top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Gevaarpunt 11 : Uitbuiting (1)


Jak 5:1-3 – “En nou, julle rykaards, kerm en kla oor al die swaar wat oor julle gaan kom. Julle rykdom sal tot niet gaan en julle klere sal deur motte opgevreet word, julle goud en silwer sal verroes. Die roes sal teen julle getuig en aan julle vreet soos ‘n vuur. Julle maak skatte bymekaar, en dit terwyl dit die laaste dae is.”


Vergelyk ook Luk 12:15 – Jesus sê vir hulle: “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ‘n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie.”


Dit is opvallend dat die gevare van rykdom wat oneerlik bekom of verkeerdelik aangewend word, vir die derde keer onder die loep kom. Jakobus betrek die “rykaards” weer en nogal met skerp woorde. Eers word die rykes tot nederigheid gemaan op grond van hul eie verganklikheid (1:9-11); daarna beskuldig hy hulle van verdrukking en vervolging van die armes en vermaan hy die gemeente om nie voorrang aan hierdie tipe rykes in die gemeente te gee nie (2:1-13). Nou beklemtoon hy amper op ‘n krasse en verwytende manier, die verganklikheid van hul rykdom.


Jakobus veralgemeen hier heel waarskynlik nie teenoor alle rykes nie, en hy probeer ook nie die armes teen hulle opsweep nie. Hy verwys na ‘n spesifieke klas rykes wat heel moontlik in ’n samelewing funksioneer wat nog nie kon onderskei tussen Christene en nie-Christene nie, wat alleen in die konteks van die beskuldiging gestalte kry. Hulle wanpraktyke van uitbuiting word uitgewys en hulle sal die regmatige oordeel ontvang, wanneer “al die swaar oor hulle gaan kom.” Dit is dán dat hul “rykdom tot niet sal gaan en hul klere deur motte opgevreet sal word.”


Die beeld wat Jakobus hier gebruik is veelseggend. Die rykes wat hulle mag, status, voorregte en vertroue vir die toekoms bou op hierdie rykdom, word nou ontmasker as waardeloos. Motte vreet net klere wat nie gebruik word en in kaste hang of laaie onnodig volmaak. Volgens Christen tradisie word klere wat nie gebruik word nie vir armes gegee. Dit is juis wat Jakobus as voorbeeld gebruik het dat Christene hul geloof so moet bewys (2:15-16). Hul weelderige oormaat wat hulle vir hulself toegeëin het, word gereduseer tot niks en hulle word heeltemal van die nut daarvan gestroop!


Sy tweede beeld dat “hulle goud en silwer sal verroes,” was ‘n bekende beskrywing wat gebruik is om vernietiging van tydelike aardse dinge aan te toon. Goud en silwer kan nie roes nie maar dit is weer ‘n aanduiding dat dit oortollig is en beskikbaar is om weg te gee aan behoeftiges. (Destydse swaarmetale het nog baie onsuiwerhede bevat wat oksidering veroorsaak het.) Dit is inderdaad ‘n verwyt dat die mense aardse skatte bymekaar gemaak het – “Wie op sy rykdom staatmaak, kom tot ‘n val, wie reg doen floreer soos groen blare (Spr 11:28). Hulle het dus hulle sekuriteit alleen gebou op hulle rykdom en geld wat te helder skitter, mag dalk “blindheid” veroorsaak sodat God nie in afhanklikheid raakgesien word nie.


Die probleem is dat hulle “skatte bymekaar maak, en dit terwyl dit die laaste dae is.” Die skatte word nie vir die koninkryk van God bymekaar gemaak nie! Hulle verhouding met die Here oorleef nie die tyd van die eindoordeel nie wat natuurlik die finale vernietiger van alle dinge is – soos aardse rykdom: “Want as hulle sterf, neem hulle niks saam nie; hulle besittings sal hulle nie volg nie” (Ps 49:18)


“Dit verg nie baie geld om tussen jou en God te kom nie. Dit moet net op die verkeerde plek geplaas word om God se beeld te belemmer” (A.W. Tozer).


Gebed: Hemel Vader, vergewe ons wanneer ons dink dat baie besittings en veral baie geld, ons meer vryheid gee. Baie van ons hou vas aan die verslawing van materialisme en dink dan hoe meer ek het, hoe meer wil ek nog hê. En Here, terwyl ons hierdie aardse “skatte bymekaar maak” vergeet menigte van mense hulle afhanklikheid van U want hoe meer die arms van mag, uitbuiting en selfvertroue in die lug swaai, hoe duideliker klink die juwele wat hulle gevange hou. “Die roes getuig teen hulle en vreet soos ‘n vuur" want hulle het die uur van U verlossing nie gemerk nie en dit het geen verskil aan hulle prioriteite gemaak nie. Daarom wil ons bid Here dat hulle die ewigheidswaardes van U koninkryk sal besef en daarvolgens handel. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page