top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Oorkoepelende Motivering (1)


Jak 5:19-20 – “My broers (en susters), as een van julle van die waarheid afdwaal en iemand sou hom terugbring, weet dan dat hy wat ‘n sondaar van sy dwaalweg terugbring, hom uit die dood red en maak dat ‘n menigte sondes vergewe word.”


Vergelyk ook Rom 6:23 – “Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.”


Jakobus sluit sy brief af sonder enige groete, geen briefslot, lofprysing van God of seënbede vir sy lesers nie. Dit sluit egter goed aan by die oproep van die gemeente om versigtig te wees op hul geestelike pad. Dit is maklik om op hierdie geestelike pad beproef te word en geestelike groei kan kortwiek. Hy doen ‘n beroep op sy lesers en gemeentelede om die oorredingswerk voort te sit van die veertien “gevaarpunte” wat hy uitgewys het in sy brief. Daar is egter ‘n “menigte sondes” wat ons op ‘n dwaalweg kan laat beland en dit ‘n saak van lewe of dood kan word.


Soos wat die gemeente die verantwoordelikheid het om vir mekaar te bid, het hulle ook die verantwoordelikheid om mekaar te vermaan. Maar..... Jakobus raak hier ‘n baie teer puntjie aan want “ons steek nie ons neuse in ander se sake nie”. Ons bemoei ons nie graag met ander se geestelike probleme nie. Verskeie Christene voer aan dat dit nie hulle probleem is as iemand anders kies om te sondig nie.


Dit is egter die verkeerde houding om in te neem. As Christene weet ons dat die “loon wat die sonde gee, die dood is.” As medegelowiges omgee vir mekaar en mekaar behoort lief te hê, sal ons in opregte belangstelling raad en hulp aanbied. Dit beteken nie om beterweterig “die sondaar van sy dwaalweg terug te bring nie” maar aktief betrokke te raak om nie toe te kyk hoe iemand homself skade berokken nie.


Sonde maak verhoudings dood, onderdruk vreugde, takel huwelike af en vernietig die liefde. Om “ons met ons eie sake te bemoei” sal dalk ongemak spaar, maar dit bring nie iemand terug na die Here toe nie. Wat het Jesus gedoen? Hy het nie maar net rondgestaan en toekyk hoe mense hul lewens deur sonde verwoes nie – Hy het oor Jerusalem geween toe Hy sien dat hulle die waarheid verwerp het (Matt 23:37-39); Hy het vurig vir Sy dissipels gebid dat hulle moes sterk wees indien hulle versoek sou word (Joh 17); Hy was selfs gewillig om te sterf om ons van die sonde wat verwoesting saai, te red! Hy was altyd aktief besig om sondaars terug na God toe te help!


Ons Christene het dus ‘n verantwoordelikheid teenoor mekaar. Dit sal dan nodig wees om daardie “formele lidmate” wie se name op die kerkregister is, maar wie se harte nie werklik by God is nie, (die sogenaamde doop, trou en dood lidmate), formeel oor hul dwaalpraktyke te maan. Dít is die vrug van die werking van God se Heilige Gees en daarom dié kenmerk van ‘n Geesvervulde Christelike gemeente.


“ ‘n Huis wat leeg staan, raak gou vervalle; ‘n siel wat nie deur die Heilige Gees bewoon word nie, word vernietig” (Augustus Montague)


Gebed: Here, maak ons elke keer wanneer ons bely: “Ek glo in die Heilige Gees,” opnuut bewus dat ons glo dat U ‘n lewende God is wat gewillig is om in mense te woon en hulle persoonlikhede so te verander dat hul harte werklik by U is. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page