top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Week 6 – Dissipelskap is nie so duur soos jy dink nie .... dis duurder! (2)


Markus 10:17 en 21b – “Net toe Jesus uit die huis uitkom om verder te gaan, kom daar iemand aangehardloop. Hy val toe voor Hom op sy knieë en vra Hom: ‘Goeie Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?” ...... V 21b – “gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir armes, en jy sal ‘n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My!”


Wil Jesus hiermee te kenne gee dat 'n mens al jou besittings moet verkoop as jy Hom wil volg? Dan is nie een van ons regtig 'n volgeling van Jesus nie! Nee, Jesus het hom getoets om te kyk waar sy hart is. Jesus wou seker maak sy besittings het nie tussen die ryk jongman en die Here gestaan het. Die jongman het gefaal, sy rykdom was vir hom belangriker as enigiets in die wêreld – belangriker, selfs, as die hunkering in sy hart na die ewige lewe.


Hier staan die jongman voor Jesus: 'n belangrike kêrel, welgesteld, volgens die standaarde van sy tyd 'n goeie mens wat al die wette onderhou… maar tog iemand met 'n knaende onrus in hom en 'n verlange na die ewige dinge. Jesus kyk dwarsdeur die dun vernis van belangrikheid en rykdom en Hy sien die soekende hart raak. En Hy kry die jongeling lief. Op daardie oomblik het die jongman baie naby aan die koninkryk van God en die ewige lewe gekom. Die jongman het ‘n armlengte van die koninkryk gekom – tot by die groot toets. Hoe is dit gesteld met sy verhouding tot God? Is God regtig vir hom God, kom God vir hom eerste in sy lewe?


Die ryk jongman was goed bekend met die Skrif en gebooie van God. Sy morele lewe was uitstaande. Sy reaksie egter op Jesus se uitnodiging sou beteken om aanpassings in sy lewe te maak. Daardie aanpassings sou beteken dat hy homself feitlik moes kaal stroop om ‘n dissipel van Jesus te word – en dit was duurder as wat hy gedink het!


Wanneer God met ons praat, beteken dit ons sal moet aanpassings maak. Ons geloofslewe sal nie net meer ‘n verstandskennis wees van God nie maar ‘n geloof dóén. Geloof sonder dade is dood (Jak 2:17). Hoe dóén ons geloof? Eenvoudige taal: Ons gaan kerk toe, ons bestudeer die Bybel en ons bid! Elke keer wat jy kerk toe gaan is dit om as gelowiges, geestelik nader aan mekaar te groei. Die kerk word vergelyk met die liggaam (1 Kor 12:12-31). As deel van die “liggaam” het elke gelowige ‘n taak (v 27). Waarby sal jy betrokke wil raak in die gemeente of is dit beter om as “passasier” op die kantlyn te sit en te kritiseer? Elke keer as jy jou Bybel lees, moet jy bereid wees om wat God vir jou sê, te gehoorsaam. Elke keer wanneer jy bid, moet jy bewus wees dat as God jou gebed beantwoord en Sy wil vir jou openbaar, dit onmiddellik sal vereis dat jy jou lewe herinstel.


Dissipelskap is ‘n keuse – “Dit is nie so duur soos jy dink nie .... dis duurder!” Jesus het Sy dissipels van destyds so opvallend gebruik en hul wêrelde omgekeer. Ander soos die ryk jongman, is daar nooit weer van gehoor nie. Die dissipels het gekies om te glo en hulle geloof is deur hul gehoorsaamheid bewys. Die ryk jongman was nie bereid om gehoorsaam te wees nie en hy het “bedruk” weggegaan. Elkeen word gelaat met sy eie keuse. Watter aanpassings is jy gewillig om te maak om positief op Christus te reageer? Waar is God in jou lewe?


“Die verlossing in Christus is absoluut gratis, maar die dissipelskap wat dan volg, kan jou lewe kos” (Dietrich Bonhoeffer).


Gebed: Hemel Vader, dankie dat U ons geskep het om een of ander taak vir U te verrig. U het ons geroep en ‘n besonderse taak aan elkeen toevertrou – elkeen is ‘n skakel in ‘n ketting wat mense moet verbind. Here, weerhou ons daarvan om halfpad-dissipels te wees – dissipels wat net so nou en dan miskien op ‘n Sondag ‘n tydjie afknyp om aan U te bestee. Skenk ons die genade om elke oomblik, daar waar ons onsself bevind, U opdragte uit te voer. “Ons is tot alles in staat deur U wat vir ons krag gee” (Fil 4:13). Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page