top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Gevaarpunt 14 : Lewensomstandighede (4)


Jak 5:13-15a – “As daar iemand onder julle is wat swaar kry, moet hy bid. As daar iemand is wat opgeruimd is, moet hy lofliedere sing. As daar iemand van julle is wat siek is, moet hy die ouderlinge van die gemeente laat kom, en hulle moet vir hom bid en hom met olie salf onder aanroeping van die Naam van die Here. En as hulle gelowig bid, sal dit vir die sieke genesing bring: die Here sal hom gesond maak. As hy gesondig het, sal dit hom vergewe word.”


Vergelyk ook Joh 5:14 – “Jesus sê vir hom: ‘Kyk, jy is nou gesond. Moet nou nie meer sonde doen nie, sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie.” (Genesing van die sieke by die Bad van Betesda.)


Dit blyk dat dit hier nie net oor die siekte gaan nie, maar selfs “as hy sonde gedoen het, sal dit hom vergewe word.” Jakobus se lesers en ons weet teen hierdie tyd van watter sondes hy na verwys. Feitlik sy hele brief bevat illustrasies daarvan, naamlik: Hulle doen nie wat hulle hoor nie; Met dieselfde tong wat hulle God loof, vloek hulle mense; Selfsug en naywer; Hulle gebruik gebede om hul selfsugtige begeertes te bevredig; Veroordeel mense en behandel hulle nie reg nie; Hulle raak ongeduldig en so meer. Vir hierdie sondes teenoor mekaar moet hulle bid, vir mekaar, teenoor mekaar en ook vir die siekes wat heel moontlik ook deel was van hierdie sondes.


Die moontlikheid bestaan wel dat die siekte bedoel was as tugtiging vanweë bepaalde sondige dade, waarvoor nie vergifnis verkry is nie – “ons struikel almal in baie opsigte” (3:2). Die moontlike verband tussen sonde en siekte word dikwels in die Bybel aan die orde gestel, byvoorbeeld in die geskiedenis van Job; Mark 2:5; Joh 5:14; Joh 9:2-3. Die genesing word nie verhinder “as hy gesondig het” nie, maar die oogmerk is dus die redding van die totale mens in die situasie van sonde en ellende.


Alle siektes is nie die gevolge van spesifieke sondes nie, maar die moontlikhede is daar. Tydens die siekte, kan mens bewus word dat die siekte die gevolg van ‘n sonde is. Die sieke kan ook in daardie tyd van siekte tot stilstand gebring wees en bewus word dat die Here hom dalk waarsku oor ‘n sonde waarmee hy besig is. Die tyd van siek wees kan ook ‘n tyd van nadenke oor vergete sondes wees wat aan die lig kom, omdat daar nou tyd vir selfondersoek is.


Die sonde het moontlik geen verband met die siekte nie, maar die siekte is ‘n geleentheid om die sondes te onthou en te bely. Die sieke kom ook tot die besef dat om heeltemal gesond te word, sy hele menswees voor God betrek word. Daar is nie ‘n spesifieke sonde wat tot die siekte aanleiding gegee het nie en daar is ook nie vergete sondes wat onthou word nie, maar daar is hierdie begeerte om ten volle met God versoen te word – om sy hele lewe voor die alsiende oë van God oop te lê sodat alles wat God van die mens weet, hersien kan word en reggestel kan word. Wanneer siekte ‘n mens op sy rug dwing, kan hy weer BOONTOE kyk na waar sy Hulp vandaan kom.


“Wie op hul knieë voor God gaan, kan regop voor mense staan” (Anoniem).


Gebed: Here, daar is soveel slegte herinneringe oor die verlede wat ons geheue onderdruk. Soveel verkeerd wat ons daagliks dink en doen en elke keer stel ons U teleur. Daar is so baie wat deur siekte verban voel oor hul “sonde” wat aanleiding daartoe gegee het, wat vuil voel teenoor die “skoon” mense. As hulle maar net weet wat U oor die sogenaamde “skones” weet. Net U kan ons bo daardie gevoel laat uitstyg. Dankie dat U genade en vergifnis vir almal geld sedert daardie dag op Golgota, toe U stukkend, seer en eensaam was. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page