top of page

E-Kerk Gedagte vir Vandag


Beleef jy dalk nou ’n krisis?

En jy wonder waarom die Here dit op jou pad gestuur het?

’n Baie algemene reaksie is: “ek het seker iewers gesondig en nou straf die Here my!”

Jakobus hanteer krisisse op ’n manier wat my baie gehelp het om my eie krisisse beter te bestuur.

Jakobus 1:2-5 “My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming. As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.”

Daar word dikwels van ‘n Jakobus in die Bybel bepraat. Daar is al wyd gespekuleer oor wie hiérdie Jakobus sou wees. Die tradisie wil dat hy ’n halfbroer van Jesus was. Hy skryf aan die Joodse Christene wat oor die hele destydse wêreld verspreid was. Algaande sal ons hulle en hul situasie al beter verstaan.

Die Joodse Christene ervaar die lewe nie as maklik nie. Vir hulle is dit die een versoeking op die ander. Die woordjie wat Jakobus gebruik kan vertaal word as ’n verskeidenheid van “versoekings” of “toetse”. Hierdie toetse/versoekings dui egter nie daarop om tot sonde te versoek of te verlei nie.

Die woordjie dui op onvoorsiene, onwelkome en onverwagse ondervindings, ondervindings soos baie moeilike leef-omstandighede, krisisse, siekte, vervolging en armoede.

Hierdie krisisse het die Joodse Christene baie negatief gemaak. Dit het daagliks hulle vreugde gesteel, en hulle neerslagtig en depressief gemaak. Hulle het om uitkoms gebid, maar beleef dat die Here nie hulle gebede beantwoord nie. Meer as een het seker tot die oortuiging gekom dat dit niks help om te bid nie. “God stel nie daarin belang om my te help nie! Wat help dit in ieder geval om te bid?”. Die lewe is vir hulle ’n donker prentjie.

Jakobus sien egter die prentjie anders.

Hy wéét dat God nie teen die Joodse Christene-in-krisis is nie. Inteendeel, Hy is vir, mét en sáám met hulle midde in die krisis. Krisisse is deel van die lewe.

Wanneer God met Sy kinders ’n pad stap, is krisisse onafwendbaar. Maar, Hy gebruik hierdie krisisse tot voordeel van Sy kinders.

Daarom is ’n krisis in die lewe van die Christen altyd tot sy eie voordeel en nie tot sy ewige nadeel nie. Wanneer die Christen werklik besef dat sy Hemelvader vir hom/haar baie lief is en van elke minus ’n plus maak (Romeine 8:28), dan is ’n krisis, hoe onmoontlik dit ookal mag klink, ’n rede tot blydskap en nie tot swartgalligheid nie. Vertrou jou Vader dwarsdeur die krisis. Deurdat jy hom vertrou tot die krisis uitgewoed is, sal jyself oorvloedig verryk wees. ’n Krisis waarin God is, is ’n bron van vreugde, want na die krisis is jy ’n meer gelouterde en gesuiwerde mens.

Die vraag van die dag:

In jou situasie nou….wat is jou gemoedstoestand?

Die vraag is “hoe reageer die Christen met blydskap in ‘n krisis?“.

Gebed:

"Heilige Gees, help my om in my krisisse U te beleef as my getroue Vader. In Jesus naam. Amen"

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page