top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag

Johannes 16: 23,24 “Dit verseker Ek julle: Wat julle die Vader ook al in my Naam sal bid, sal Hy vir julle gee. Tot nou toe het julle nog nie in my Naam gebid nie. Bid, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.”

Gebedsverhoring

"Hoor die Here my werklik?" “Verhoor die Here nog my gebede?” “Dit voel nie altyd so nie”

“Is jy ’n moedelose bidder? Behalwe dat die Skrif vir ons leer om te “bid sonder ophou”, is daar baie redes waarom Christene nie moedeloos moet word om te bid nie. As jy ophou bid gaan jy so baie van God se wonders in jou lewe mis.

Dis waaraan Johannes 11 my herinner. Lasarus is terminaal siek. Tussen Jesus en Lasarus bestaan ’n mooi verhouding. Toe sy twee susters bemerk dat Lasarus se einde baie naby is, het hulle Jesus dringend versoek om hulle dadelik te kom besoek.

Sê nou Jesus het dadelik gekom, sou Hy hom waarskynlik genees het…..soos Hy baie ander genees het. Hoeveel mense sou hieroor regtig opgewonde gewees het?

Vir Lasarus is dit egter “te laat”. Hy sterf en word begrawe. Jesus talm doelbewus en kom eers 4 dae later in Betanië aan. Toe Jesus versoek dat die grafsteen weggerol moet word, het Marta vir Jesus gesê: “Here, hy ruik al, want hy is al 4 dae dood.” Lasarus is morsdood, daaroor bestaan geen twyfel nie. Hy is nie in ’n skyndood nie, want hy ruik al.

Nóu tree Jesus genesend op en ‘n groot wonderwork vind plaas. Hy wek Lasarus op uit die dood!

Die gevolg? Baie van die Jode wat na Maria gekom het, het in Jesus begin glo.

Daar vind ‘n wonderwork plaas deur God se krag. God gee dit.

Almal is bewus dat God hier ingegryp het en so kom baie tot geloof.

Ek hoop jy verstaan waaroor dit gaan.

Jesus het die versoeke van Marta en Maria nie verhoor nie. Hy het ’n groter prentjie en ’n beter gebedsverhoring in gedagte gehad. Wanneer die Vader jou en my gebede nie verhoor soos wat ons dit wil hê nie, dan doen Hy dit omdat Hy iets veel beter, mooier en groter in gedagte het! Moenie twyfel aan Jesus se innige liefde vir jou nie!

Wanneer ons beleef dat die Here nie ons gebede verhoor soos ons dit vra nie, moet ons nie moedeloos en ongelowig raak nie. Inteendeel, dan moet ’n nuwe geloofsverwagting by ons intree. Ons mag vir die Vader enige iets vra in die Naam van Jesus. Ons vrymoedigheid om ons behoeftes aan Hom bekend te maak, moet nooit minder word nie.

Bid met groter erns en vrymoedigheid. Klik op en lees Hebreërs 4:16

Marta en Maria sou nie so hartseer gewees het indien hulle al heel aan die begin Jesus se waarborg ter harte geneem het nie. Hulle het Jesus nie gehoor nie. Al wat hulle gehoor en gesien het, was hulle sterwende broer!

Hoor wat sê Jesus in Johannes 11:4; “Toe Jesus dit hoor, het Hy gesê: “Hierdie siekte sal nie op die dood uitloop nie maar op die openbaring van die wonderbaarlike mag van God sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word.”

Julle gebede sal verhoor word maar op God se tyd. Lasarus sal lewe! Die Vader sal verheerlik word!

Jesus sal verheerlik word! So moes Maria en Marta ook leer:

God gee nie altyd presies soos ons vra en verwag nie. Hy gee vêr bo wat ons gedink of gebid het.

Jesus het ons innig lief al voel dit vir ons asof Hy baie vêr weg is.

Gebed: “Heilige Gees, help my om te hoor en te glo wat U vir my in U Woord sê. In Jesus naam. Amen”

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page