top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Gevaarpunt 14 : Lewensomstandighede (3)


Jak 5:13-15a – “As daar iemand onder julle is wat swaar kry, moet hy bid. As daar iemand is wat opgeruimd is, moet hy lofliedere sing. As daar iemand van julle is wat siek is, moet hy die ouderlinge van die gemeente laat kom, en hulle moet vir hom bid en hom met olie salf onder aanroeping van die Naam van die Here. En as hulle gelowig bid, sal dit vir die sieke genesing bring: die Here sal hom gesond maak.”


Vergelyk ook Ps 40:2 – “Ek het gesmag na die hulp van die Here. Hy het na my toe afgebuig en my hulpgeroep gehoor.”


Jakobus handel vervolgens met die moontlike nood van ernstige siekte of liggaamlike “swakheid”. Ook dít moet in die gebed na God geneem word, maar op ’n heel besondere manier. Die “ouderlinge van die gemeente” moet ingeroep word en húlle moet “vir hom bid en met olie salf in die Naam van die Here.” Deur hierdie handeling word die direkte toegang tot God in die gebed nie verhinder of verbied nie – daar word nie namens die sieke gebid nie. Die ouderlinge is nie ’n “priesterlike” instansie wat tussen die Christen en God ingeskuif word nie.


‘n Ernstige of langdurige siekte takel nie net die lewenskragte af nie, dit gebeur soms dat die sieke se geloof ook ‘n ernstige knou kry. Daarom is dit so noodsaaklik dat ons mekaar in ons siekte nie sal vergeet nie. Die ouderling gaan nie nuwe dinge aan die siek gelowige sê nie, maar as gevolg van omgeeliefde die sieke bloot net weer verseker van die beloftes van die Here wat Hy ook aan die sieke bevestig het. Dit is immers die sekerheid oor die Here se beloftes wat ʼn mens versterk wanneer jy swak geword het in jou geloof. En op hierdie gebed van die ouderlinge voeg die Here ʼn belofte toe: “dit sal vir die sieke genesing bring: die Here sal hom gesond maak.”


Soms lyk iets vir ons so onmoontlik dat ons nie eers daaraan dink om daarvoor te bid nie. Dis asof ons nie besef watter kragte die Here bereid is om as antwoord op ons gebede in hierdie wêreld los te laat nie! Deur Jakobus herinner die Here ons daaraan, dat die gebede van gelowiges soos ons, ’n kragtige uitwerking kan hê en báie kan bereik, baie meer as wat ons gedink het. Wondergenesings hoort nie net tot die Bybelse tyd en nie meer vandag nie. Die God van die Bybelse tyd is dieselfde God van vandag. Die Here bly altyd dieselfde. Wat Hy in die Bybelse tyd gedoen het, kan Hy vandag steeds doen. Hoeveel keer het ons ook al gehoor hoe die Here ʼn mens gesond gemaak het nadat dokters geen uitweg gesien het nie.


Ons bid met die oortuiging wat die Gees in ons hart werk dat die Here in staat is om die sieke gesond te maak. Maar ’n gelowige gebed eis nooit van die Here nie, daarom smeek ons dat die Here Sy wil ook hier moet laat geskied. En die Here se wil is nie noodwendig altyd onmiddellike genesing nie. Intussen word die sieke “gesalf met olie” – hy gebruik sy medikasie. Die Here werk middellik, Hy gebruik in dié geval ’n middel, medikasie (ook) tot genesing of verligting – “Hy het sy wonde met olie en wyn behandel en hulle verbind, op sy rydier gehelp en hom na ‘n herberg geneem en hom daar verder versorg” (Luk 10:34).


Ons is nie maar net enkelinge wat elkeen op sy eie ’n geestelike reis saam met die Here het en net so nou en dan paaie kruis met ander gelowiges nie. Ons is ’n gemeenskap van gelowige pelgrims saam op pad agter ons goeie Herder aan. ‘n Gemeenskap van gelowiges wat vir mekaar bid!


“Die beste gebed is net ‘n kreun voor God. ‘n Uitroep van pyn kan nie skynheilig wees nie” (Charles Spurgeon)


Gebed: Dankie Here dat ons as Christene kan omgee vir mekaar. Wanneer algehele moedeloosheid dreig om ‘n sieke te oorweldig, kan ons hulle in gebed bewus maak van U teenwoordigheid. Vul ons met geduld o Heer, om hul daarvan te oortuig dat U hul beskerm en regop hou met onvermoeide liefde en genade, ten spyte van hul siekte. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page