top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Week 5 – Hoogmoed kom tot ‘n val (5)


Luk 18:11-14 – ”Die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: ‘O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers en ook nie soos hierdie tollenaar nie......’ V 13 – Maar die tollenaar het daar ver bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my, sondaar, genadig.’ Ek sê vir julle: ‘Hierdie man, en nie die ander een nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is.”


Vergelyk ook Matt 6:5 – “Verder, as julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie. Hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die straathoeke te staan en bid sodat die mense hulle kan sien. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg.”


Jesus stel hier die vroomheidsvertoon van die skynheilige voor tydens die openbare gebed. Wanneer een van die vaste gebedstye aanbreek (Hand 3:1), kon ‘n Jood behalwe in die tempel, ook “in die sinagoges en op die straathoeke” bid. Twee mense gaan dieselfde ding doen. Hulle gaan op dieselfde uur van die dag na dieselfde plek. Beide tree die tempel-voorhof binne en beide doen 'n gebed. Daarna gaan albei weer huiswaarts. En tog, wat hulle gedoen het, was nie dieselfde nie.


Die Fariseër rek sy gebed uit. Oor homself is daar immers baie te sê. Nadat hy God gedank het vir wat hy nie is nie, gaan hy voort om die Here mee te deel wat hy wel is. Hy is getrou in die waarneming van al sy godsdienstige verpligtinge. Voortgaande noem die Fariseër die ergerlike en openlike sondes van sy tyd – trouens, van alle tye – en handel hierin volgens die gebruik van sy geesgenote: hy verklaar dat hy van geen oortreding weet nie. Hy is ook beter as die veragtelike tollenaar wat daar op 'n afstand staan – ‘n gelukwensing aan homself as godsdienstige mens. Daarteenoor verskyn die tollenaar in die bewustheid van sy sonde en onwaardigheid. Hy het byna nie die vrymoedigheid om God aan te spreek nie.


Die Jode het ten minste drie keer per dag sekere tye afgesonder om te bid. Maak nie saak waar hulle hul bevind het nie, op daardie spesifieke tye het hulle gestop, met uitgestrekte arms na bo gerig, hoof geboë en gebid dat almal om hulle kon sien en hoor. God was beperk tot hulle tye.


Jesus kom stel die orde reg. Hy waarsku teen gebede wat gebid word om ander mense te beïndruk, “hulle het hulle beloning klaar weg.” Hy kyk, luister en weet wat die motief van die gebed is. Dit vorm deel van ons liefde vir God – ons gretigheid om onder andere met Hom alleen te wees. Daarom is gebed nie ‘n formaliteit nie of ‘n hoogmoedige vertoon nie, maar ‘n liefdeshandeling tussen ons en God.


Wanneer ek dan bid, dink ek meer aan die mense om my wat my gebed hoor, of aan God? Is ek ‘n toeskouer van my eie opvoering? Bid ek meer dikwels en vurig wanneer ek in ‘n gehoor is of wanneer ek alleen is met God? Neem ek my gebed na God toe of na mense toe? Beperk ek God tot ‘n sekere tyd op Sondae (Hand 3:1), asof die God van HEMEL EN AARDE net dáár is en ook net op dáárdie tyd? Wat is my motief wanneer ek bid? Gaan dit oor my of oor God? Sulke gebede is nie werklik tot God gerig nie, dan het ek my “beloning klaar weg.”


Hoe bid ek? Bid ek om God in pas met my te bring, soos die Fariseër, of om my met God in pas te bring, soos die tollenaar. Maak ek tyd om vir God te luister wat Hy vir my wil sê of raak ek ongeduldig wanneer ek nie dadelik ‘n antwoord kry nie – altyd haastig om by my besige skedules uit te kom? Word ons bewus van Sy teenwoordigheid by ons, of konsentreer ons net op ons eie behoeftes? Is my aanbidding ‘n saak van gerief of as gewete, ‘n behoeftebevrediging eerder as diens? Gaan ek met bogenoemde nie dalk “huis toe as iemand wie se saak met God nié reg is nie?”


“Egte gebed is om jou eie behoeftes te laat inval by God se wil vir jou. Nie andersom nie” (J. Swift)


Gebed: Ons Vader in die hemel, en ook hier op die aarde. U wag om van ons te hoor en ons het soms so baie om te sê, veral wanneer dit by vraetyd kom. Ons konsentreer so op ons eie behoeftes en het nie altyd tyd om na U te luister nie. En ja, soos U weet, ons het ook nie altyd tyd om met U te praat nie, te besig met ons eie dinge en U verstaan mos, al daardie besige skedules .... Ag! Verskoon tog Here, ek moet alweer gaan, ons praat weer later. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page