top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Gevaarpunt 13 : Geloofwaardigheid (3)


Jak 5:12 – “My broers (en susters), dit is baie belangrik dat julle nie ‘n eed moet aflê nie, nie by die hemel nie, nie by die aarde nie en ook nie enige ander eed nie. As julle “ja” sê, moet dit “ja” wees; as julle “nee” sê, moet dit “nee” wees. Dan sal julle nie veroordeel word nie.”


Vergelyk ook Joh 14:6 – “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.”


As kinders van God erken ons dat Hy oor ons hele lewensbestaan, heerskappy voer en daarom kan ons geloofskinders se ‘ja’, ‘ja’ wees en ons ’nee’, ‘nee’. Wanneer ons nie die waarheid praat nie, speel ons in die hand van die bose. “Omdat ek ‘n Christen is, kan jy my te alle tye op my woord neem”, is woorde wat as onkreukbare wyse van ons, op alle terreine, gebruik moet word.


Oral waar ons vrae moet beantwoord of informasie moet verskaf en dit met ons handtekening bevestig word, oral waar ons ons bevind – by familie, in die huwelik, die owerheid, die kerk, wanneer ons kwaad word, moed verloor – ORAL – moet ons ons waardigheid as God se kinders behou. Dit sal dan nie nodig wees om God op ‘n lighartige wyse in te roep om vir die waarheid in te staan nie.


Bedrog, korrupsie, meineed, skinderstories, oneerlikheid, halwe waarhede, wit leuens, beloftes- verbreking, is ongelukkig aan die orde van die dag en het feitlik deel van baie mense se “kultuur” geword. Leuens het so deel van sommige mense se norm geword dat hulle nie eers meer besef hulle tree verkeerd op nie. Hulle glo selfs hulle leuens is die waarheid.


Jesus doen ‘n beroep op ons dat ons die waarheid moet praat. Jakobus bevestig dit weer. Beide wil hê ons moet op ons woord geneem kan word. Jesus wil ons as eerlike mense deel maak van God se huisgesin. Omdat Hy sy Naam aan ons bekend gemaak het, kan ons Hom ken, Sy Naam aanroep, bely en prys. As ons daarop aanspraak maak ons volg die Jesus van Joh 14:6, leef en praat ons die waarheid en is dit nie nodig op ‘n eed te sweer om dit te bekragtig nie.


Hoe ken mense ons? Is ons woorde betroubaar? Kan ander op ons woorde peil trek? Is ons ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ en ons ‘nee’, ‘nee’? Praat en leef ons die waarheid? Beelddraers van God kan positief op al die vrae antwoord. Mense wat nog onder die heerskappy van die sondige natuur leef, praat soos die vader van die leuen – vals en onbetroubaar!


Wanneer jou ‘ja’ jou ‘ja’ is en jou ‘nee’ jou ‘nee’, kan die predikant die waarheid oor jou praat die dag van jou begrafnis ” (Anoniem).


Gebed: Here, U gebooie gee aan ons die opdrag om altyd die waarheid te praat. Ons word geroep om die waarheid te praat in elke situasie waar ons die verantwoordelikheid het om te kommunikeer want waar die “bron” van die leuen leef, word mense van hul menswaardigheid beroof. Help ons bly wandel in die waarheid van die evangelie want U is die weg vanuit die doodsvallei na die land van seën en geluk. Bring ons by die waarheid Here, Laat ons ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en ons ‘nee’, ‘nee’. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page