top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


DIE WOORD WORD MENS


Joh 1:14 – “Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy, as die enigste Seun, van die Vader het, vol genade en waarheid.”


Vergelyk ook Heb 2:14 en 4:15 - “Aangesien hierdie kinders mense van vlees en bloed is, het Hy ook net soos hulle mens geword. Tog het Hy sonder sonde gebly.”


“Die Woord het mens geword en onder ons kom woon.” Met hierdie enkele eenvoudige sinnetjie word seker die grootste en allerbelangrikste gebeurtenis in die geskiedenis van die mensheid en veral aan ons as Christene, die allerdiepste geheimenis in die Godsopenbaring, aan ons meegedeel!! Jesus het as mens onder ons as mense kom woon! Wat ‘n belangrike voordeel vir ons want Hy het nou menslik toeganklik geword. Hy kan gesien en gehoor word en ons gaan Sy heerlikheid deur Sy aardse optrede sien. Daarmee is die kloof tussen God en mens oorbrug, Hy word “God met ons, Immanuel.” Ons het nou nie meer 'n "manual" nodig nie, ons het Immanuel!


Die Woord pak die verste rit aan wat enigiemand nog ooit gedoen het, van die hemel tot op die aarde. Die Prins van die hemel kom word die Kind van die krip. Jesus kom word wat Hy nooit was nie maar bly wat Hy is – Hy kom word mens wat Hy nooit voorheen was nie, maar Hy bly nog steeds wat Hy van ewigheid af was, naamlik God. Dit is duidelik dat ons hier met ’n verborgenheid te doen het wat deur die denke van die mens nie verklaar kan word nie. Ons kan maar net kinderlik in die geloof buig en alleen maar God dank vir die weg wat Hy vir die sondaar geopen het sodat ons kinders van God kan word.


So het die volgelinge van Jesus sy “heerlikheid” gesien: ”Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien en met ons hande aan Hom geraak. Hy is die Woord, die Lewe” (1Joh 1:1). Omdat God lig is, het Hy aan Sy enigste Seun “heerlikheid” gegee wat uit Hom straal en Hom steeds omgewe. Sy koninklike majesteit, mag, heerskappy en eer word alles met die “heerlikheid” aangedui. Van ewigheid af het Jesus heerlikheid gehad by die Vader (Joh 17:5), maar in sy optrede op aarde het Hy dit verberg gehou en alleen sigbaar laat word namate die Vader dit aan Hom toegestaan het.


Die inhoud van Jesus se heerlikheid, "vol genade en waarheid” omskryf die inhoud van Sy heerlikheid. Hy bly uniek. Hy is nie sommer maar net mens nie. Dit kom tot openbaring in ’n volheid van “genade en waarheid.” Hierdie genade is gekoppel aan die waarheid, en is daarom eg, betroubaar en blywend. In die Woord wat mens geword het, kom die heerlikheid van God tot openbaring en dit bestaan in die volheid van die onverdiende genade van God wat in waarheid en betroubaar, aan ons geopenbaar is.


“As jy naastenby jou wil voorstel wat dit beteken het vir God om mens op aarde te word, kies jy dan om ‘n slak of wurmpie te word” (CS Lewis).


Gebed: Dankie Heer dat U mens kom word het om ons aan God te kom voorstel. Ons probeer dit verstaan en begryp maar ons menslike verstand is net nie opgewasse daarvoor nie. U kom word “God met ons” en verdedig die sake van ons sondeskuld. U deins nie terug vir opoffering nie. In U sien ons wat menswees waarlik is. Verander ons só – maak van ons mense soos U. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page