top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Gevaarpunt 14 : Lewensomstandighede (6)


Jak 5:13 en 16b – “As daar iemand onder julle is wat swaar kry, moet hy bid. As daar iemand is wat opgeruimd is, moet hy lofliedere sing. Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking.


Vergelyk ook Jak 5:16b (1953 vertaling) – “Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag.”


“Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking; Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag”. Maar Jakobus, ek ís mos ‘n gelowige in Christus. Ek bid gedurig en niks gebeur nie! Ek het byvoorbeeld al tot vervelens toe soveel keer gebid dat die korrupsie in ons land moet einde kry. Die regering luister nie eers as ons met hul praat nie. Selfs die howe se bevindinge word geignoreer. Is my gebed nie vurig genoeg nie? Is ek dalk nie regverdig genoeg nie?


Jakobus wil graag hê dat ons sal insien dat gebed die beste reaksie op enige probleem is, daarom stel hy hierdie feit. Hy heg egter‘n kwalifikasie aan vir wie se gebed so kragtig is: “Dit is die regverdige se gebed wat kragtig is.” Wel, in daardie geval sal ek nie sulke kragtige gebede kan bid nie want ek en my arm gebede val seker nie in die kategorie van regverdig nie. Nee! Nooit! Dit is nie waar nie! Ons kan onsself nie só maklik daarvan uitsluit nie.


As ons deur God regverdig verklaar is, staan ons voor Hom met ‘n geregtigheid wat nie ons eie is nie. Die mens wat ooit dink hy kan met sy eie geregtigheid – sy eie goeie werke en voorbeeldige lewe – voor die heilige Here gaan staan, verstaan nog nie die evangelie nie. Die evangelie skeer alle mense oor dieselfde kam – almal is sondaars, daarom kan ons geregtigheid nie voldoen aan God se standaard van regverdig wees nie. Paulus stel dit vir ons duidelik: “Almal het gesondig en is ver van God af, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek (geregverdig) vanweë die verlossing deur Jesus Christus” (Rom 3:23-24).


‘n Mens kan net regverdig wees as God jou regverdig verklaar het. God verklaar mense nie regverdig op grond van enigiets wat hulle gedoen het nie, Hy doen dit uit genade oor wat Sy Seun Christus gedoen het. Uit genade skenk God Christus se geregtigheid aan die sondaar sodat die mens wat sy geloof en vertroue ten volle in Christus stel, as ‘n regverdige voor God kan staan. Ons gelowiges is dus regverdig oor ons status in Christus en nie as gevolg van ons natuurlike status of eie prestasie nie.


“Die grond onder ons voete en die anker in ons lewe is dat Christus ons enigste en perfekte regverdigmaking en vryspraak is” (Martin Luther).


Gebed: Dankie ons hemelse Vader dat U vir ons U liefde bewys het deur Christus vir ons laat sterf het toe ons nog sondaars was. Dankie Jesus dat U my naam en adres ook geken het toe U vir my aan die kruis gesterf het. Dankie Gees van God dat U ons leer bid om genade, sodat ons nie by die hemelse deure met leë hande weggestuur word nie, want ons daag daar op in Christus se regverdigmakende Naam. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page