top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Week 5 – Hoogmoed kom tot ‘n val (1)


Luk 18:9-14 – “Met die oog op mense wat seker was dat hul eie saak met God reg is en wat op ander neergesien het, het Jesus hierdie gelykenis vertel: ’Twee mense het na die tempel toe gegaan om te bid. Die een was ‘n Fariseër en die ander een ‘n tollenaar. Die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: Ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers en ook nie soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week en ek gee ‘n tiende van my hele inkomste.’ Maar die tollenaar het daar ver bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my sondaar genadig.’ Ek sê vir julle: ‘Hierdie man, en nie die ander een nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word.”


Twee weke gelede het Jesus ons op die noodsaaklikheid van die volgehoue gebed gewys en ons gemaan om soos die weduwee in Sy storie, nooit tou op te gooi met gebed nie (Luk 18:1-8). Hierdie storie van Jesus is egter gerig teen mense wat geestelik hoogmoedig is en gaan Hy hier voort om aan te toon dat daar ‘n groot verskil is in die gehalte van gebede. Ons eerste reaksie sal wees dat God immers na elke gebed luister want dit is ons antwoord aan Hom, maak nie saak hóé ek bid nie. Al gebruik ek nie “fancy” woorde nie, is dit steeds om God te loof en om met smeking vir dit wat verkeerd is op aarde, by God in te tree. God hoor en luister daarna en buitendien vorm die Heilige Gees my stamelende woorde tot hemeltaal.


Die Fariseër en die tollenaar verteenwoordig die twee uiterste groepe in die Joodse volkslewe: dié wat in hulle eie oë godsdienstig onberispelik was en wie se hoofdoel was om die wet van Moses te handhaaf – die “goeie en gróót Christene,” teenoor dié wat in almal se oë, ook hulle eie, godsdienstig die uitgeworpenes was – die slegte mense wat sosiaal en godsdienstig nie aanvaarbaar by Christene is nie. Beide het behoefte om na die tempel te gaan op die gereelde gebedstyd en daar ’n gebed te doen.


Die Fariseër tree vol selfvertroue vorentoe en bid lank en dank God dat hy beter is as die ander mense wat hulle aan erkende wandade oorgee. Deur met oordrewe nougesetheid allerlei uiterlike handelinge uit te voer, het die Fariseër gemeen dat hy goeie grond gehad het om homself voor God aan te prys en vir God te herinner aan sy verdienste. Die Here behoort op so ’n verdienstelike man te let.


Daarteenoor verskyn die tollenaar in die bewustheid van sy sonde en onwaardigheid. Hy het byna nie die vrymoedigheid om God aan te spreek nie. Net een bede kom oor sy lippe: ’n noodkreet uit die hart. Hy beroep hom in nederige afhanklikheid net op één ding: God se suiwer onverdiende genade. Daar is hoegenaamd geen verdienste of goeie werke waarop hy hom kan beroep nie; hy is ’n openbare oortreder van die wet. Daarom gee hy hom oor aan die genade van God.


Die Fariseër pleit nie om God se genade nie want hy aanvaar dat hy vanweë sy goeie optrede, gered is, terwyl die tollenaar egter sy leë self aan God offer. Jesus verras Sy hoorders dat dit die tollenaar se gebed is wat byval vind by die Here. Hy kan huis toe gaan met die sekerheid in die hart dat sy sonde vergewe is en hy die lewe deelagtig geword het. Hy het die geregtigheid verkry wat God aanbied. Maar die Fariseër wat gedink het hy kan God se goedheid verdien deur in eie geregtigheid voor God te staan, het geen belydenis van sonde gedoen nie en ontvang ook geen vergifnis nie.


“Solank hoogmoed in ‘n mens se hart woon, kan jy God nie sien nie” (C.S. Lewis)


Gebed: Here, wanneer ons vasklou aan ons vernaamheid en ons ego só groot raak dat ons God nie meer raaksien nie, wys ons deur ons geestesoog, hoe U besig is om U dissipels se voete te was. Dankie Here dat ek nie hoef te twyfel of U na my gebed luister nie. Al ken ek my swakhede en weet ek wie ek is, weet U dit ook en daarom luister U wanneer ek in afhanklikheid tot U bid. Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page