top of page

Gedagte vir Vandag - Geniet jy God net oor sy Goedheid?


Jy beteken vir God ontsettend baie!


Romeine 5:5-6

“…en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het. Toe ons nog magteloos was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir goddeloses gesterwe.”


Mag ek jou vra: geniet jy God net oor SY goedheid?

Hierdie is nogal ’n krities belangrike vraag.

Die verhouding tussen die Vader en Sy kinders word dikwels in die Bybel vergelyk met die verhouding tussen ‘n bruidegom en sy bruid.

Bv. ek as man het nie met my vrou getrou sodat sy

– vir my kinders kan baar,

– huis skoonmaak, kos kook, klere was en stryk,

– in my seksuele behoeftes voorsien en

– my beeld as man gereeld te moet “politoer” nie.

Hierdie dinge kan deel wees van wat sy doen, maar wat sy is, haar “being”, gee aan ons verhouding “sin”. Ek het met haar getrou omdat ek haar persoon liefhet….wie sy regtig IS. Haar ouderdom, haar voorkoms, haar “geite”, haar “performance” lê nie op dieselfde vlak as wie sy vir my IS nie.

Aanvanklik het haar “doings” my aandag getrek. Dit het die weg gebaan om haar “being” raak te sien. Toe haar “being” my oorweldig het, het ek op haar verlief geraak. Hierdie liefde gee vandag nog die vonk in ons huwelik.


’n Mens begin om God te geniet wanneer Sy dade jou begin bekoor. Ons kan met ons menslike denke God- die onbeskryflike, onbegryplike en heerlike Wese- nooit werklik ten volle geniet nie. Eendag in heerlikheid sal ons iets hiervan beleef. Ons sal God nooit kan vaspen met ons menslike insigte nie. Ons kan Hom begin geniet deur Hom loof, prys, aanbid en dank deur die opnoem van Sy dade. God het alreeds deur die Heilige Gees Sy liefde in ons harte uitgestort. Die potensiaal is dus daar om Hom van harte te kan geniet. (Romeine 5:5).


Ons liefde vir Hom sal toeneem en ‘n heerlike werklikheid word wanneer ons toenemend in Christus bly en aan Sy wil vir ons lewe gehoorsaam is. (Oordink biddend Joh.14:15, 21, 23 en 15:4-5)

Deur Hom vir Sy handelinge te loof en dank, versterk dit die proses om op Sy onbeskryflike Wese verlief te bly en te bly. Lees ook nou Efesiërs 1:6.


Paulus wil ons help om God te geniet, om Hom te loof en te prys deur ons aandag spesifiek te vestig op dit wat Hy vir ons gedoen het. Dit wat Hy vir ons gedoen het, het ons totale wese beïnvloed. Dit word volledig beskryf in Efes.1:3-3:21. Dan volg Efesiërs 4:1. OMDAT God ons DNS so volledig verryk het, DAAROM behoort ons werke, as Sy kinders, dienooreenkomstig te wees.


Efesiërs 1:3 beklemtoon dat die God en Vader van ons Here Jesus Christus ons met alle geestelike seëninge in die hemel in Christus geseën het, daarom moet ons Hom geniet m.a.w. Hom loof en prys (1:6). Die heel eerste seëning wat Paulus onderstreep is, is die UITVERKIESING: “God het ons met liefde voor die grondlegging van die wêreld in Christus uitverkies.” (1:4) Wat hoor en dink jy wanneer jy hierdie vers lees? Voor jy verder lees, lees eers Efes.1:3-4.


Mag ek met jou deel wat ek gehoor het :-

† God gee die eerste tree na ons toe en dit tenspyte van die feit dat ons Hom van nature haat,en niks met Hom te doen wil hê nie. (Efes.2:1 e.v.)

† Die rede waarom Hy dit doen, is omdat Hy ons uitverkies het. Tussen baie ander het Hy jou en my raakgesien en Hy het net besluit dat Hy ons in Sy “eerste span” wil hê ongeag die feit dat ons geen “eerste span spelers “ is nie. Hy ag, ons as baie spesiaal.

† Die rede waarom Hy ons spesiaal ag, is omdat Hy ons liefhet. Die Griekse woord dui daarop dat Hy ons liefhet tenspyte van wie ons is, hoeveel ons Hom haat en met Hom niks te doen wil hê.

† Hierdie besluit het Hy geneem voor die totale wêreld geskep is.

† Hierdie spesiale uitverkiesende liefde kom na ons in Jesus. Soos ’n verjaarsgeskenk in geskenk-papier toegedraai is, is God se liefdevolle uitverkiesing “toegedraai in Christus Jesus.” God se uitverkiesing word eers vir ons ’n realiteit wanneer ons Jesus “aanvaar” het. Kyk wat sê 1 Johannes 5:11-13.


Die vraag van die dag

Besef jy dat God nou met liefde na jou uitreik ongeag van wat jy van Hom mag dink, sê of doen?


Die vaardigheid wat beoefen moet word

Om God die Vader te dank vir dit wat Hy al vir jou gedoen en gegee het.


Die vaardigheidsoefening self

Maak 'n denkbeeldige lys van alles wat God al in die verlede vir jou gedoen en gegee het en begin om vir Hom hiervoor dankie te sê.


Gebed

“Heilige Gees, open my oë dat ek kan sien wat U al alles vir my gedoen en gegee het. In Jesus naam. Amen

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page