top of page

Gedagte vir Vandag - Behoort ek net aan God?


Behoort jy net aan God?


Mag ek vir jou vra?

– Wat het God in Sy liefdesbrief (Ef. 1:1-14) vir jou gesê?

– Wat maak jy met dit wat Hy vir jou gesê het?

– Wat beteken dit vir jou “om te behoort”?


Efesiers 1:3-5

Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is. So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees.


In Efesiërs 1:1-14 , word daar tenminste 12 keer direk of indirek na Jesus Christus verwys. Die afleiding wat voor die hand liggend is, is dat alles wat God die Vader vir ons wil gee onlosmaaklik gekoppel is aan die persoon en werk van Jesus Christus.

Lees vandag Efes.1:1-14 en gaandink aan wat God vir jou wil sê.


Sommige beweer dat die sentrale tema van Efesiërs in Efes.1:3 vervat is, naamlik dat die Hemelse Vader vir ons alles in die hemel en die aarde “in Christus” geskenk het.

Om “in Christus” te wees, beteken dat jy ‘n groeiende persoonlike verhouding met Jesus het.


Om “in Christus” te wees beteken nie dat jy jou unieke identiteit verloor nie. Jy bly wie/wat en waar jy is met die verskil: in Christus is jy “verryk” en word jy in Ef. 1:1 ‘n “heilige” genoem. Paulus rig sy brief aan die “heiliges”.

Hierdie woordjie verwys na daardie mense wat aan God behoort en vir Hom afgesonder is. Primêr verwys dit nie na ‘n spesifieke leefstyl nie. Dis ‘n status-woord…..soos bv. “president”, “koning”, “professor”, “mevrou” ens.

Elkeen wie in Jesus Christus as sy/haar Verlosser en Here glo, het ‘n “heilige” geword. Dit beteken so ‘n persoon “behoort” aan God, is die eiendom van God en is afgesonder vir God”. M.a.w. omdat jy hierdie unieke verhouding met die Here Jesus het, daarom behoort jy aan God.

In Christus behoort jy nie meer

– aan jouself nie.

– meer aan ander nie

– aan sonde, die wêreld en die Satan nie.


Wat wel waar is: in Christus behoort jy net aan God.

God is primêr in alle opsigte vir jou verantwoordelik en jy is in alle opsigte net aan Hom verantwoordelik. Jy is die appel van Sy oog en Hy is die absolute Liefling van jou hart.

Die vrae van vandag:

– Is jy 100% seker dat jy “in Christus” is?

– Besef jy wat dit behels om aan God te behoort?

Die oefening vir vandag:

a) Skryf kortliks neer wat jy gister alles, orals gedoen en gesê het

b) In watter opsig sou jou leefstyl gister anders gewees het as jy deurentyd onthou het: “ek behoort aan God”?

c) Herinner jouself onophoudelik vandag, môre en orals waar jy kom: “God is verantwoordelik vir my en ek behoort aan Hom.”


Gebed:

“Heilige Gees, ontsluit in my alledaagse lewe die praktiese verstaan en toepassing daarvan om as ‘n “heilige”, “in Christus” te leef. In Jesus naam. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page