top of page

E-Kerk Gedagte vir Vandag


Vandag is Hervormingsdag!!! Dit is vandag 499 jaar gelede wat Martin Luther die 95 Stellinge teen die Kerkdeur in Wittenberg vasgeslaan het, en ons Protestante Reformasie (ons kerk en dit wat ons glo) begin het. Kom ons vier dit vandag saam!!

Prakties gereformeerd

Soveel mense, soveel menings. Hoe sal ons weet wat dit nou eintlik beteken om in alle eenvoud prakties as gereformeerde gelowige te leef? Die een sê so, die ander sê sus.

Dit is ‘n ontdekking om te sien hoedat die grondmotief van die Groot Reformasie (van 31 Oktober 1517) aktuele praktiese waarde het. Dit kan saamgevat word in die sogenaamde “sola’s” van die Reformasie te wete: Sola Scriptura (Die Skrif alleen), Sola Gratia (Die genade alleen), Solus Christus (Christus alleen), Sola Fide (Geloof alleen) en Soli Deo Gloria (Aan God alleen die eer).

“Sola” beteken dus “slegs”.

Hierdie “sola’s” vorm die grondplan van ons gereformeerde/Bybelse geloofslewe. En dit val nie uit die lug nie! Ons drie belydenisskrifte bevat 1345 direkte Skrifaanhalings. Laat ons vir ‘n oomblik aan die hand van die “sola’s” sien wat dit beteken om prakties gereformeerd te leef in die alledaagse lewe.

1. Sola scriptura – die Skrif is die enigste bron en maatstaf van geloof. Sola Scriptura beteken “Die Bybel (Skrif) alleen”.

Slegs in die Bybel vind ons die woorde van God. En dan ook die hele Bybel. God het Sy hart geheel en al uitgepraat in die Bybel. Dit is onmoontlik dat daar nóg hedendaagse openbaringe tot die Bybel toegevoeg kan word. Die Skrif is absoluut gesaghebbend.

2 Timoteus 3:16

16 Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en 'n regte lewenswyse te kweek…”

2. Sola gratia – genade is die enigste grondslag van redding. Sola Gratia beteken “Genade alleen”.

Hoe word ons gered en waaruit ontspring die gelowige se lewe van elke dag? Slegs uit die vrye en radikale genade van God. God regverdig die goddelose, nie die bekeerde wedergeborene nie! Rom.4:5 "Maar die mens wat nie op wetsonderhouding staatmaak nie, maar wat glo in Hom wat die goddelose vryspreek, hy kry die vryspraak deur sy geloof."

3. Solus Christus – Christus is die enigste redder. Solus Christus beteken “Christus alleen”.

Die vrye genade van God impliseer dat ons, terwyl ons nog goddeloos was, deur Christus alleen gered is. Christus het immers aan die reg van God voldoen. God sien nie ons sonde slordig oor die hoof nie. Jesus het die wet in ons plek volbring en in ons plek die skuld 100% betaal. Ons samewerking kan dus nie Christus se werk aanvul nie. Op geen manier nie. Alléén Christus se werk het ons gered.

4. Sola fide – geloof is die enigste maatstaf van verlossing. Sola Fide beteken “Deur die geloof alleen”.

Wie die genadige toesegging van die redding in die beloftewoord van God hoor, mag dit sondermeer glo. Dit is egter nie die daad van geloof wat ons red nie. Dit is Christus se bloed wat ons gered het, en dit glo ons! Hoeveel mense lewe in onsekerheid oor hulle heil omdat hulle onbewustelik in hulle geloof glo! Hulle het hulle aanneem-van-Jesus aangeneem.

5. Soli Deo gloria – alle eer vir ons heil kom alleen aan God toe. Soli Deo Gloria “Aan God Alleen die Eer”.

Enige denkbare greintjie eer wat moontlik aan die mens kan toekom, word deur die Evangelie by die wortel afgesny. Alleen die Here ontvang al die eer. Juis hierin lê die groot vryheid waarmee die gelowige leef. Niks bring groter blydskap en dankbaarheid as dit nie. Die gelowige leef nie net uit genade wat sy verlossing betref nie, maar ook wat sy totale lewe betref. Álles word uit God se vrye guns ontvang. Daarom is die gereformeerde gelowige voor die hele wêreld vry! In voorspoed en ook in teenspoed.

Ek wil afsluit met die gesegde van Karl Barth wat hy by die Kerkvaders Augustinus geleen het:

Ecclesia reformata semper reformanda "the reformed church (is) always to be reformed”

Altyd word die gereformeerde Kerk Gereformeerd…

“It refers to the conviction of certain Reformed Protestant theologians that the church must continually re-examine itself in order to maintain its purity of doctrine and practice.”

“Here dankie dat U die Kerk in stand hou, en dankie dat U deur hierdie 5 waarhede die Kerk gebou het vir die afgelope 499 jaar. Ons gee vir U al die Eer. Amen.”

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page