Daar waar hy besig is om ongehoorsames te doop, verander die tydperke van ‘n wêreld wat wag op die koninkryk na ‘n wêreld waarin die koninkryk gekom het. Die Doper wil dit duidelik stel dat hy deur ’n goddelike openbaring te wete gekom het wie Jesus werklik was. Net soos die ander mense het hy ook nie geweet wie Jesus was nie. Dit beteken nie dat hy nie voorheen vir Jesus geken het nie, hulle was immers familie. Juis by die waterdoop het hy die opdrag gekry om ook Jesus te doop. En daar het dit deur ’n goddelike openbaring bekend geword dat “Jesus die Seun van God is.” Nou wéét hy dat hierdie Jesus-neef van hom, nie net ‘n gewone mens is nie , maar “die Seun van God”.


Die Doper se getuienis word nou kernagtig saamgevat: “Hy is die Seun van God.” Daarmee word ’n hoogtepunt bereik. Hierdie uitspraak gaan verder as al die ander name wat tot dusver gegee is: Woord, Lig, Christus en Lam van God. Selfs verder as die getuienis dat Hy die Messias is. Hy is nie bloot ’n mens wat in die Naam van God ’n opdrag kom uitvoer nie. “Hy is die Seun van God” wat as Messias na ons mense toe gekom het en as Lam van God die sonde van die wêreld wegdra.


Waarom moes Jesus gedoop word? Die Doper se doop was die teken dat mense van hul sonde afsien en God wil dien. Het Jesus dan sonde gehad dat Hy gedoop moes word? God wou dit so gehad het; dit was om te wys wie regtig die Messias is. Johannes was die een wat die pad vir die Koning moes gereedmaak. Jesus word gedoop om te wys dat Hy daardie Koning is. Die stem uit die hemel en die Heilige Gees se neerdaal onderstreep dit. Daarom kon Johannes met oortuiging bevestig: “Hy is die Seun van God.”


Dit is “Hy wat met die Heilige Gees doop.” Die Doper se insig in hierdie Goddelike waarheid tussen die “doop met water” en die “doop met die Heilige Gees,” is verstommend. Die waterdoop is uiterlik en in sy werking word die sonde weggeneem. Die doop met die Gees is innerlik en in sy werking bring dit die Gees. Om met die Heilige Gees te doop beteken om só te doop dat die dopeling op die innigste wyse die Heilige Gees ontvang. Om op hierdie manier te doop, lê buite die bereik van ’n mens, alleen Christus kan dit doen en ook net aan hulle wat in Hom glo – “En dít is Sy gebod: Ons moet in Sy Seun, Jesus Christus, glo en ons moet mekaar lief hê ooreenkomstig die gebod wat Hy ons gegee het. Wie Sy gebooie gehoorsaam, bly in God en God in hom. Hiéraan weet ons dat Hy in ons bly: Hy het ons Sy Gees gegee” (1 Joh 3:23-24).


“Om te glo in die Heilige Gees beteken om te glo dat daar ‘n lewende God is wat gewillig is om in mense te woon en hul persoonlikhede te verander” (John Stott).


Gebed: Dankie Seun van God dat U die Gees as ‘n permanente besitting aan my, God se kind gee. Dit is só wonderlik om te weet dat wanneer ons met die Gees gedoop is, ek U so dikwels as wat dit nodig is, by te roep vir hulp, troos, raad, leiding en krag, want U is binne my. O Gees, vergewe my wanneer ek U as ‘n besoeker behandel en sekere “kamers” van my lewe toesluit en self beheer wil neem oor sekere aspekte van my lewe. Neem asseblief volle beheer van my en verheerlik Christus deur my. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page