top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Week 4 – Dis net ‘n skurk wat nie vergewe nie (4)


Matt 18:21-35 – Daarna het Petrus na Jesus toe gekom en gevra: “Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer?” Jesus antwoord hom: “Ek sê vir jou, nie sewe keer nie maar selfs sewentig maal sewe keer.”


Vergelyk ook Matt 6:12 – “En vergeef ons ons oortredinge soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree.”


Jesus skilder in hierdie gelykenis ‘n prentjie van verskillende verhoudinge. God het die wêreld geskep vir vergifnis, genade en liefde. Ons is aanmekaar geweef deur ‘n God van genade en liefde en vergifnis en daarom verwag Hy dat ons dit verder sal uitleef en sal aangee aan ander. Net soos ons daarna smag dat ander ons so sal behandel, smag hulle ook na ons genade, liefde en vergifnis. Daarom het Jesus hierdie konsep ook in die “Onse Vader” gebed ingebou sodat ons dit elke keer kan bid wanneer dit nodig is - “En vergeef ons ons oortredinge soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree.”


Die behoefte aan sondevergifnis is seker een van die dringendste behoeftes by elke mens. Wat egter treffend is, is dat Jesus ons leer om vir ander se oortredinge ook te bid. Soms voel dit asof ons eie oortredinge só baie is dat daar nie nog tyd is om God met ander se probleme ook op te saal nie. Hulle kan mos maar self vir hul eie skuld by God instaan. Buitendien, ons kan mos nie sommer enigiemand saam met ons in die beskuldigdebank intrek nie. Ons moet egter onthou dat Jesus steeds die Fariseërs wat ek-gesentreerd is in konteks gebruik. Hul bedes was ter wille van hul eie skuldvergifnis en nie ter wille van die Vader en Sy koninkryk nie. Ons moet dus onselfsugtig bid vir ons broers en susters, m.a.w. vir die kerk wat in skuldnood verkeer.


Waarom moet ek nog bid vir sondevergifnis en om ander te vergewe? Jesus is ons sonde-offer en Hy het mos klaar daarvoor aan die kruis betaal: “Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees” (2 Kor 5:21). Ons móét terug na God se troonkamer toe en bid vir sondevergifnis want dit is nodig. Daardie versoening wat ons in Christus reeds ten volle besit, moet ons daagliks weer vir ons toeëien en aan ander aangee. Ons sondig steeds daagliks, selfs daarvoor het Christus reeds betaal, maar ons moet tog om dié genade dat hy dit ook sal vergewe, elke dag bid. Ons word selfs in sonde gebore en ons hele lewe is ‘n proses van heling. God is daardie gom wat die heling bewerkstellig wanneer ons daarvoor vra!


Vergun my ‘n retoriese vraag: “Ek wonder hoeveel mense het al Matt 6:14-15 mooi en stadig gelees sodat dit insink?” Ons vra God om te vergewe soos ons vergewe! SIDDEREND!Maar Here .... Ek het geen skuld daaraan nie!” “As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe” (Matt 5: 23-24). Daar staan nie: “en dit jou byval dat jý iets teen jou broer (suster) het nie, maar “dat jou broer iets teen jou het.” Jesus se opdrag is dat moet gaan versoen. Vergifnis se antwoord is nie 70 x 7 wat gelyk is aan 490 nie, dit is onbeperk, onophoudelik en onvoorwaardelik! Henry Ward Beecher het ‘n verskriklike groot waarheid kwytgeraak: “Elke mens behoort ‘n redelike groot kerkhof te hê waar hulle hul naaste se foute kan begrawe.”


“Genade verander Eksodus na Genesis” (Onbekend)


Gebed: Ons Vader, ons grootste skuld is ons onvermoë om soos U te kan vergewe. Here, hoe kan ons vergifnis verwag as ons nie kan vergewe nie en dit terwyl U dit onlosmaaklik gekoppel het aan die sekerheid van U vergifnis? Ag Here, as ons net effens te na gekom word of selfs iemand na aan ons beledig ons, soek ons vergelding eerder as vergewing. Ons veroordeel so graag en so gou. Vader, vergewe ons en lei ons om soos U te kan vergewe. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page